Dirk Lotriet
Huggy Wuggy klink na enige kind se droom: dis ‘n wollerige blou diertjie wat graag vir kindertjies drukkies gee.
Maar eintlik is hy ‘n nagmerrie-karakter!
Huggy Wuggy is ‘n skrikwekkende YouTube-monster met slanke ledemate en vlymskerp tande wat in aanlynvideos vir kinders vertel om hulself of hul ouers dood te maak.
Hy hoort eintlik glad nie in kinderkykstof nie – Huggy Wuggy kom uit ‘n gewilde gruwelspeletjie genaamd Poppy’s Playtime en is bedoel om volwassenes se broeke te laat bewe.
In die speletjie jaag Huggy Wuggy die speler en wanneer hy gevang word, maak hy hulle dood met sy tande.
In die videos op YouTube – kinders word aan hom blootgestel omdat sy onskadelike naam hom in staat stel om deur kinderfilters op die video-netwerk te glip – sing hy liedjies oor bloedvergieting en dodelike beserings. Met lirieke soos:
My name’s Huggy Wuggy
Body fuzzy and cuddly
Don’t you wanna come and hug me?
Hug me day and night
My name’s Huggy Wuggy
Sharp teeth leave you bloody
Don’t you ever call me ugly
Hug me ’til you die
Hy het vroeg vanjaar reeds plek-plek sy onwelkome verskyning op sosiale media begin maak, maar dit het nou so erg geword dat skole ouers teen die gruwelmonster begin waarsku het.
Die Laerskool Fairland in Randburg het ouers vanaf verlede week gewaarsku teen die onheilsame invloed van die aanlyngedrog. Die skool skryf op sy WhatsApp-groep:
“Daar is ‘n nare ding wat besig is om kop uit te steek onder ons gr. R-maatjies en ons wil dit graag onder u aandag bring.
Van ons leerders het toegang tot die internet en kyk na ‘n storie/speletjie oor ‘n blou monster-mannetjie naamlik Huggy Wuggy.
Daardie monstertjie doen grusame goed wat vir ons leerders nagmerries gee. Die maats kom vertel ander maatjies by die skool daarvan en dit maak hulle ook bang.
Ons doen ‘n dringende beroep op ons ouers om seker te maak dat u weet waarna u kind kyk sodat ons ons maats kan beskerm.”
“Dit is ontstellend omdat kinders daarin geleer word om drukkies te vrees. En dit is dan juis die doel van drukkies om kinders veilig en gelief te laat voel,” sê ‘n ouer van Aucklandpark.
Sy het niks vermoed nie totdat haar vyfjarige seuntjie saans te bang begin word het om te gaan slaap. Toe sy hom uitgevra het, was hy angsbevange, maar wou aanvanklik niks sê nie. Later het hy met die hele sak patats vorendag gekom: dis uit vrees vir Huggy Wuggy wat hy nie wil gaan slaap nie. Want as hy slaap, sal Huggy Wuggy deur sy kamervenster klim en hom met sy skerp tandjies uitmekaarskeur of hom dooddruk.
Gelukkig is ouers nie heeltemal weerloos teen Huggy Wuggy en ander digitale uitvaagsels nie. YouTube het ingeboude filters om ouerbeheer toe te pas.
‘n Beperkingsmodus is deel van YouTube se ouerbeheeraanbiedinge. Beperkmodus filtreer YouTube-soekresultate sodat volwasse of onbehoorlike inhoud uitgewis word.
Dit verhoed ook jou kind om materiaal te bekyk wat deur die YouTube-gemeenskap as onvanpas gemerk is of deur die skepper van die inhoud as “slegs vir volwasse gehore” gemerk is.
Oorweeg dit ook om kinders jonger as 13 se fone so in te stel dat dit YouTube Kids as verstekmodus gebruik. Dit is spesifiek ontwerp met kinders in gedagte.