Skip to main content

George April

Met Vrouemaand wat die einde nader, beweer twee vroue van Vredenburg dat hulle onregverdig geviktimiseer word deur van Saldanhabaai Munisipaliteit (SBM) se amptenare.

Volgens diė twee vroue volg die viktimisasie hulle klagtes in die media oor die speaker in die munisipale raad se onmanierlike optrede.

Die Waarheid het onlangs berig oor Olween Daniels, speaker van die SBM, wat na bewering haar buurmense,  Marean en Rose-Ann Johnson, uitgeskel en gevloek het. Dit was nadat die vroue blykbaar gekla het oor laataand se harde musiek vanuit Daniels se erf.

“Na die berig het ek ‘n R5 000 dagvaarding ontvang oor bouregulasies wat ons blykbaar verbreek het. Hier was nie eers ‘n bouinspekteur by ons om die prosedure te verduidelik nie,” vertel Marean. 

“Geld die reëls nou net vir ons, omdat ons een aand kapsie gemaak het oor die harde musiek?

“Ons lewe al vir jare met die harde musiek vanuit Daniels se erf, maar daardie aand was my suster se baba siek, daarom wou ons hê dat hulle die musiek sagter sit.  

 “Rose-Ann bly al meer as 16 jaar in die Wendyhuis, en boonop is sy al 20 jaar op die RDP behuising se waglys.

“Daar was al hoeveel RDP-huise intussen hier gebou, maar my suster kon nog nooit gehelp word nie. Nou verwag hulle ons moet haar Wendyhuis afbreek?

“Om alles te kroon, voldoen die speaker wat die klagtes maak, se strukture in haar erf nie aan die bouregelasies nie. Haar een hok se plate hang sommer oor in ons erf, wat vir ons ‘n probleem sal skep sou daar ‘n brand uitbreek.” 

Alhoewel die SBM se munisipale bestuurder, Heinrich Mettler, medianavrae beantwoord het, is die vrae rondom die speaker se onwettige strukture geïgnoreer.

“Saldanhabaai Munisipaliteit het op 13 April 2022 ‘n formele klagte ontvang wat by sy Boubeheerafdeling ingedien is, toe ‘n onwettige struktuur langs die grensmuur by Violastraat 11, Louwville in Vredenburg aangemeld is.

 “Die munisipaliteit hanteer sulke klagtes van geval tot geval.”

‘n Strafsaak is hangende teen die eienaars vir die oortreding  van die Nasionale Bouregulasies vir die oprigting van ‘n onwettige struktuur, sonder die goedkeuring van die Boudepartement soos deur die wet vereis word. Dit is steeds sub judice.

“Die munisipaliteit het geen boetes uitgereik nie, aangesien alle boetes wat met hierdie oortreding verband hou, deur ‘n landdros van die betrokke hof goedgekeur moet word.

“’n Vergadering tussen mev. Johnson en die uitvoerende burgemeester van die SBM het op 25 Julie 2022 in die kantore van die burgemeester in Vredenburg plaasgevind.”

Die Waarheid is in besit van ‘n klagstaat dat Marean reeds op 23 Junie 2022 ‘n saak oor die vloekery teen die speaker gemaak het. Vredenburg se polisiewoordvoerder beantwoord egter ongelukkig nie die navrae van Die Waarheid om hierdie klag te bevestig nie.

Leave a Reply