Skip to main content

 

Lumė van Schalkwyk

Die Mededingingskommissie het ‘n deursoeking en beslaglegging gedoen by agt van Suid-Afrika se voorste versekeringsmaatskappye wat in Gauteng, KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap bedrywig is.

Die kommissie se woordvoerder Sipho Ngwema sê daar is redelike gronde om te vermoed dat Brightrock Life Limited, Discovery Limited, FMI – ‘n afdeling van MMI Limited, Sanlam, Old Mutual Insure Limited en die Professional Provident Society Limited betrokke is by samespanningspraktyke om pryse vas te stel en/of handelstoestande te skep.

Hy sê die ondersoek volg vrae oor fooie vir beleggingsprodukte soos uittree-annuïteite en premies vir risikoverwante produkte, naamlik lewensversekeringsdekking soos dekking vir gevreesde siekte/dekking vir chroniese mediese toestande, ongeskiktheidsdekking, lewensdekking en begrafnisbystandsvoordele wat in stryd van artikel 4(1)(b)(i) van die Mededingingswet is.

Volgens Ngwema beskik hulle oor inligting dat die maatskappye wat ondersoek word, inligting deel oor premiekoerse vir risikoverwante produkte en fooie vir beleggingsprodukte, wat hulle in staat stel om die pryse van hul bestaande en nuwe versekeringsprodukte aan te pas.

Hy sê die soek- en beslagleggingsoperasies vorm deel van ‘n voortgesette ondersoek wat in Januarie verlede jaar begin is.

Die kommissie het beslag gelê op dokumente en elektroniese data wat met ander inligting ontleed sal word.

Leave a Reply