Skip to main content

Plantluise.

Hulle is oral, al kan jy hulle nie sien nie. Hulle vreet selfs onkruid op!

Dis nou een sagtelyf-insek waaroor mense nie seker is nie: Moet hulle die goedjies minag of moet hulle van hierdie interessante gediertetjies hou?

Vir dié van ons wat gedink het dat hulle net in skakerings van groen kom, wag daar ‘n (on)aangename verrassing. Hulle kleure wissel enigiets van groen, pienk, rooi, oranje, rooibruin, tot swart. Sommige spesies lyk ook of hulle wollerige katoenjassies dra.

As die klein peste bedreig voel, loop daar stroompies trigliseriede of lipiede uit hul dorsale krone om ander van hulle soort in die nabye omgewing te waarsku, of om mede-luise uit hul gebiede weg te hou. Dit verduidelik dan hoekom ons soms piepklein kristalletjies op sommige plante wat deur hulle besmet is waarneem, want die vloeistof kristalliseer sodra dit uitgeskei word. Hierdie kristalle kan ook sekere roofdiere vergiftig.

Vir tamatiekwekers kan plantluise ‘n riller raak, want hierdie gesonde vruggies is hul gunsteling voedselsoort.

Miere is gek oor sekere plantluise, want hulle hou die insekte aan om vir hulle heuningdou, ‘n lekkerny, te verskaf. Die heuningdou is nie soos die vloeistof wat uit die dorsale krone afgeskei word nie. Heuningdou word deur hul anus afgeskei.

Moenie dink as jy van plantluis-mannetjies ontslae raak dat die wyfies gaan uitsterf nie. Sekere vroulike plantluise kan aan lewende babaluise (nimfe) geboorte gee sonder dat ‘n mannetjie naby hulle was.

Iets wat my stomgeslaan het is dat sommige plantluis-wyfies se lewende wyfie embrios selfs reeds haar eie kleindogters kan bevat. Babas (nimfe) met babas reeds binne-in hulle eierstokke! Dit staan bekend as teleskopering van generasies.

Hierdie nimfe kan tot ‘n volwasse wyfie in slegs 14 dae ontwikkel. Een wyfie kan tot 30 nimfe op ‘n slag produseer. Dink jou in! Binne ‘n maand kan jou pragtige plante of groente vrot wees van hierdie goggas! En as joune opgevreet is, vlieg hulle net eenvoudig na ‘n nuwe spul kos in die nabye omgewing.

Plantluise is uiters gevaarlike vir landbougewasse aangesien hulle siektes deur hul speeksel kan oordra.

As jy ‘n omgewingsvriendelike oplossing wil hê om van hierdie luise ontslae te raak, het ons die regte (en goedkoop) raad vir jou:

’n Paar eetlepels vloeibare skottelgoedseep wat verdun is in ’n liter water is al wat jy benodig om ’n natuurlike plantluisdoder vir jou plantluisbesmetting te maak.

Maak ‘n spuitbottel vol, en vaar jou tuin binne!

Leave a Reply