Skip to main content

Molefe, Singh in hegtenis

Brian Molefe, voormalige uitvoerende hoof van Transnet, en Anoj Singh, die semistaatsinstelling se voormalige finansiële hoof, is vanoggend in hegtenis geneem in verband met ‘n korrupsie- en bedrogsaak van R93 miljoen wat verband hou met die aankoop van 1 064 lokomotiewe in 2015. Twee ander mense is ook in hegtenis geneem.

70% van alle sigarette is onwettig

American Tobacco Suid-Afrika (BATSA), sê byna 70% van alle sigarette wat in die land gerook word, behoort aan onwettige handelsmerke, wat Suid-Afrika die grootste onwettige tabakmark ter wêreld maak.

Die land het ‘n oplewing in onwettige sigaretverkope beleef nadat streng anti-rookregulasies aan die begin van die Covid-19-grendeltyd in 2020 ingestel is en rokers hulle noodgedwonge tot onwettige sigarette gewend het.

Comrades-deelnemer sterf

‘n Atleet wat tydens gister se Comrades-marathon ineengestort het, het in die Westville-hospitaal gesterf.

Mzamo Mthembu, ‘n lid van die Hollywoodbets-atletiekklub, het in Pinetown ineengestort.

Tete Dijana, wat as sekuriteitswag by die Noordwes-Universiteit se Mahikeng-kampus werk, het die wedloop in 5:30:38 gewen.

Rusland se Alexandra Morozova het die vrouewedloop gewen. Sy is eers op die nippertjie toegelaat om in die A-posisie weg te spring ná ‘n dringende aansoek by die hooggeregshof in Pietermaritzburg.

Die Comrades Marathon-vereniging het haar deelname eers teëgestaan, maar het haar later toegelaat om in die H-groep – heel agter – weg te spring. Regter Rob Mossop het egter beslis dat sy tussen die elite-atlete moes wegspring.

Bok-breier praat oor loesing

Die gefrustreerde afrigter van Suid-Afrika se rugbyspan, Jacques Nienaber, meen verspeelde kanse en hanteerfoute het hulle hul Rugbykampioenskap-wedstryd teen Australië gekos.

Nadat die Aussies ‘n drie in die openingsminuut gedruk het, het die Springbokke Saterdag in die eerste helfte op Adelaide Oval besit oorheers, maar kon nie daarin geslaag om dit in punte te omskep nie en het teen rustyd met 10-3 agtergeloop.

Hulle gebrek aan afronding het bygedra dat hulle die wedstryd 25-17 verloor het.

Nienaber is egter vol hoop en glo die lesse wat die Bokke Saterdag geleer het, sal hulle die komende naweek in die tweede toets teen die Aussies goed te pas kom.

Leave a Reply