Skip to main content

Isaac Cloete

‘n Jong man in die Springbok-omgewing is onlangs doodgeskok toe hy aan lewendige elektriese kabels gepeuter het.

Inwoners van die woonbuurt, Matjieskloof, naby Springbok, het geskok vertel dat die man glo elektriese kabels in iemand se erf wou steel.

Volgens die polisie-woordvoerder Obeleng Tawana het die voorval vermoedelik Donderdagoggend baie vroeg gebeur.

“’n Verbyganger het hom Donderdgogged gesien lê terwyl hy daar verby die toneel gestap het.”

Springbok se polisie is besig met ‘n ondersoek na die voorval. ‘n Dossier is geopen.

Sy lyk met sy “tools” nog in sy hande, het vir ‘n tyd buite naby die kragpaal gelê, het geskokte inwoners van Matjieskloof aan Die Waarheid vertel.

‘n Ingeligte bron wat anoniem wil bly, vertel dat die oorledene op dieselfde datum twee maal probeer het om die kragkabels by verskillende erwe af te sny. Hy glo dis dwelmmisbruik wat mense só waaghalsig maak.

Dit het intussen aan die lig gekom dat die oorledene Denzil Stevens is. Hy was 27 jaar oud en werkloos.

Soos elders, is kabeldiefstal ‘n groot probleem in die Nama Khoi munisipale area, wat Springbok as hoofdorp het. Miljoene rande se skade is al deur die vermeende kragdraaddiewe aangerig.

“Werkloosheid en dwelmgebruik (veral tik) moet die skuld kry vir die diewe se traak-my-nie-agtigheid om aan lewendige kabels te raak as hulle dit wil afsny of saag,” het ‘n gemeenskapsleier gedeel.

Nog meer onlangs het vermeende kabeldiewe weer koperkabels, ook op Springbok gesteel. Dit was koperkabels wat krag aan die selfoontorings hier verskaf, volgens die Valke.

Duisende inwoners was toe sonder selfoonseine en internetkommunikasie vir langer as ‘n dag.

Baie inwoners meen dat dit terrorisme en sabotasie van kerneiendom is. Volgens hulle moet die howe dus geen borgtog aan die verdagtes toestaan nie.

Luit-kol. Sergio Kock, polisiewoordvoerder, het bevestig sulke misdaad soos kabeldiefstal kom neer op die beskadiging of vernietiging van noodsaaklike infrastruktuur.

Leave a Reply