Skip to main content

 

Reeks: Engel-in-aksie

C.J. Langenhoven het gesê: “Moenie by die hemel gaan soek na die engele nie, gaan soek by die engele na die hemel.” In hierdie reeks gee ons erkenning aan sulke mense wat in die gewone gang van sake ‘n wesenlike verskil maak. Lesers is welkom om details van Aardsengele aan ons deur te gee vir ‘n kroonkransie in hierdie reeks.

Calvin bederf pasiënte met prima-kliëntediens

Sonnette Lombaard

Dis ‘n gewone weeksdag en jy verkeer in pyn met ‘n gebreekte gewrig en meld vir X-strale aan. By die ontvangs van die moderne stadshospitaal se radiologie-afdeling groet ‘n frisgeboude man jou vriendelik agter die toonbank. Wat gaan volg, is die uitspeel van buitengewone menswees in aksie in die gewone gang van die lewe.

Boonop geskied diė ster-kliëntediens by ‘n plek waar jy juis ‘n bietjie pamperlang verlang! Rosebank Hospitaal se radiologie-afdeling op die grondvloer was waar ek moes aanmeld. Calvin Franklin het daai dag die eerste ontvangstoonbank beman … en was Langenhoven se spreekwoordelike Aardsengel op my Dinsdagdraaie! ‘n Jong een, bygesê – hy het pas sy 30ste verjaarsdag gevier.

Hy het vriendelik verduidelik watter vorms ek moes voltooi. Toe ek ligweg geïrriteerd verduidelik van my seer hand het hy dit kalm namens my voltooi en toe ek inligting kort – dit was ’n besering aan diens – het hy my eposadres gevra sodat hy syne kon stuur vir my om op ‘n geleër tyd dit vir hom te epos. Hy was deurgaans professioneel en niė geïrriteerd nie.

Warm welkom …

Elke pasiënt kom groet Calvin by die naam as hulle klaar is met X-strale. Hulle onthou sy warmte met aanmelding en op sy beurt onthou hy hulle name en die rede waarom hulle daar is. Dan daag ‘n oudpasiënt op, saam met sy vriend, wat hy “gou aan Calvin wil kom voorstel”, siende diė vriend binnekort vir X-strale moet kom …

Calvin se wegspring in die gesondheidsektor loop terug na sy grootwordhuis in Sasolburg in die Vrystaat. As ‘n olike kind, het hy gou hospitale up, close & personal leer ken. ‘n Nare infeksie het gekeer dat sy linkerbeen behoorlik groei. Nie dat dit hom sou stop om vorentoe sy merk as volbloed-mens te maak nie, al moes hy matriek op krukke skryf.

Jung slaap ook nimmer om iemand met ‘n spesiale opdrag raak te eien nie – waar Calvin gebly het, het ‘n rol gespeel. “Ons bure in Sasolburg was afgetree – die vrou was ‘n oud-verpleegster wat saam met my ouma gewerk het, en haar kleindogter het by die Netcare Vaalpark Hospitaal gewerk. Sy het vir my my eerste werk daar aangebied.

“Ek het gou die hospitaalomgewing begin navigeer, alles soos ‘n spons opgesuig.”

Doen goed aan ander

Hy het in verskeie posisies by Vaalpark gewerk, waarna Calvin geskuif het na Mulbarton, toe volg Sunninghill en nou Rosebank Hospitaal. Hy het op 1 April 2022 by Rosebank Radiologie begin. Waar hy getaak is met pasiëntontvangs, oproepe beantwoord, verkryging van goedkeuring vir prosedures, die vasvang van inligting van pasiënte, prosedures en dokters en om te verseker alle partye bestuur die risiko’s reg.

Toe hy by Mulbarton aangestel is, het hy na Johannesburg se suide verhuis en sedertdien maak hy sy bed in die Goudstad op.

Sy lewe se kronkels en kinkels was toe ook duidelik want hy het vir die hospitaal gewerk waar hy eens pasiënt was. “Ek is geopereer in Sunninghill en het bykans sewe jaar daar gewerk.”

Hy maak die optelsom. “Nes die mediese veld my gehelp het, het ek in dieselfde veld opgeëindig en help nou weer ander.”

Hoe behou hy sy deernis binne ‘n omgewing vol pasiënte met pyn, wat soms moeilik is? “Die eerste ding waaraan ek myself herinner is dat enige situasie altyd moeiliker vir iemand anders is.”

Voorts spandeer hy verreweg die meeste van sy tyd by die werk. “So, ek moet dit die moeitewerd maak. Deur konneksies weet hy gewoonlik tydig watter pasiënte moeilik mag wees en/of energie kan tap. “Maar, ek het juis geleer dat die mees moeilike pasiënte diegene is wat agterna dikwels jou die meeste sal prys.

“Die belangrikste bly om my werk so goed moontlik te doen.”

Beroemde pasiënte

Calvin glo sterk daaraan dat “klein ekstras pasiënte op hulle gemak stel”. Dis belangrik om seker te maak “elke pasient se ervaring in my eenheid is positief. As ek my werk goed doen, sal alle partye tevrede wees”.

Hy ken immers net van werk in hospitale. “Dis my werk van reg van die begin af. Ek het al in van die kleinste tot grootste hospitale gewerk.”

Daartydens moes Calvin omsien na van die gewone Jan en San tot diegene bekender en in die kollig. Hoewel werketiek keer dat hy details verklap, kan hy noem hy dat hy die laaste drie presidente van ons land ontvang en mee gesels het.

Hoewel hy van sy werk hou – en dit wys! – het hy in sy grootwordjare ander drome gehad. Sy passie was en is musiek, veral opera waarin hy wyd deur ander as ‘n kenner beskou word. Sy bobaas-operakennis maak hom sedert sy tienerjare ‘n gunsteling op klassieke radioprogramme.

Calvin is gek na alle vorme van musiek, ook ouer musiek en veral koormusiek. Reeds van jongsaf was sy groot droom om ‘n dirigent te wees. Hy het self in ‘n koor gesing en hou ook daarvan om na Carolyn Steyn op Hot 1027 te luister. “Sy doen goeie werk en ek volg haar en die ‘67 Kombers-projek… dit leer ons hoe ‘n klein bietjie ‘n groot verskil maak.”

Hy hoop hy kry weer kans om koordirigent te wees en sy fantasie-wens is om in een van die musiekmekkas soos Wene, Napels, Duitsland, ens. te kan dirigeer, deel hy.

Vir Calvin is sy familielewe belangrik en hy spandeer graag tyd saam met vroulief Leandri en hul tweejarige seuntjie O’Neill, asook ‘n tienerdogter Belinda, wat in hulle sorg is.

‘n Ou siel gebore, is hy gewoonlik omring met ouer mense en erken hy kom beter met hulle oor die weg. Hy hou sy vriendekring klein. “Ek het op harde maniere geleer dat alles is nie altyd soos wat dit lyk nie. Wanneer mense wat my pad kruis, vriende word, beskou en koester ek hulle as familie.”

Floreer só in jou werk …

Calvin wis van sy gawe met mense. “Dit maak werk toe gaan, ‘n daaglikse plesier. Ek pas in die mediese veld in.”

En, hy het drie monde om tuis te voer “so werk ek hard, verdien ek geld om my geliefdes te bederf”.

Hou jy van jou werk, sal jy daarin floreer, glo Calvin. Die lewe het hom geleer om daarna te streef om goed aan en vir ander te doen, ondanks wat.

Calvin Franklin is ‘n man van woord ėn daad, ‘n alledaagse engel-in-aksie. Wanneer hy sy vlerke lig en invlieg, is jy in vir ‘n besondere bederf!

 

 

 

Leave a Reply