Skip to main content

 

Hoekom jy jou aksent verander as jy praat

Het jy jouself al uitgevang dat jy ‘n anders praat met mense wat anders as jy “klink”? Veral met diegene met ʼn baie kenmerkende dialek. Of dalk praat jy ook van “êk” pleks van “ek” ná ‘n kuier by jou Bolandse vriendin of bry jy bietjie na jou Weskus-vakansie? En praat jy “anders” met jou huishulp of tuinwerker? Taalpraktisyns noem dit linguistiese konvergensie en divergensie. Gerald Eloff het probeer sin maak van al diė “Grieks”, en verklaar hoekom jy dan anders praat met die Griek by die hoekkafee.

ʼn Aksent is die unieke manier hoe groepe mense klink wat dieselfde taal praat. Dit word bepaal deur ’n verskeidenheid faktore. Streeksaksente is algemeen onder mense wat van dieselfde distrik in ʼn land afkomstig is. Dink maar aan die mense van die Weskus of Boland – hulle klink anders as die mense in die Limpopo-provinsie.

Dan is daar nasionale oorsprongaksente. Byvoorbeeld mense wat Engels as ’n taal eers as ’n volwassene aangeleer het. Terselfdertyd klink mense wat net Engels kan praat, anders as iemand wat Afrikaanssprekend is en Engels as ’n tweede taal aangeleer het.

So, hoekom klink ons anders?

Diė eenvoudige definisie van aksente verduidelik egter nie hoekom mense hul aksente in sekere omstandighede verander nie. Wat is die rede agter dit? En wat is die verhouding tussen tweetaligheid en aksente?

Om dié vrae te antwoord, moet ons kyk na die taalverkrygingsproses. Die boek English with an Accent: Language, Ideology, and Discrimination in the United States verduidelik dat kinders gebore word met die vermoë om alle klanke wat menslik moontlik is, na te maak. Hulle beperk hulself egter mettertyd tot net dié wat hulle hoor en wat in hulle direkte omgewing gebruik word. Dus sal kinders wat blootgestel word aan meer as een taal gedurende die taalverkrygingsproses, moontlik meer as een taal kan praat mits die sosiale faktore ideaal is. Ongelukkig word dit al hoe moeiliker om ’n ander taal gedurende adolessensie aan te leer. Dieselfde geld vir aksente.

As jy wil fênsie klink

So hoekom verander mense die manier hoe hulle praat? Baie mense is onbewus daarvan, en dit hang gewoonlik af van met wie hulle gesels, of die persoon saam met wie hulle is.

Dink byvoorbeeld aan jou laaste werksonderhoud – baie mense sal, om meer gesofistikeerd voor te kom, hul aksent verander. ʼn Ander voorbeeld is mense wat gedurende ʼn afspraak die teenoorgestelde geslag wil beïndruk. Baie mense sal ook  ʼn streeksdialek aanleer sodat mense in daai spesifieke gebied hulle beter kan verstaan. Ander mense weer, sal hul streeksdialek afleer om beter verstaan te word. ’n Voorbeeld hiervan, is ʼn vrou wat vanaf die platteland na Pretoria trek, wat dan gebruik maak van oorronding om meer fênsie te klink. Engeland is ʼn goeie voorbeeld hiervan, waar dialekte omtrent van dorp tot dorp verskil. Die mense in Londen klink kenmerkend meer posh, as byvoorbeeld die mense van Sheffield of Manchester.

Dan is daar ook die verskynsel van bidialektalisme, waar mense met twee aksente praat. Volgens dr. Damien Hall, ’n linguistiese kenner by die Newcastle Universiteit in Engeland, gebeur bidialektalisme feitlik altyd onderbewustelik – dis baie moeilik om dit bewustelik te doen.

Onderbewustelik, het jy die impuls om altyd by jou omgewing aan te pas, ongeag van waar jy is. So, as jy is van die Weskus is en jy het ’n vergadering met jou baas in Johannesburg, is die kanse goed dat jy sonder jou streeksaksent gaan praat, sodat almal jou beter kan verstaan. As jy terugkeer na die Weskus en weer tussen vriende en familie verkeer, haal jy die professionaliteit uit jou stem en jy ontspan, want daar is geen rede om daar beter verstaan te word nie.

Christine Nesser, ʼn spraakterapeut van Johannesburg, vertel: “ ʼn Mens kan ook van ‘taalregister’ praat. Dis die vlak/nie-vlak waarop mens praat en het te doen met die situasie. Formele register geskied vir byvoorbeeld preke en toesprake, informeel met vriende en dalk vereenvoudig wanneer jy praat met kinders en ondergeskiktes. Taal wat iemand op die rugbypawiljoen en kuierplek gebruik, verskil weer van wat op kantoor gebruik word. Dit sluit aksent én styl én woordeskat in.

“My pa was van die Swartland. Hy het foutloos standaard Afrikaans gepraat. Maar as sy Swartlandse familie kom kuier, het hy sy ‘r’e’ gebry en streekswoorde gebruik, soos ‘sluitels’ vir ‘sleutels’. Selfs die intonasie het dan verander. Luister na die sangerige kwaliteit en opwaartse infleksie van Kaapse variante. Diė infleksiepatrone is heel anders as die Afrikaans in Pretoria.”

Wat is buitelandse-aksent-sindroom?

Buitelandse-aksent-sindroom is ’n mediese toestand waar pasiënte spraakpatrone ontwikkel wat as ’n buitelandse aksent gesien kan word en anders as hul inheemse aksent is.

Dié toestand steek gewoonlik kop uit ná ʼn beroerte maar kan ook ná ’n hoofbesering ontwikkel. Baie medici beskou dit as ’n neuropsigiatriese probleem. Die pasiënte besig gewoonlik hul taal in ’n vreemde aksent – byvoorbeeld iemand van Londen wat Engels praat asof hy/sy van New York afkom, of andersom. Redelik onlangs is bevind dat die serebellum, die deel van die brein wat motorfunksies beheer, deels verantwoordelik vir buitelandse-aksent-sindroom is. Dit versterk die idee dat spraakpatroon-verandering meganies is.

Oor die algemeen is buitelandse-aksent-sindroom net tydelik, wat voorkom as pasiënte van ʼn beroerte of breintrauma herstel.

Christine het dit in haar praktyk ervaar. “ʼn Engelse vrou van Johannesburg het nà haar beroerte met ʼn Duitse aksent gepraat. Dit het later vanself weggegaan.

“Ek vind dat kinders – veral dié op die outisme spektrum – maklik die Amerikaanse aksent van ʼn televisieakteur of videospeletjie aanleer. Of hulle sal soos Sponge Bob of Peppa Pig in ʼn Britse aksent begin praat. Aan die ander kant, het ek ook al kinders vir terapie gehad wat hul oppasser se Engelse aksent aangeneem het, wat weer vir die Britse ouers onaanvaarbaar was. Kinders imprint – hulle assosieer een gesig met een taal. Of één TV karakter met een aksent. As hulle lank genoeg daaraan blootgestel word, neem hulle dit soos sponsies op.”

Konvergensie versus divergensie

Linguistieke akkommodasie kan in twee kategorieë verdeel word – konvergensie en divergensie. Soos die naam aandui, beteken konvergensie om jou spraak te verander – met uitspraak en vokale klemme, om met die spraak van iemand anders in te pas. Dit word hoofsaaklik gedoen om sosiale verskille uit te skakel. ’n Maklike manier om dit te verduidelik is wanneer jongmense met oumense gesels. Hulle praat gewoonlik stadiger en gebruik nie slang taal soos wanneer hulle met tydgenote kommunikeer nie.

Met divergensie gebeur die teenoorgestelde. Sprekers plaas die aksente op spraakverskille, om sodoende meer dominerend te klink. ʼn Eenvoudige voorbeeld op plaaslike bodem, is ’n huiseienaar wat met sy tuinier of huishulp praat, of iemand wat met ʼn petroljoggie kommunikeer. ’n Ander voorbeeld is ’n jong dosent op universiteitsvlak wat gesag wil afdwing in sy klas waar die studente min of meer tydgenote is – deur meer formeel te praat en van die studente se spraakpatrone weg te stuur. Divergensie word meestal in ’n negatiewe lig beskou.

Die verkleurmannetjie-effek

Ons maak aksente na om onsself met ander te assimileer en om empatie te kweek. Onbewustelik, maak ons ook lyftaal en gebare na om gedurende sosiale interaksies veilig te voel. Dié optrede word die verkleurmannetjie-effek genoem en is deel van ons natuur. Dit mag egter mense in die verleentheid stel – dink maar aan die Amerikaanse sangeres Madonna wat skielik met ’n suiwer Britse aksent begin praat het nadat sy met die Brit Guy Richie getrou het (sy het in Detroit grootgeword).

Al klink jy soms bietjie belaglik as jy praat, het die verkleurmannetjie-effek tog ’n positiewe uitwerking op sosiale interaksies. Navorsing het getoon dat dit help om mekaar beter te verstaan en ’n sterker konneksie met mekaar te maak.

Ongeag van hoe jou aksent dus klink, en hetsy jy van die Weskus of Pretoria kom, bly dit uniek en spesiaal en jy het geen rede om daaroor skaam te wees nie. So bry gerus voort!

Leave a Reply