Skip to main content

Winkels verneuk dalk met broodprys

Die Mededingingskommissie is bekommerd dat kleinhandelaars nie in die verlede groothandelkosteverminderings vir brood aan verbruikers deurgegee het nie.

Hierdie aanname is gebaseer op ‘n ontleding van kleinhandelaars se margegroei wat gedoen is vir die Kommissie se jongste moniteringsverslag oor noodsaaklike voedselpryse, wat gister vrygestel is.

Suid-Afrika het ook moontlike “opportunistiese” stygings in die prys van sonneblomolie gesien, het die kommissie bevind. “Dit kom op ‘n tyd dat daar kommer is oor voedselprysinflasie wat deur vuisvoos verbruikers in die gesig gestaar word.”

Kommer neem toe oor ontsnapte leeus

’n Tweede halfgevrete koeikarkas is gevind terwyl die soektog na twee ontsnapte leeus in die noorde van KwaZulu-Natal voortduur. Die eerste koei is Dinsdag ontdek. Inwoners van Ulundi is gewaarsku om vroeë oggendure se drawwery  of stappery te vermy.

Die burgemeester, Wilson Ntshangase, het gesê daar is ‘n aantal ontsnapte diere, insluitend olifante en renosters, na aan leefgebiede opgemerk. Hy doen ‘n beroep op die bestuur by die Hluhluwe Imfolozi Park en die polisie om die situasie in bedwang te bring.

Pelosi se man kry tronkstraf vir dronkbestuur

Die Speaker van die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers, Nancy Pelosi, se man is Dinsdag tot vyf dae tronkstraf gevonnis en beveel om $6 800 aan boetes te betaal nadat hy skuldig gepleit het op aanklagte van dronkbestuur in Napa County, Kalifornië.

Maar Paul Pelosi (82) sal uit die tjoekie bly nadat die regter hom vier dae krediet gegee het vir die tyd wat hy reeds agter tralies uitgedien het ná sy arrestasie.

Dollar vat euro veby

Die euro het Maandag vir die tweede keer in net meer as ‘n maand onder pariteit met die Amerikaanse dollar geval namate beleggers se vrese vir ‘n resessie in die eurosone toeneem.

Die enkele geldeenheid het tot so laag as $0,9935 gedaal, voordat dit effe gestabiliseer het. Dit is een van die laagste vlakke in twee dekades ná ‘n klim tot ongeveer $1,03 op ‘n stadium vroeër vandeesmaand. Die euro het in Februarie teen sowat $1,15 verhandel.

Wallabies verander ses vir toets teen Bokke

Reece Hodge is as heelagter ingesluit in die Wallabie-rugbyspan wat Saterdag teen die Bokke speel. Dit dui daarop dat Australië verwag dat die Springbokke hulle met hoë lugskoppe gaan peper.

Die Aussies het ses veranderinge aan hul span aangebring wat twee weke gelede ‘n verpletterende loesing teen Argentinië in San Juan op die lyf geloop het.

Die spanne vir Saterdag is: Australië: 15 Reece Hodge, 14 Tom Wright, 13 Len Ikitau, 12 Hunter Paisami, 11 Marika Koroibete, 10 Noah Lolesio, 9 Nic White, 8 Rob Valetini, 7 Fraser McReight, 6 Jed Holloway, 5 Matt Philip, 4 Rory Arnold, 3 Allan Alaalatoa, 2 Folau Fainga’a, 1 James Slipper (kaptein).

Plaasvervangers: 16 David Porecki, 17 Scott Sio, 18 Taniela Tupou, 19 Darcy Swain, 20 Rob Leota, 21 Pete Samu, 22 Tate McDermott, 23 Andrew Kellaway.

Suid-Afrika: 15 Damian Willemse, 14 Warrick Gelant, 13 Lukhanyo Am, 12 Damian de Allende, 11 Makazole Mapimpi, 10 Handre Pollard, 9 Faf de Klerk, 8 Duane Vermeulen, 7 Pieter-Steph du Toit, 6 Siya Kolisi (kaptein), 5 Lood de Jager, 4 Eben Etzebeth, 3 Frans Malherbe, 2 Joseph Dweba, 1 Ox Nche.

Plaasvervangers: 16 Malcolm Marx, 17 Steven Kisthoff, 18 Vincent Koch, 19 Franco Mostert, 20 Kwagga Smith, 21 Jaden Hendrikse, 22 Elton Jantjies, 23 Frans Steyn.

Leave a Reply