Skip to main content

 

Krygsgevangenekuns in die Anglo-Boereoorlog

Vicky Heunis

Heelwat is al oor die Anglo-Boereoorlog (1899–1902) geskryf. Tog bestaan slegs enkele publikasies wat handel oor die tema van die spesiale kuns wat deur Boerekrygsgevangenes tydens diė oorlog geskep en vervaardig is.

In hierdie boek word die onderwerp van krygsgevangenekuns vanuit ʼn kultuurhistoriese perspektief belig. Daarin word breedvoerig uitgebrei op die motiverings waarom die kuns vervaardig is, die gereedskap waarmee en beskikbare roumateriaal waarvan dit vervaardig is, die spesialisvakmanne wat verantwoordelik was vir die vervaardiging daarvan, watter tipe voorwerpe gemaak is, die simboliek en inherente betekenis wat die voorwerpe inhou, asook die verspreiding en vestiging van afsetgebiede vir die verkoop en uitstalling van Boerekrygsgevangenekuns.

Gedurende die outeur se kinderjare het sy reeds ‘n spesiale liefde vir museums aangekweek. Sy het aan die Universiteit van Pretoria gestudeer waar sy ʼn BA-graad in Erfenis- en Kultuurtoerisme (2002), ʼn honneursgraad in Erfenis- en Museumstudie (2004) en ‘n meestersgraad in Kultuurgeskiedenis (2008) behaal het.

Van 2002 tot 2008 was sy die Argief- en Museumversamelingsbeampte by die Voortrekkermonument en Erfenisstigting. In 2008 verhuis sy saam met haar gesin na Bloemfontein en is sedert 2009 die Versamelingsbestuurder by die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke. Die outeur en haar wederhelfte deel hulle belangstelling in die Anglo-Boereoorloggeskiedenis en lewer dikwels by historiese herlewings in periodiese kleredrag demonstrasies. In 2020 behaal sy haar doktorsgraad in Geskiedenis aan Tukkies.

Diė geskiedkundige hardeband-boek is vir enigeen wat in die Tweede Vryheidsoorlog belangstel, asook in die Suid-Afrikaanse volkskuns en Africana. Dit is ’n pragtige geskenk vir liefhebbers van oorlogsgeskiedenis en kuns – ’n versamelstuk wat met trots op enige boekrak sal pryk.

Leave a Reply