Skip to main content

 

Is krionika die antwoord vir onsterflikheid?

Ons almal het al hieroor gewonder: Wat sal gebeur as ek my liggaam op my oudag vries, en weer in 200 jaar se tyd kan wakker word? As ek nou siek is, en my liggaam kan preserveer tot ‘n kuur in die toekoms vir my toestand gevind is? Wat as ek vir ewig kan leef? Daar is mense wat diė gedagte in aksie sit. Dit heet krionika – die tegniek om mense wat sterf, te vries, met die hoop dat tegnologiese vooruitgang hulle weer sal laat lewend word. Glimlag of frons jy? Niemand neem jou kwalik nie. Gerald Eloff het probeer vasstel of die idee verregaande, of tog haalbaar is.

Het jy al van krionika gehoor en wat presies is dit?

Dit is geruime tyd nie meer so vreemde konsep nie, want daar is tans heelwat geriewe in die VSA en ander lande met lykshuise so groot soos pakhuise, wat, wel, met gevriesde koppe en liggame gevul is en “wag vir die toekoms” …

ʼn Klein groepie toekomskundiges glo dit is hulle loterykaartjie tot onsterflikheid. Maar wat is die kanse dat dooies weer gaan of kan herleef?

Krionika word wyd beskou as ʼn pseudo-wetenskap. Krio-bewaring is ʼn wetenskaplike strewe waar menslike selle en organe, en in rare gevalle hele organismes, verkoel word tot ekstreme lae temperature, met die doelwit om later weer opgewek te word.

Dit gebeur reeds in die natuur, hoewel daar beperkte voorbeelde van gevalle is.

Die menslike liggaam is ingewikkeld, as gevolg van die delikate struktuur (in meeste) van ons se koppe. Soos ons weet, indien die brein nie suurstof kry onder kamertemperatuur nie, gaan dit binne minute dood. Alhoewel die liggaam kan herleef, is die persoon wat “leef” gewoonlik breindood. Om die liggaam af te koel, gee dit die brein bietjie meer tyd. Gedurende brein- en hartchirurgie, kan bloedsirkulasie vir tot ʼn uur gestop word, met die liggaam wat tot 20 grade Celsius verkoel word.

Wanneer ʼn krionika “pasiënt” sterf, word vinnig ʼn plan gemaak om die lyk voor te berei en te verkoel, en dan in ʼn Dewar te plaas – ʼn houer soortgelyk aan ʼn termosfles, met vloeibare stikstof in. Dit raak nog vreemder: Aan binnekant van die fles, lê die lyk op ʼn draagbaar. Dis toegedraai in verskillende lae van geïsoleerde materiaal.

Die lyk hang dan kop-onderstebo – sodat die brein verkoel is. Die stikstof moet egter gereeld vervang word. Daar is ander tegniese aspekte waarna ons nie nou gaan kyk nie – maar dat dit reeds tot hier soos wetenskapfiksie klink, is gewis.

Somber en grusame begin

Die beginjare van krionika klink soos iets uit ʼn Frankenstein-boek. Kleinerige eksperimente het reeds in die laat 1960s begin. Alhoewel die prosedure om lyke te vries meer gesofistikeerd in die laaste 50 jaar geword het, het tegnici vroeër jare lyke vinnig voorberei en verkoel met droë ys, voor hulle in die Dewar-kapsule geplaas is.

Dié eksperimente het nie tot preservering gelei nie en was onsuksesvol. Die grootste operasie was by ʼn begraafplaas in Chatsworth, Kalifornië, gelei deur Robert Nelson. Nelson se eerste vier pasiënte was egter nie in vloeibare stikstof gevries nie, maar eerder op ʼn bed van droë ys wat in die lykshuis geplaas is. Een van die lyke was dié van ʼn vrou, maar haar seun het egter besluit om haar te gaan haal (in ʼn lorrie, nogals) en haar toe eerder begrawe.

Die lyke het aanvanklik ontdooi op die beddens en is toe weer mettertyd gevries. Nelson en die lykskouer het toe ʼn vloeibare stikstof Dewar bekom en die oorblywende drie lyke daarin geplaas (wat nogal meet en pas gekos het om almal daarin te kry). Die kapsule is toe binne in ʼn ondergrondse kluis by die begraafplaas gestoor. Nelson het beweer hy het die vloeibare stikstof sporadies vir ʼn jaar vervang, tot die familielede ophou betaal het. Toe het hy maar die lyke laat ontdooi.

Nog drie lyke, wat ʼn agtjarige meisie ingesluit het, was in ʼn tweede kapsule in Chatsworth se ondergrondkluis geplaas. Die vloeibare stikstofstelsel van dié kapsule het egter gebreek. Toe Nelson ondersoek gaan instel het, het almal ontdooi.

In 1974 het Nelson ook ʼn sesjarige seuntjie gevries. Die seuntjie se pa het die kapsule goed onderhou, maar toe hy na ‘n paar weke die kapsule oopmaak, was die seuntjie se liggaam gekraak. Daar is beweer dat die lyk gekraak het omdat hulle hom te vinnig met die vloeibare stikstof gevries het. Hy is toe weer ontvries en begrawe.

Elke eksperiment wat deur Nelson uitgevoer is, was ʼn ramp.

Waar staan ons vandag?

Daar is een persoon wat steeds uit bostaande tydperk bevrore bly. Robert Bedford se gesin het die wyse besluit geneem om in 1967 self na die kapsule om te sien, in stede daarvan om dit in Nelson se sorg te los. Mettertyd, het die lyk geëindig by Alcor – ʼn moderne krionika-instansie. Alcor neem die voortou as dit kom by krionika. Daar is ʼn span navorsers wat heeltyds metodes beproef om die vriesproses te verbeter.

Die industrie in die VSA draai om twee organisasies – Alcor en die Krionika Instituut. By die Krionika Instituut is tans meer as 200 lyke in groot tenks gestoor en dosyne word elke jaar bygevoeg. Tien jaar gelede, sou dit $80 000 gekos het om net jou kop te stoor by Alcor, maar by die Krionika Instituut sou dit jou net $30 000 vir ʼn hele lyk gekos het.

Daar is natuurlik die Russiese-opsie ook – en hulle stoor nie net mense nie, maar selfs troeteldiere. Daar is self ʼn hamster, met die naam van Button, gevries!

Die moderne voorbereidingsprosesse het natuurlik baie verbeter. Vloeistof vir orgaanbewaring word in die are gespuit om stolling te verhoed, voor dit dan in die Dewar-kapsule geplaas word.

Dan kom die familie by …

Moderne krionika het ʼn ver pad gestap sedert Robert Nelson se rampspoedige begin. Ons kan sekerlik nie die feit ignoreer dat toekomstige tegnologie jou dalk weer lewend kan maak nie. Daar is egter nog ʼn probleem om mee tred te hou – jou familie. Daar is heelwat gevalle wat diė probleem illustreer.

Die familie van ʼn gevriesde man in 1978, het later moeg geword om vir die kapsule se instandhouding te betaal. Die instansie wat die lyk gestoor het, bied toe aan om sy kop gratis te stoor (nadat hulle dit afgesny het, natuurlik). Die familie het geweier. Die kop is toe in ʼn drom gevul met formaldehied geplaas (amper soos daai diertjies in die biologieklas toe jy op skool was), en sommer so begrawe.

Twee ander mans is deur hul seuns begrawe, sommer so met die kapsule en al. Familielede kan natuurlik ook hof toe gaan om te beding wat met jou lyk gebeur. Richard Orville se gesin het hom teen sy wense begrawe en toe het die hof in Iowa beveel dat hulle hom heropgrawe en preserveer. ’n Vrou van Colorado het Alcor hof toe gesleep vir haar ma se kop. Alcor het die saak gewen om die kop te preserveer.

Daar is ook teenoorgestelde gevalle – ʼn Vrou het gesê sy wil nie gevries word nie, maar haar man vries haar toe in ieder geval. Na ʼn hofsaak van vier jaar, besluit die staat van Kalifornië dat sy ontdooi en begrawe moet word.

Die volgende geval vat egter die koek – ʼn man van Noorweë was by ʼn affiliaal van Alcor in Kalifornië gestoor. Sy dogter verwyder hom toe en stoor hom in ʼn skuur agter haar huis in Colorado. Toe sy van dė eiendom uitgesit word, vind hulle ʼn gevriesde lyk in haar agterplaas. Nederland, die dorpie se naam in Colorado waar diė grillerige storie ontvou het, “vier” sedertdien jaarliks ʼn Frozen Dead Guy Dag!

Dink voor jy vries …

Die vraag wat mense hulself moet afvra is, is dit die moeite werd om jou kop te vries, of om eerder jou kop te laat ondersoek?

Het jy al gedink hoe jy die lewe in 200 jaar se tyd gaan ervaar? Stel jouself voor jy word wakker en die Springbokke is laaste op die wêreldranglys. Of brandewyn bestaan nie meer nie. Die woke-generasie dryf mense alreeds teen die mure uit, stel jou voor daar is iets erger wat op ons wag. Al jou vriende en familie gaan oorlede wees. Dit als klink vir my maar bra-eensaam.

Waar gaan jy werk? Of sal jy deel word van ‘n tipe-moderne sirkus waar hulle jou as ʼn oorblyfsel van ʼn antieke samelewing gaan uitstel?

Die meeste mense wil in elk geval nie vir ewig leef nie. ’n Meningspeiling in die The Guardian wat in 2011 verskyn het, wys dat net 15% van mense onsterflik wil wees. Hoe ouer mense word, hoe meer glo hulle dat lewensgehalte belangriker as ʼn lang lewe is.

Die nuwe tegnologie klink alles baie mooi en wetenskaplik. Bly dit egter steeds fantasie? Is dit moontlik om die menslike liggaam te vries en dekades later weer te laat herleef? Tans, het jy ʼn kat se kans. Nie eers amper nie. Maar in die toekoms? Dalk. Tans is dit egter wensdenkery.

Lewe eerder voluit vandag en gryp alle kanse aan wat na jou kant toe kom, en los die toekoms en sy probleme vir die nuwe generasies wat sal volg …

Leave a Reply