Skip to main content

Cyril steeds stil oor Phala Phala

President Cyril Ramaphosa het gister in die parlement geweier om vrae oor die rooftog by sy Phala Phala-wildplaas te beantwoord. Hy voer aan dat “behoorlike prosesse” gevolg moet word aangesien ‘n aantal wetstoepassingsagentskappe die saak ondersoek.

Ramaphosa het herhaaldelik aan die Nasionale Vergadering gesê hy is gereed om alle vrae te beantwoord en ’n verduideliking aan die parlement te gee, maar dat hy afgeraai word om dit te doen.

Opposisie-LP’s het Ramaphosa se verklaring eenparig verwerp en gesê hy moet verantwoording doen aan die parlement.

Julius Malema, EFF-leier, het gesê hy vind dit vreemd dat Ramaphosa bereid is om aan ander agentskappe te antwoord en nie aan die parlement, die liggaam aan wie hy verantwoording doen nie.

SA word al hoe gevaarliker

Al hoe meer Suid-Afrikaners voel onveilig in hulle eie buurte.

Volgens ‘n verslag wat gister deur die statistiek-generaal, Risenga Maluleke, vrygestel is, het die persentasie volwassenes van 16 jaar en ouer wat veilig gevoel het om bedags alleen in hul woonbuurte te loop, van 84,8% in 2020 afgeneem tot 81,3% in 2021/22.

Vroue het meer onveilig gevoel as mans wat alleen loop as dit donker is. Aan die ander kant het mense in landelike gebiede ‘n groter gevoel van veiligheid gehad as hulle na son-onder alleen in hul woongebied loop as mense in stedelike gebiede. Die gevoel van veiligheid gedurende die dag in landelike gebiede het van 70,4% tot 65,2% in 2021/22 afgeneem.

Terwyl aangemelde moorde met 7% afgeneem het, het aanranding met 70% toegeneem met sowat 213 000 huishoudings wat die afgelope vyf jaar aanranding ervaar het.

Seksuele misdrywe het met 28% toegeneem vanaf die vorige jaar met sowat 32 000 huishoudings wat hierdie tipe misdaad gedurende die afgelope vyf jaar ervaar het.

Gorbatsjof sterf op 91

Mikhail Gorbatsjof, die Russiese leier wat die Koue Oorlog beëindig het, is gister in die ouderdom van 91 oorlede, het hospitaal-amptenare in Moskou gesê.

Gorbatsjof, die laaste Sowjet-president, het ‘n sleutelrol gespeel om die Ystergordyn wat Europa sedert die Tweede Wêreldoorlog verdeel het te verwyder en die hereniging van Duitsland te bewerkstellig.

Bokspan lyk heeltemal anders

Die Springbok-afrigter, Jacques Nienaber, het ingrypende veranderinge aan die span gemaak wat Saterdag in Sydney teen die Wallabies speel.

Canan Moodie sal sy buiging op regtervleuel maak, en Handré Pollard, Lukhanyo Am en Pieter-Steph du Toit is op die bank weens kniebeserings. Elton Jantjies sukkel met ‘n handbesering, wat beteken Damian Willemse skuif van heelagter na losskakel.

Jesse Kriel sal op senter inskuif en Franco Mostert is by die lostrio ingesluit.

Die Springbokspan is: Willie le Roux; Canan Moodie; Jesse Kriel; Damian de Allende; Makazole Mapimpi; Damian Willemse; Jaden Hendrikse; Jasper Wiese; Franco Mostert; Siya Kolisi (kaptein); Lood de Jager; Eben Etzebeth; Frans Malherbe; Malcolm Marx en Steven Kitshoff. Plaasvervangers: Deon Fourie; Os Nche; Trevor Nyakane; Kwagga Smith; Duane Vermeulen; Cobus Reinach; Frans Steyn en Warrick Gelant.

Nienaber sal Saterdag onder baie druk wees. As hoofafrigter kon hy nog net 11 oorwinnings uit 19 wedstryde behaal. Sy suksessyfer van 57 persent plaas hom ongemaklik naby aan Springbokrugby se mees onderpresterende afrigters.

Leave a Reply