Skip to main content

 

Saam lyfwaai in ‘n lyn is lekker

Jeuk jou voete? Trek vir jou ‘n lekker denim aan, sit jou cowboy-hoed op en meld aan by ‘n lyndansklas in jou buurt. Soos in die Bosveld waar dit tans die in-leefstylgier is met oud en jonk wat gereeld saam op ritmiese liedjies laat waai. Charmaine Lourens het by só ‘n dansklas in Mokopane gaan inval.

Ná die onstuimige sestigs was die 1970-dekade ‘n vrolike een met lyndans wat in dansklubs in die VSA hoogty gevier het op baie gewilde musiekstyle, insluitende country en western, pop, swing, disko, blues en jazz. Met musiek-en-dansflieks soos Footloose (1984) het dit opnuut gewild geraak, ook in ander wêrelddele en hier.

‘n Lyndans is ‘n gechoreografeerde dans waarin ‘n groep mense in lyne op herhalende passies dans. Die voordele om op die ritme van musiek te beweeg is nie net gesond vir jou liggaam nie, maar ook terapeuties vir die gees. Jy vergeet sommer gou die dag se spanning en dinge wat pla, het ek self ondervind toe ek dit in die Bosveld op die proef gaan stel het.

Lyndans is die nuutste gier hier in die bosse, want jonk en oud is deesdae op Mokopane en Mookgopong lustig aan’t swaaie. Dit word saam met die fikse afrigter, Wilma Nel (62), geniet. Nel ken haar storie. Sy dans saam en wys die verskillende passies stap vir stap en met baie geduld.

Dit was ná haar aftrede dat sy besluit het om haar stokperdjie met ander te deel, verklap Nel. “Ek het 30 jaar by die munisipaliteit gewerk voor ek sowat sewe jaar gelede besluit het om op vroeë pensioen te gaan. Nou doen ek wat ek die meeste geniet.

“Ek leer myself nuwe lyndanspassies. Dit verg dat ek my huiswerk deeglik op die internet doen voor ek dit deel met almal wat wil kom saam dans.”

Lyndans is ‘n oefening wat jou hart vinniger laat klop en jy span terselfdertyd jou brein in om te onthou wat die volgende stap is. “Dis ‘n gesonde aktiwiteit wat die meeste mense saam kan geniet. Dis nie net goed om stres hok te slaan nie, maar verhoog energievlakke, verbeter jou buigsaamheid en help met gewigverlies.”

‘n Mens maak ook maklik nuwe vriende by lyndansklasse, glo aanhangers. “As jy met jou hart dans, sal jou voete volg,” is hulle leuse.

En moenie dink Nel het net jong mense in haar klasse nie. “Ek gee ook klas by die Piet Potgieter Monument Ouetehuis en die Potgietersrus Dienssentrum vir Bejaardes. Jy sal verbaas wees hoe geniet die bejaardes dit. Hulle het al vroeg hul tekkies of stewels aan om saam te dans.”

Die werkende jongmense kry kans om na-ure dit saam uit te kap en die dag se stres af te skud met ‘n cha-cha, tango of wals of danspassies op ‘n bekende country-liedjie. Die klasse duur sowat ‘n uur lank, maar meeste van die tyd geniet almal die pret so dat veel langer gedans word.

“Ek sê altyd vir die dansers om te vergeet van die dinge daar buite wat pla, want hier in die klas moet ‘n mens konsentreer en fokus, anders trap jy verkeerd of vergeet wat die volgende stap is.”

Wilma sê sy het gou agtergekom dat sy nie die woord “maklik” moet gebruik nie, want wat dalk vir haar maklik is, is nie vir ‘n ander mens in ewemaat so nie. “Ek wissel ook die verskillende danse af sodat die klas nie eentonig raak nie. Elkeen vorder op sy of haar eie pas, party leer bloot vinniger as ander.”

Om die regte musiek te kies is vir haar belangrik. Die liedjies moet ‘n sekere ritme hê. “Ek spring dan aan die werk en kry die passies eers goed onder die knie voor ek dit vir die dansers leer.”

Wilma se dansers wys ook gereeld hul passies by feeste en geleenthede in die omgewing. Hulle gaan juis binnekort weer optree voor vanjaar se afsluitingsfunksie volg. Daarvoor word ‘n spesiale liedjie voorberei en selfs uitrustings ontwerp.

“Almal is altyd welkom by enige funksie en selfs by ons afsluitingsfunksie. Om partykeer net te kyk, is ook bevredigend.”

Wilma reël ook gedurende die jaar verskeie byeenkomste waar die dansers hul passies kan uitstal, soos ‘n Valentynsdagdans, rock en roll-oggenddans en ‘n dans op musiek uit die 1960s. Musiek wat by diė tema pas, word dan gespeel en dan laat waai die dansers in gelid ….

 

Leave a Reply