Skip to main content

Die voormalige ANC-woordvoerder, ambassadeur in Nederland en stoere Jacob Zuma-lojalis Carl Niehaus word dikwels uitgekryt as volksverraaier en kommunis. Dirk Lotriet het met hom gesels oor sy Afrikanerskap, sy liefde vir sy moedertaal en sy uitgesproke gevoelens oor pres. Cyril Ramaphosa.

Carl Niehaus het die afgelope jare die wind van voor in die ANC gekry. En boonop het hy nie ooghare vir pres. Cyril Ramaphosa nie, wat op rekord is. Nogtans hy het geen planne om uit die party te bedank nie.

“Ja, ek het heelwat vyande in die party. Maar ek het ook baie vriende. Pres. Ramaphosa is nie een van daardie vriende nie – ons is soos olie en water,” het hy vandeesweek in Kempton Park aan Die Waarheid vertel.

“‘n Politieke party moet ‘n logiese visie hê van waarheen hy op pad is, maar baie van die leiers in die ANC het geen so ‘n visie nie. In die party is die meerderheid van die leiers geldgedrewe,” sê hy. “Hulle is bereid om daarvoor alle ideale by die venster uit te gooi.”

Hy meen die ANC is vandag nie meer ‘n party van ideologie nie, maar dat dit ‘n party van dealmaking geword het.

“’n Party moet ‘n groter visie as dit hê. Ons huidige leiers het dit glad nie. Hulle is sellouts wat die ideale van die ANC in die toilet afgooi.”

Niehaus sê hy is ‘n optimis, maar hy is bekommerd oor die toestand in die land.

“Suid-Afrika is op ‘n mespunt gebalanseer. As ons nie fundamentele veranderinge aan die ekonomie aanbring nie, gaan goed net erger raak. Ons in die middelklasbuurte sien nie hoe erg mense onder armoede ly nie.

“As die situasie ontplof, is dit die ideale toestand vir ‘n rewolusie. Dit is uiters dringend dat ons ‘n ekonomie ontwikkel wat deure oopmaak.”

Niehaus meen dit is veral jongmense wat gefrustreerd is. Dit voel vir hulle of hulle horisonne verdwyn het – en dit is waar vir jongmense met en sonder tersiêre opleiding.

Volgens hom gaan dit nie oor die wegvat van enigiets by mense wat het nie. “Armoede is die grootste siekte in die wêreld – niks maak soveel mense dood nie. Ons land se toekoms is in groot gevaar as ons dit nie kan aanspreek nie.”

Hy sê mense kry swaar en banke is genadeloos. Terwyl 35% van die land werkloos is, groei banke, maar niemand anders maak geld nie.

“Die middelklas is in ‘n krisis. Die meeste middelklasmense is een salaristjek weg van armoede en leef op skuld.”

Voorts krimp die middelklas. Die enigste groep in Suid-Afrika wat groei, is die armes. Baie van die rykes loop en vat nie net hulle geld saam met hulle nie, maar ook hulle kennis en vaardighede, en hulle vermoë om werk hier te skep.

“Cyril Ramaphosa verstaan dit nie, maar dit is nie sy rol om dit te verstaan nie. Hy is nie sy eie mens nie. Hy is daar om die groot geldmagte te ondersteun. Hy onderskat die frustrasie en woede van die mense.”

Tog sien hy homself steeds as ‘n ANC-man – hy is al 43 jaar lid van die party. Hy was al twee keer die ANC se nasionale woordvoerder en was ook oudpres. Nelson Mandela se segsman. “Ek dink lojaliteit is een van die kosbaarste eienskappe wat ‘n mens kan hê.

“Ek is ‘n verskriklik lojale mens. Lojaal aan mense, maar ook aan organisasies,” het hy vertel tydens ‘n onderhoud by die hoofkantoor van FDG, die maatskappy wat behoort aan die diamantmagnaat Louis Liebenberg.

G’n volksverraaier

Niehaus sê hy kan sien dat daar ‘n vriendskap tussen hom en Liebenberg kan ontwikkel. “Toe ek onlangs by die Hoogste Hof van Appèl in Bloemfontein was om my vriend Jacob Zuma te ondersteun, het Louis by die hof ingestap en langs my kom sit.

“Ek het geweet wie dit was. Ek het al van hom gehoor – die meeste mense in die land het al. Ek kon dadelik sien dit is iemand wat nie besig is met politieke ideologie nie – dis iemand wat uit sy hart uit praat. Dit was vir my duidelik Louis is nie ‘n aanstellerige ou nie – maar ek kon sien hy gee net ondersteuning.”

Nes Liebenberg, sien Niehaus hom as ‘n Afrikaner, ondanks die haat en nyd wat hy oor die jare van sy eie mense gekry het.

Pynlike verwerping

Hy is oor die jare deur sy volksgenote verwerp – iets wat hy as “baie, baie pynlik” ervaar het. “Want ek is ‘n Afrikaner.”

Hy vertel sy geskiedenis het hom in baie konflik met sy mense gebring. Tog het hy sy kultuur en sy taal steeds bitter lief.

“Pik Botha het een maal tydens ‘n debat gesê: “Mnr. Niehaus praat mooi Afrikaans, maar hy praat steeds snert!”

Hy sê hy is g’n volksverraaier nie. Die beroemde anti-apartheidsaktivis Beyers Naude het hom as ‘n jong man gementor. “Oom Bey het my gehelp om my eie politiek te verstaan. Hy het my geleer om teen apartheid te wees, beteken nie jy is nie meer ‘n Afrikaner nie.

“Hy het my geleer om altyd my wortels te onthou. Hy het gesê ‘n boom sonder wortels val om. My Afrikanerkultuur is my wortels.

“Ek het Afrikaans by my ma en my pa geleer. Ek droom in Afrikaans. My vrou, Noluthando, sê as ek in my slaap praat, praat ek Afrikaans.”

Niehaus sê wanneer jou eie mense teen jou draai, mag dit lyk of jy sterk is, maar dit vreet aan jou. “Mens wil nie deur ander gehaat word nie. Ons wil almal ‘n plekkie in die wêreld hê, maar dis moeilik as jy verwerp word.

“Ek sou graag deel wou wees van my eie mense, maar dis nie maklik nie. Dis ‘n groot berg om te klim.”

Ondanks die veragting wat hy ervaar het, is hy nie bitter teenoor Afrikaners nie. “Ek praat net duidelik oor wat verkeerd was en is in ons land.

“Ek het apartheid beveg, want dit bots met my godsdiens en my regverdigheidsin. Ek sal aanhou veg om daai probleem uit ons land se gestel te kry. Jy kan ‘n gewas nie wegswyg nie. Jy moet dit uitsny.

“Ek sien geen rede hoekom daar nie ‘n plek vir die Afrikaanse taal en kultuur in ons land is nie. Maar dit kan nie gebeur as jy ander se kultuur ontken en minag nie.”

Moeilikheid

Niehaus onthou nog goed hoe hy as sestienjarige by die ANC aangesluit het. Hy het Soweto as deel van ‘n sendinggroep besoek. Op een plek het ‘n ou man – “oud genoeg om my oupa te wees” – op ‘n oliedrom gesit. Die man het opgestaan sodat hy kan sit.

“Waarom moes so ‘n ou man staan sodat ‘n sestienjarige kan sit? Dit het my laat vrae vra.”

Met die 1976-onluste het hy begin vra of die jeug in Soweto nie rede het vir hulle optrede nie. Dit het hom in die moeilikheid laat beland. Hy het reeds as skoolseun ‘n renons in apartheid ontwikkel en toe hy RAU toe is om teologie te studeer, het hy gou daar in die moeilikheid beland.

Hy is gevang dat hy plakkate opsit wat die vrylating van Nelson Mandela bepleit en is geskors.

“Ons was nie ryk nie – my pa was ‘n passer en draaier. Ek het met ATKV-beurse studeer en ons moes dit terugbetaal. My pa was so kwaad dat hy my as negentienjarige uit die huis geskop het.”

Niehaus het op parkbanke geslaap en het vir Beyers Naude by die St Mary’s-katedraal in Johannesburg ontmoet. Naude was vir hom ‘n mentor.

“Ek het as ‘n 23-jarige ten volle as MK-lid ondergronds geopereer toe ek en my verloofde, Jansie Lourens, in hegtenis geneem is. Ek is maande lank by John Vorsterplein aangehou.

“Die marteling wat ek daar ondergaan het, het veroorsaak dat ek 65% van my gehoor verloor het. Ek dra vandag nog gehoorstukkies.”

Uiteindelik is hy skuldig bevind aan hoogverraad en tot 15 jaar tronkstraf gevonnis. Jansie is vier jaar tronk toe gestuur.

Nadat hy nege en ‘n halwe jaar in Pretoria Sentraal gesit het, is die ANC ontban en het onderhandelinge begin om politieke gevangenes vry te laat.

“Kobie Coetsee wou my nie laat gaan nie. Jacob Zuma, die tussentydse leier van die ANC se onderhandelingspan, het geveg om my te laat vrylaat. Hy het my elke tweede week in die tronk kom besoek.

“Ses maande nadat hy sy veldtog begin het, is ek vrygelaat. Hy was daar vir my in my donkerste tye. Ek sal altyd lojaal aan hom wees.”

Versoening

Deesdae veg Niehaus vir versoening. “Ons kan nie die gebrek aan versoening deur woorde oplos nie – dan word dit ‘n leuen. Nou, 28 jaar na 1994, leef ons in daardie leuen. As ons jong mense nie kan laat glo daar is ‘n toekoms vir hulle in hierdie land nie, is dit nag.”

Hy sê hy kom dikwels in die week in die townships. “Die strate is vol mense. Jy kan sien hulle het nie werk nie. Petrol word duurder. Kospryse gaan op. En mense verloor hul motors en huise.

“Die mense is arm, maar ons het ‘n ryk land. Daar is net ‘n klein groepie daar bo wat alles vir hulleself wil toe-eien. Dit is meestal wit mans, maar toenemend kom swart mense by. Die ANC het ‘n verrykingsinstrument vir politici geword. Ramaphosa het ingekoop op hierdie verrykingskultuur wat ons land leeg suig en ons moet daarvan ontslae raak.”

Hy hoop die ANC verkies  in Desember tydens die party se nasionale verkiesingskonferensie by Nasrec nie weer Ramaphosa tot president nie. “Die grond skuif onder hom uit. Cosatu, een van sy bondgenote toe hy die eerste keer verkies is, skuif weg van hom af oor die toestand van die ekonomie …”

One Comment

  • YC Coetzee says:

    Ek het die gesprek tussen Carl en Louis heel insig gewend gevind. Wat Carl gesê het laat mens opnuut dink oor hoe ons gebreinspoel is deur die politici vir hul eie gewin.

    Ek is bly dat ek die waarheid kon hoor vanaf Carl en besef nou hy is n gewone mens nes ek. My siening oor hom het totaal verander.

Leave a Reply