Skip to main content

George April

‘n Tornado het verlede Saterdag inwoners van Velddrif baie groot laat skrik toe dit binne sekondes duisende rande se skade aan eiendomme aangerig het.

In Bokkomlaan het twee woonstelle se dakke in die slag gebly, terwyl ‘n gedeelte van ‘n dak in Angelierlaan weggewaai het. Net langsaan in Jakarandalaan is bome ontwortel, ‘n ringmuur omgewaai en dakkappe beskadig.

Natie Cronje, wat in Angelierlaan woon, het ‘n gedeelte van sy dak, asook sy voor en agter mure verloor.

Volgens Cronje, oorspronklik van Pretoria, woon hy en sy gesin nou minder as twee jaar in Velddrif. “Ek maak enige elektroniese toerusting reg, tog is dit baie moeilik om werk te kry.

“Dit het skielik gebeur, ek het ‘n gekraak gehoor, toe begin dit hard te rëen. Alles het letterlik in sekondes gebeur, ek het nie geweet wat gebeur nie. Water het bo by die plafon begin instroom,” het Cronje vertel.

“Nadat die rëen opgehou het, kon ek uitgaan en gesien my voorste ringmuur se panele lê meer as vyf meter oorkant die witstreep van die hoofstraat. Behalwe my dakplate wat weggewaai het, het die dik dakbalke soos vuurhoutjies geskeur.”

Justis Brand in Bokkomlaan was een van die eienaars wie se dakke in die slag gebly het. Hy het ook groot skade gely, en sy bure moes eweneens hul woonstelle ontruim. “Ek het gedog dis hael wat so val toe ek die harde geluide hoor,” het Brand vertel.

“Selfs toe dit begin rëen het, het ons nie geweet dit was ‘n tornado nie, totdat ons buite gekom het. Die rampbestuurspan het nog dieselfde namiddag opruimingswerk by die woonstelle begin doen.”

Cronje en Jakarandalaan se inwoners was nie so gelukkig wat hulp betref nie. Toe Die Waarheid Sondagoggend opdaag, was Cronje nog besig om rigting te vind. Op ‘n vraag het hy gesê:”Twee manne van rampbestuur was gister hier, maar dit het meer gelyk of hulle stry. Hulle het gesê hulle kom weer en is toe hier weg.”

Toe die media Cronje weer Maandag kontak, was daar nog geen opruimingswerk by hom of in Jakarandalaan gedoen nie.

“Ek het net ‘n oproep van Johan Moolman, ‘n raadslid, gekry wat gevra het of ek fine is,” het Cronje vertel.

Die Waarheid het Maandag telefonies Bergrivier Munisipaliteit gekontak vir antwoorde.

Teen Dinsdag se namiddag was Natie Cronje weer ‘n gelukkige inwoner, toe hy kon vertel van al die opruimingswerk wat munisipale werkers diė dag daar gedoen het.

Hy het bygevoeg dat hy geweldig dankbaar is vir al die inwoners van Velddrif en ander gemeenskappe se ondersteuning. “Die mense wat opgedaag het om hulp aan te bied, of net geskakel het.”

Bergrivier Munisipaliteit het bevestig dat ‘n klein tornado of waterspruit op Saterdag, 13 Augustus in die Velddrif-omgewing opgemerk is. Die Rampbestuur- en Tegniese Dienste-personeel is uitgestuur nadat ‘n oproep van ‘n publieke lid ontvang is.

Volgens die waarnemende hoof van rampbestuur is ‘n mate van skade aan private eiendomme aangemeld, soos dakke wat geskud het, panele wat vernietig is en klein bome wat omgewaai het. Geen fisiese beserings is aangemeld nie.

Die munisipaliteit het via die media van die skade aan ander private eiendomme verneem. Daar is ook berig dat daar geen verkeersonderbrekings was nie. Rampbestuur- en tegniese dienste-personeel het gehelp met skoonmaakoperasies in die geaffekteerde gebiede waar die publiek dit aangemeld en versoek het.

“Bergrivier Munisipaliteit kan bevestig dat ons alle inwoners as ewe belangrik behandel het. Die rampbestuurseenheid speel ‘n koördinerende rol in sulke gevalle waar private eiendom beskadig word.”

Leave a Reply