Skip to main content

Marinda van der Walt

Aan die suidelike kant van die Wes-Kaap sit hy, soms met ‘n visstok, soms met ‘n geleende hoed wat die wind en see gou-gou wegraap – die “treurende wewenaar” van Gansbaai se Karavaanpark.

Volgens oorlewering het dié klip wat reeds jare met sy geel aangeverfde oliejas kompleet soos ‘n man lyk wat op die rotse sit en oor die see tuur, gedaante gekry toe verveelde vakansiegangers dit op ‘n dag padtekengeel geverf het. 

Natuurbewaringsbeamptes het spoedig daarna oor die voorval begin navraag doen, maar dié wat weet, swyg soos die dood.

Toe oornag ‘n groep vroue wat ‘n Christenkamp in Hermanus bygewoon het, een aand in die einste karavaanpark. Die tragiese storie van die wewenaar word passievol om die kampvuur vertel. Dis toe een van die vroue die volgende dag vir die “treurende wewenaar” brood en koffie wou neem en nog een by die vrouebyeenkoms gebid het dat hy vertroosting mag vind, dat die storievertellers besef het die dames het wraggies elke woord geglo wat vertel is.

Die karavaanparkvertellers het liefs geswyg oor die klipwewenaar en die legende van die treurende wewenaar het oor tyd eie geword aan dié dorp se karavaanpark.

 Gaan wuif gerus vir die treurende wewenaar wanneer jy in daardie rigting ry of daar aandoen of gaan bly.

Leave a Reply