Skip to main content

George April

Stinkende riool wat nou al meer as 10 jaar in die hoofrioollyn in Moorreesburg verstop en dan oorloop, is teen nou deel van hulle daaglikse roetine.

Só kla raadop inwoners van Eerstelaan en Paul Kruger-straat in Rosenhof. Met die hoërskool wat tans voltooiing nader in dieselfde woongebied, meen hulle die Swartland Munisipaliteit moet nou in rat kom en hulle beloftes hieroor in dade omskep.

Volgens Berverly Huister wat namens die inwoners optree, is die media nou die laaste uitweg. “Daar gaan nie ‘n maand verby nie, dat die riool nie voor ons huise uitloop en ‘n erge stank veroorsaak nie.

“Ons klagtes val eenvoudig op dowe ore, met munisipale amptenare wat slegs elke keer nuwe beloftes maak.

“Ons was al tot vervelens toe by die munisipale kantoor in Malmesbury met ons klagtes op soek na hulp, maar dis asof ons nie ernstig opgeneem word nie.

“Behalwe videos, het ons al selfs lugfoto’s laat neem en aan die munisipale amptenare gewys. Elke amptenaar het elke keer net ‘n beter storie.

 “Daarom het ons besluit om nou die media te nader. “Dalk word daar dan iets aan ons onwelriekende probleem gedoen,” het Huister moedeloos gesê.

Volgens die inwoners sluit van die amptenare wat al kom kyk het, in: Louis Zikman (direkteur: siviele ingenieursdienste), John Barlow (bestuurder: siviele bedrywighede en instandhouding), Inge de Klerk (gesondheidsinspekteur) en Clarise Dirkse (hoofingenieur tegnikus van riool en stormwater).

 “Ons probleem is elkeen van hulle kom net elke keer met ‘n tydelike oplossing, terwyl ons ‘n permanente een soek,” het Huister verduidelik.

“Selfs Marlene Van Zyl, huidige wyksraadslid wat nou in haar tweede termyn dien, se verskonings klink teen nou vir ons soos ‘n Sondagskoolliedjie.”

Die rioolprobleem was Woensdagoggend in Die Waarheid se teenwoordigheid opvallend toe ‘n verstoppingstrok al die pad uit Malmesbury opgedaag het, om riool by die betrokke adresse uit te pomp.

“Daar is duidelik ‘n groot kommunikasieprobleem tussen die betrokke departemente. Intussen, is ons stankprobleem durend,” het Huister bygevoeg.

Zikman het op medianavrae gereageer. “’n Tegniese ondersoek het aangedui dat die oorsaak van die rioolstelselonderbrekings in die omgewing van Eerstelaan en Paul Kruger-straat tweeledig is, naamlik:
“Verstoppings wat veroorsaak word deur vreemde voorwerpe wat die stelsel binnegaan wanneer dit deur gebruikers misbruik word. Dan loop dit oor met spitstyd.

“‘n Tegniese oplossing vir laasgenoemde is geïdentifiseer wat die verskuiwing van bestaande rioolpype en die kruising van die spoorlyn op twee plekke behels. Tans geskied die detail netwerkwerk waarna die implementering sal volg.

“Ongelukkig kan eersgenoemde slegs aangespreek word deur regstellende aksie wat die verwydering van die blokkasie is wanneer dit voorkom. Die skoonmaak van rioolverstopping is deel van die operasionele aktiwiteite van die munisipaliteit en word deurgaans gedoen.”

Leave a Reply