Skip to main content

Net om die woord “bloedsuier” uit te spreek, laat menige mense gril.

Hierdie ongewerwelde hermafrodiete is familielede van ‘n erdwurm, en woon gewoonlik op oewers van mere en damme. Bloedsuiers kom in vars- en soutwater voor.

Bloedsuiers lyk soos ‘n erdwurm wat ooreet is. Daar is suiers aan beide punte van hul lywe waarmee hulle aan die velle van mense of diere heg om dan die prooi se bloed te drink. In hul monde is ‘n paar rye baie klein tande.

Hul speekselkliere bevat hirudin, ‘n peptiede wat verhoed dat die prooi se bloed stol, maar dit dien ook as ‘n verdowingsmiddel sodat die prooi nie bewus is van die bytplek nie.

Bloedsuiers wissel in grootte en kan van 2cm tot 45cm lank wees. Moenie bekommerd raak nie, die grootstes kom slegs in die Amasone voor.

Hierdie parasitiese roofdiere eet hoofsaaklik insekte, weekdiere, viseiers, en wurms, maar heg ook vas aan visse en warmbloedige diere om hul bloed te drink. Hulle dien ook as “skoonmakers” in mere en damme aangesien hulle ontslae raak van afval soos dié van dooie diere en plante.

Op hulle beurt is hulle ‘n goeie voedselbron vir eende, skilpaaie en visse.

Leave a Reply