Skip to main content

Dirk Lotriet

Regter Selemeng Mokose het Dinsdag na ‘n regstryd van meer as ‘n jaar in die Hooggeregshof in Pretoria opdrag gegee dat die byna R100 miljoen in die diamantmagnaat Louis Liebenberg en sy mede-direkteur Ronel Kleynhans se Tariomix-bankrekening vrygestel word.

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het op 18 Maart verlede jaar ‘n bewaringsaansoek gebring nadat die Finansiële Intelligensiediens (FIC) vroeër alle bankrekeninge van Liebenberg en Kleynhans ingevolge die bankwetgewing gevries het.

In Julie 2021 het die NVG en Tariomix se regspan die meriete van die aansoek en ex parte bewaringsbevel geargumenteer.

Regter Mokose het uitspraak voorbehou, maar gister – een jaar en een maand later – het sy beslis dat die aansoek met koste van die hand gewys word en die bewaringsbevel opgehef word.

Dit beteken ook dat die NVG nie meer kan voortgaan met hulle aansoek om die fondse aan die staat verbeurd te laat verklaar nie.

Regter Mokose het bevind dat die NVG hulleself weerspreek en dat die aansoek geen konkrete getuienis en bewyse van enige misdrywe bevat nie.

Liebenberg het aan Die Waarheid gesê die NVG en die staat het van die begin af geweet daar is geen geldwassery betrokke in die manier wat hy besigheid doen nie.

“Ons het vir hulle ons hele besigheidsmodel uiteengesit en gedemonstreer dat die hele proses wettig bedryf word. Hulle het dit geïgnoreer en was vasbeslote dat alle groepe wat hulleself deur besigheid probeer bevorder, uitgeroei moet word.

“Dit word gedoen om die Reserwebank en handelsbanke te beskerm en te verseker dat besighede wat goud, diamante en silwer in die hande van gewone mense probeer plaas, ten gronde gedruk word.

“Hulle het meer as ‘n jaar gevat om ‘n uitspraak te maak want hulle het gehoop ek sal bloot omval en dood speel. Dis nie my styl nie.

“Vantevore het die staat my so geboelie en finansieël uitgeroei en ek kon nie terugveg nie. Dit is hulle hele motief, daarom lê hulle ook beslag op jou geld sodat jy moet konformeer soos ‘n soet burgertjie.

“Hierdie is ‘n nuwe land, hier is ‘n konstitusie en mense het die reg om geld te maak omdat die regering ons versaak. Entrepreneurs moet die leiding neem om geld te maak vir almal en daarom ondersteun mense my. Hulle weet dat ons reg besigheid doen.

“Die fout lê by die kriminele sisteem van die staat en al sy departemente, soos die polisie en justisie.

“Die vals klagte is gelê deur Veronica van Dyk, die DA se skaduminister van sport en kultuur in die Noord-Kaap. Dit is sy wat in die pad staan van delwers om wettige permitte te verkry.

“Sy het selfs in 2020 ‘n valse verklaring by die Valke afgelê. Intussen het die hoofde van die Valke vasgestel dat die klagte dat ek onwettig met diamante handel en dat sy gesien het ek koop onwettig diamante aan, vals is.

“Sy is uitgevang en moes haar verklaring onttrek. Dis het natuurlik veroorsaak dat die staat weet daar is nie onwettigheid betrokke nie. Ons het lisensies waarmee ons diamante koop.

“Dit was alles opgemaak en ek staan in November met Veronica in die hof, waar ek haar aanvat oor haar felle aanvalle op sosiale media teen my.

“Hierdie hele ding kom daaruit dat Veronica groot mynhuise ten koste van die klein myner probeer beskerm soos wat nog altyd die afgelope 160 jaar aan die gang is.

“Wanneer die groot myne gebiede verlaat, wil hulle dit nie afstaan aan die medium myner soos ek wat vir gewone mense geld in hulle hande plaas nie. Dit is maar die ou boelietaktiek en gaan maar net aan deur agente soos Veronica.”

Walter Niedinger, hoof van die Tariomix-regspan, het in reaksie op die uitspraak gesê dat sy span verheug is oor die baie nugter benadering wat deur die regter gevolg is saam met die toepassing van suiwer regsbeginsels.

“Die kontras tussen die realiteit in die howe teenoor sekere partydige en waarskynlik polities gemotiveerde mediaverslae is baie duidelik waarneembaar.”

One Comment

  • YC Coetzee says:

    Dis baie goeie nuus. Reg en geregtigheid het geskied. Waarheid staan vas en weerlê alle leuens. Ek hoop die DA neem kennis en tree op teen hulle korrupte lede.

Leave a Reply