Skip to main content

Isaac Cloete

Watter skandes moet ons ambulansdienste nog oorkom of verduur?

Só vra inwoners op Springbok nadat een van die dorp se ambulanse se brandstofkaart Maandagaand by ‘n vulstasie geweier is.

Volgens Elizma “Lizzie” Curnow het sy Maandagaand haar ma vergesel na Kimberley toe diė skande onderweg gebeur het. Hulle was vanaf Springbok op pad na groter hospitale in Kimberley en Bloemfontein. In die pasiëntbussie was sowat 18 pasiënte wat doktersafsprake by die groter hospitale gehad het.

“My ma se afspraak was veronderstel om Dinsdag in Kimberley te wees. Ons het dus Maandagaand op die bussie geklim. Skuins oor tien het ons by Pofadder afgedraai, waar die ambulansbestuurder petrol wou ingooi.

“Die branstofkaart is egter hier nie deur die masjien goedgekeur nie.”

Hierna het die bestuurder eers ‘n oproep gemaak om iemand van sy benarde situasie te vertel. Hy het daarna met die pasiënte gepraat en voorgestel hulle draai maar eerder terug na Springbok.

Volgens Curnow is hulle toe so teen eenuur die oggend by die hospitaal op Springbok afgelaai.

“Ons was net so gedrop, sonder om ons behoorlik in te lig of dat iemand aangebied het om ons daai tyd van die oggend na ons huise te vervoer. Elkeen moes maar sien en klaarkom vir private vervoer.”

Dit het verder aan die lig gekom dat daar ook ‘n blinde en dowe persoon, wat baie verward was, op die pasiëntbussie was. Die meeste pasiënte was volwassenes.

‘n Ingeligte bron by die Springbok Hospitaal het vertel dat hulle niks aan sulke voorvalle kan doen nie. En bevestig dat dit waar is dat die brandstofkaarte wel nie gebruik kon word nie.

“Van ons verwysde pasiënte na Upington lê steeds daar omdat die brandstofkaarte verwerp is.”

Richie Cloete, raadslid van die Namaqua Civic Movement (NCM), het vertel dat Namakwalanders beter behandeling verdien. Net laas week het hulle ‘n optog na die plaaslike distrikskantoor van gesondheid in Springbok gehou. Hier het hulle ‘n memorandum en petisielys aan amptenare oorhandig.

“Ons het nie nodig om te soebat nie. Gesondheidsamptenare doen ons nie ‘n guns nie. Gehalte gesondheidsorg is nie ‘n voorreg nie, maar ‘n reg,” het hy driftig gesê.

Die departement moet nou binne ‘n week op die versoeke in die memorandum reageer. Ander aksies kan volg afhangende van die reaksie van die departement, het ontstoke inwoners vertel.

Dit het intussen aan die lig gekom dat baie pasiënte soms ure in die koue moet wag om vanaf Springbok na Kimberley vervoer te word.

Curnow kry die laaste woord in en wil weet: “Wie gaan nou sorg dat die pasiënte ander afsprake kry as die departement dan so vrot is. Sies.”

Leave a Reply