Oeroue Afrikaanse sport ook elders beoefen
Jukskei is so Afrikaans soos braaivleis en koeksisters. Hoewel diė stokoue sportsoort landwyd gespeel word, word dit besonder ywerig in die Bosveld beoefen. Charmaine Lourens het gaan ondersoek instel en verneem dat die spel vinnig oor landsgrense uitbrei.
Die skeie het onlangs behoorlik gespat tydens die Legende Jukskeidag wat in die Bosveld gehou is.
Diė spesiale dag is by Die Oog Jukskeiklub buite Mookgophong gehou om die spelers wie se oorlede ouers ook die spel geniet het, op ‘n besondere wyse te vereer.
Altesame agt spanne van so ver as die Noord- en Wes-Kaap en Suid-Vrystaat het deelgeneem. Van die 32 spelers het 25 al op nasionale vlak hulle slag gewys. Daar is ook hulde gebring aan legendes van die sportsoort wat as Africana deel van ons nasionale kultuurerfenis is.
Die legendes wat reeds oorlede is en vereer is, is Wollie Coetzee (vader van Matie Coetzee), Graaff Genis (snr. – vader van Evert en Fanie Genis), Evert (vader van de Graaff Genis), Fanie Genis (vader van Fanus Genis) en Charel Uys (vader van Tertius en Anton Uys).
Ná ‘n dag se opwindende spel en saamkuier het die span Voetstoots wat grotendeels uit Gautengse spelers bestaan, met die gesogte louere weggestap.
Lida Genis van die Tarentale Jukskeiklub op Mokopane vertel Jukskei is vir oud en jonk en dat dit ‘n ideale sportsoort is vir families om saam te kan beoefen. Dit is een van die oudste sportsoorte en die Genis-familie is ywerige ondersteuners en lede van diė klub.
Die Tarentale Klub is reeds in 1939 op die plaas Zandsloot van wyle oom Graaff Genis gestig. Vandag spog die klub met 16 bane en talle toernooie word hier gehou waarvan die Driespel-kampioenskappe jaarliks spelers van oral trek.
Lida sê jukskei het spontaan ontstaan uit die behoefte tot ontspanning; tydverdryf; die uitbou van die kompetisiegees en gesonde sosiale verkeer met ander. “Dis kultuurgebonde aan die Afrikaanssprekende, maar het deur mededinging; uitbreiding en afronding al hoe meer wetenskaplik geraak, terwyl meer mense van ander kultuurgroepe ook nou daarin begin belangstelling toon.”
Jukskei is vandag nie meer ‘n spel soos twee ander bekende Africana-speletjies te wete blik-aspaai en kennetjie nie, maar ‘n erkende sport. Dit is ‘n kompeterende sportsoort (vergeleke met professionele en rekreasie-sportsoorte) waaraan slegs amateurs mag deelneem.
Die jukskeispel bestaan uit die gooi van ‘n skei, oor ‘n vasgestelde afstand, in die rigting van ‘n pen wat in ‘n sandput geplant is.
‘n Span bestaan uit vier spelers wat gewoonlik in dieselfde volgorde gooi. Daar word verwys na ‘n voorgooier (eerste gooier), tweede en derde gooier, asook die agtergooier (vierde gooier). Een van hierdie spelers is die leier (kaptein) van die span en neem dus die leiding in besluite wat geneem moet word.
Twee spanne speel op ‘n slag teen mekaar en gooi om die beurt na die pen in die oorkantste put. Die doelwit van ‘n wedstryd is om ‘n totaal van 23 te kry voordat jou opponent dit behaal. As ‘n span meer as 23 behaal, “bars” hulle en moet weer van 0 af begin terwyl die opponente aangaan met die puntetelling wat hulle het.
Lida sê daar kan ‘n maksimum van drie skofte in een wedstryd gegooi word. Daar is ook ander kompetisies waar spanne bestaan uit twee of drie spelers om afwisseling in die spel te bring.
Verskeie nasionale kampioenskappe word deur die jaar by Jukskeipark op Kroonstad gehou omdat dit die mees sentrale bane in die land is. Hier kom die spelers van die onderskeie klubs hul beste voet en vaardighede voorsit.
“Huidiglik word die Junior Kampioenskappe gedurende Desember gehou. Die Akademie Kampioenskap vind in Februarie plaas en die Senior Kampioenskap gedurende Maart/April. Die Senior Burger Kampioenskap word in April gehou.“
Die Inheemse Spele vind in Erfenismaand gedurende September plaas waar tradisionele sportsoorte beoefen word. Gedurende Oktober word ‘n Meesterskampioenskap ook gehou.
Tydens die Senior Kampioenskappe word nasionale spanne gekies wat toetse speel teen Namibië se beste spelers. Hierdie toetse “loop oor” na die Kampioenskap in Nambië, wat gedurende Julie in ons buurland gehou word. Daartydens word die finale toetse gespeel en die algehele wenners aangewys.
Die spel word aangevoer deur Jukskei Suid-Afrika. Die Internasionale Jukskei Federasie se oogmerk is om jukskei in ander lande te bevorder. Jukskei word ook in die VSA gespeel. Botswana, Basque (‘n outonome republiek van Spanje), Lesotho, Uganda, Kenia, Kameroen, Sentraal-Afrika, Benin, Mauritius, Hong Kong en Nieu-Seeland is van die ander lande en plekke waar hierdie oeroue sportsoort ook gevind kan word.