Skip to main content

 

Is vervaldatums op kos akkuraat?

Ons almal wonder oor die naweek se braaivleis wat vier dae in die yskas staan. Of die melk, wat volgens die vervaldatum, al drie dae gelede moes af gewees het, maar steeds piekfyn proe. Daar is die gevriesde kos in jou vrieskas, wat jy nog nie kon voorberei nie, of dié gevriesdes wat nog nie weer geëet is nie. Moet ons onsself aan vervaldatums op kos steur? Gerald Eloff het gaan kyk of hy moet bekommerd wees oor die two-minute noodles wat hy geëet het nadat dit twee jaar in sy kas gelê het.

Die plaaslike media het onlangs berig oor die Suid-Afrikaanse soldate wat gedurende die Covid-19 pandemie vervalle kos ontvang het en toe daarvan siek geword het. Inmiddels is vroeër vanjaar vanaf oorsee berig dat minstens een persoon gesterf en 22 gehospitaliseer is as gevolg van listeriose wat diė mense deur besmette roomys opgedoen het in Florida, Amerika.

Mense word siek as hulle grond-besoedelde kos eet, asook rou vleis en suiwelprodukte wat nie gepasteuriseerd is nie. Listeriose is ‘n bakteriële infeksie wat tot konvulsies, komas, miskrame en geboortedefekte kan lei – voorwaar ʼn nare vooruitsig!

Etikette wat frustreer …

Die etikette op kos is egter verwarrend, om die minste te sê – en deesdae boonop alleenlik in Engels. Terme soos sell by, best before or use by (en selfs born on, as jy verwys na ʼn sekere bierproduk wat probeer oulik wees), sê eintlik niks oor die moontlikheid dat die kos jou kan siek maak nie, of tot wanneer dit veilig is om te verbruik nie. Die klem hier is eerder op die gehalte en bemarking van die voedselprodukte.

In kort: Display until of sell by dui op die laaste datum wat die verskaffer die produk kan verkoop – en gee jou ook darem ʼn redelike tyd om dit aan te hou en te verbruik. Use by, beteken dat jy diė produk voor die spesifieke datum moet verbruik. Hoeveel keer egter, het melk wat in jou yskas was, steeds piekfyn gesmaak ʼn paar dae na die aangeduide vervaldatum, net omdat jy dit koud gehou het? Dit sou natuurlik niks gehelp het as dit van die begin af vol skadelike bakterieë was nie.

Vries dit, verkieslik

Maak jy nou jou vrieskas oop, is die kanse goed dat jy vleis, groente, suiwel, groente en vrugte daar kan vind. Om kos te vries, is ʼn goeie manier om die voedingswaarde, kwaliteit en smaak van baie kosse te bewaar. Anders as bederfbare kos wat in die yskas gestoor word, bly bevrore kos dikwels lank na die vervaldatum veilig. Deur voedsel te vries, deaktiveer mikrobes (bakterieë) wat bederf kan veroorsaak. As die vrieskas egter gereeld oopgemaak word (of met gereelde beurtkrag, soos in Suid-Afrika) en kos warm word tot temperature bo -18°C, verhoog die kans op bederf.

Sekere kossoorte wat te lank in die vrieskas gehou word, verloor ook smaak en begin sleg lyk, meestal as gevolg van uitdroging en vriesbyt. Indien kos nie behoorlik gevries word nie (onder -18°C), is dit onveilig om te eet, selfs al val die kos nog binne die vervaldatum. As dit eers ontdooi het, of ʼn aaklige reuk het, gooi dit weg. Daar is ʼn paar praktiese aanbevelings rakende goeie vrieskas-gebruik, of vries-etiket.

  • Dis ʼn goeie idee om ʼn termostaat byderhand te hou indien jy nie een van die duurder vrieseenhede besit nie. Verkoel altyd reeds-gekookte kos eers in die yskas, voor jy dit in die vrieskas plaas.
  • Ontvries die vrieskas gereeld – dit kan na ʼn tyd onaangenaam begin ruik en die funksionaliteit daarvan negatief beïnvloed.
  • Vleis en visprodukte behou hulle voedingswaarde baie langer wanneer dit rou gevries word, in vergelyking met reeds gaar produkte. Dit is as gevolg van die hoër voginhoud van rou vleis. Sodra dit gaar is, is dit meer geneig om uit te droog nadat dit vir ‘n lang tyd gevries is.
  • Die vriesperiode (hoe lank jy dit kan vries) vir vrugte en groente hang af van hoe die kos voorberei en verpak is. Sommige groente, soos kool, aartappels, seldery en komkommers, vries nie goed nie. Hul hoë waterinhoud maak hulle sag wanneer dit ontdooi.
  • Verpak die kos behoorlik en moenie die kos blootstel aan lug nie. Dit sal bederf vertraag en die kos beperk van yskristalle.
  • Indien kos vriesbyt op het, sny diė dele af, óf gooi dit weg.

Werkbare, veilige alternatief?

Dave Bester is die eienaar van die gewilde Foodies-winkels. Volgens ʼn artikel op timeslive.co.za het hy die eerste winkel in 2016 in Kaapstad oopgemaak. Hy het intussen nog ses oopgemaak, waarvan die volgende een in die Paarl sal wees.

Foodies is die enigste kettingwinkel in die wêreld wat kosprodukte wat naby aan, of net verby die best before datums op die etikette is, verkoop.

Volgens Bester is dit onwettig om kos wat verby hulle vervaldatums is, soos vleis en suiwel, te verkoop omdat dit ʼn gesondheidsrisiko vir verbruikers inhou. Maar “rak-stabiele” voedsel soos blikkieskos (sop), mieliemeel, meelblom, rys, pap, beskuitjies en nie-suiwel blikkies koeldrank kan ʼn mens verkoop omdat dit nie toksies of vrot word na hulle best before datums nie.

“Dit het te doen met die kwaliteit van die produkte”, sê Bester. “Die kleur, tekstuur en smaak mag dalk mettertyd verminder maar die produkte bly veilig om te eet. Dit is ook nie onwettig om dit te verkoop nie, maar dit moet verkieslik darem teen afslagprys wees.”

“Meeste mense is egter nie bewus daarvan dat dit wettig is nie,” voeg hy by.

Foodies verkoop meer as 31 000 produkte per maand in sy winkels, waarvan die meeste kliënte pensioenarisse is. Een afgetrede paartjie koop gereeld ʼn pakkie twee-minute-pasta en ʼn pakkie groentesop vir R9.00 – genoeg kos vir ʼn maaltyd vir twee mense. In ʼn land waar ongeveer 22% van alle huishoudings min tot geen toegang tot ʼn ordentlike maaltyd het nie, kan dié tipe besigheid ʼn groot bydrae maak om hongersnood en kos wat gemors of weggegooi word te bekamp.

Bester vertel dat van sy topverkopers pap en geblikte kos is, wat, terloops, al drie tot ses maande verby die aangeduide best before datum is.

Sy winkels is inderdaad ʼn ligpuntjie in ‘n land waar tot tien miljoen ton kos ʼn jaar vermors word – ʼn verstommende derde van die 31 miljoen ton wat jaarliks geproduseer word in Suid-Afrika!

Indien jy nie seker is nie, kyk na die tekstuur van die kos, ruik daaraan of bestudeer die kleur. Indien jy die veilige-opsie verkies, neem die etikette op kos ter harte. Probeer egter seker maak dat jy spaarsamig koop en verbruik om vermorsing te vermy – vir die planeet se onthalwe. En eet maar gerus daai stowwerige pakkie noedels in die kas – die kanse is skraal dat jy iets gaan oorkom.

Leave a Reply