Skip to main content

Sonnette Lombaard

Die storm rondom die Minister van Finansies, Enoch Godongwana, oor beweringe rakende seksuele aanranding kring vinnig landwyd uit.

Dit volg nadat die Suid-Afrikaanse Polisiediens in Mpumalanga glo ‘n dossier aan die Nasionale Vervolgingsgesag oorhandig het, wat moet besluit of Godongwana gearresteer en van seksuele aanranding aangekla gaan word. ‘n Saak is glo teen die minister geopen ‘n week nadat ‘n werknemer by ‘n lodge in Skukuza in die Kruger Wildtuin beweer het hy het haar aangerand terwyl sy hom ‘n massering in sy kamer gegee het. Dit het boonop glo op Nasionale Vrouedag op 9 Augustus gebeur.

Hoewel Godongwana intussen bevestig het dat hy nou wel met die polisie hieroor gepraat het, word sy geskiktheid as minister uit al hoe meer kringe bevraagteken. Hy het gister met die polisie vergader waartydens ‘n amptelike waarskuwing glo aan hom uitgereik is.

Godongwana het in ‘n verklaring gesê dat hy deur die polisie oor die saak genader is “in wat hulle beweer ‘n kriminele ondersoek teen my is waarin ek van seksuele aanranding beskuldig word”.

Daarvolgens het hy aan die polisie bevestig dat hy wel op Vrouedag in die wildtuin was maar dat hy “nooit enigiemand onvanpas betas het, seksueel geteister of aangerand het nie”. Hy het bygevoeg hy is verlig vir die kans om sy kant te stel en sy ontkenning van die aantygings op rekord te plaas.

Godongwana het ook bevestig dat hy homself Woensdag aan die African National Congress (ANC) se integriteitskommissie onderwerp het en dat hy sal voortgaan met sy pligte as finansminister vir nou.

In die nuutste verwikkeling maak twee direkteure van die nasionale WISE Collective in ‘n sterk bewoorde brief aan pres. Cyril Ramaphosa erg beswaar teen Godongwana se deelname aan die tweede beraad oor geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord (GBVF) met die tema Aanspreeklikheid, Versnelling en Versterking NOU.

Volgens Brenda Madumise-Pajibo en Onica N. Makwakwa is die Minister van Finansies se deelname aan die beoogde beraad krities-belangrik om geskikte befondsing vir die Nasionale Strategiese Plan oor GBVF te verseker. “Dít is slegs moontlik met ‘n politieke hoof wat ten volle begryp dat seksuele teistering en aanranding niė ‘n voorreg, ‘n grap of onverskoonbaar is nie, maar eerder ‘n vorm van geweld en misbruik van mag.”

“Ons kan nie aanspreeklikheid van ander verwag nie wanneer diegene wat hiermee getaak is, aangekla word van sulke vergrype en dan nie daarvoor verantwoordelikheid wil neem nie.

“As kulturele kapitaal tel minister Godongwana se ontkennings en verkleining van seksuele geweld swaarder as die gesamentlike stem en stories van mishandelde vroue.”

Die twee vroue herinner ook pres. Ramaphosa aan ‘n nasionale, verklaarde vereiste in die kernstryd om geweld teen vroue aan te spreek.  “Laastens, herinner ons u weer aan die eerste vereiste van die 2018 #TheTotalShutdown, bykomend tot die beraad, naamlik ‘n verbintenis om nooit ‘n individu aan te stel nie wat met seksuele vergrype geassiosieer word óf een wat die redes en gevolge van GBVF wil verklein of minag.

“Ons doen ‘n beroep op en wag op u leierskap om vanpaste aksie teen minister Godongwana te neem. Indien dit nie gebeur nie, sal so swyg en oorsien as steun van geslagsgebaseerde geweld teen vroue beskou word.”

 

 

 

Leave a Reply