Skip to main content

 

Sue was eens katjie van die baan!

Almal het al gehoor van Amanda Coetzer, Kevin Anderson en Lloyd Harris. Selfs Wayne Ferreira was op sportlippe gedurende sy paar gloriejare. Wie onthou nog vir Johan Kriek en Kevin Curren? Maar wie ken Sue Rollinson? Diė vrou het op die skamele ouderdom van 20 jaar met een van die grootste tennisgeeste nóg afgereken – die legendariese Billie Jean King (wenner van 39 Grand Slam titels in enkel-, dubbel- en gemengde dubbelspel). Voeg hierby Wendy Turnbull (destyds Australië se top vrouespeler), en haar tennisnalatenskap sal moeilik geëwenaar word. Gerald Eloff het met Sue wat Maandag 61 word, by haar tennisakademie in Johannesburg gesels.

Jy rig tans af by die Sue Rollinson Tennisakademie in Greenside, Johannesburg. Wat presies gebeur daar?

Ek het die akademie in 2013 begin, en daar is tans nagenoeg 90 studente vir tennisafrigting by ons, wat Grayston Preparatory School insluit. Ons het ʼn baie persoonlike benadering as dit by tennisafrigting kom – ons wil ʼn positiewe verskil in ons studente se lewens maak. Tennis, glo ons, is nie net oor styl en tegniek nie, maar ook om dissipline by ons studente aan te kweek, hulle te motiveer en te ondersteun. Verder wil ons hulle help om selfvertroue en karakter te bou.

Waar het jou liefde vir tennis aanvanklik begin?

My ouers was kranige tennisspelers gedurende my grootwordjare – ons het in Mondeor in die suide van Johannesburg gebly. Hulle het omtrent elke naweek by die plaaslike klub gespeel. Ek onthou hoe ek gereeld na skool tennisbane toe gehardloop het om die “om die wêreld”-tennis-speletjie op die baan te speel. Op negejarige ouderdom het ek begin om “ernstig” tennis te speel.

Hoe was dit om ʼn internasionale tennisspeler in die 1980’s gedurende die piek van apartheid te wees?

Dit was vreemd – ek was nog baie jonk en het nie regtig geweet hoe om mediavrae oor apartheid te beantwoord nie. Die sanksies was ook vir my as tennisspeler frustrerend, want ons was nie toegelaat om ook in Suid-Amerika te speel nie, en deelname in die Federasiebeker was ook verbied.

Wat onthou jy van daai historiese dag, toe jy die baan gevee het met Billie Jean King, een van die beste vrouetennispelers van alle tye?

Ek onthou dit soos gister – dit was gedurende die Tournament of Champions Toernooi op Amelia Eiland in Florida in die VSA. My spelpeil op dié spesifieke dag was beter as gewoonlik en ek was glad nie bang om teen haar te speel nie. Dit het my ʼn rukkie geneem om te besef hoeveel daai wen teen Billie my lewe sou verander. Selfs Billie het my vertel dat dit sou gebeur. Ek maak ook ʼn verskyning in haar eerste outobiografie, getiteld The autobiography of Billie Jean King. Sy was ʼn wonderlike mens om gedurende daai tyd te ken.

Wat was die Suid-Afrikaanse publiek en media se reaksie ná jou wen?

Beeld het ʼn lang artikel oor my geskryf, en baie van die ander koerante het ook baie dekking aan my gegee. My afrigter, Gerrie Berner, was ekstaties!

Wat was jou mede-spelers in die tenniskring se reaksie nadat jy vir Billie Jean gewen het?

Almal was baie bly vir my onthalwe, behalwe vir sommige van die junior spelers, wat heel-moontlik ʼn bietjie jaloers en bedreig gevoel het. ʼn Mens moet onthou, ek was die arm meisietjie vanuit die suide van Johannesburg wat dit nooit moes gemaak het nie! En kyk toe net …

Ander prestasies wat jy behaal het wat vir jou uitstaan gedurende jou tennisloopbaan?

Dit was vir my ʼn groot prestasie om vir Wendy Turnbull (wat toe Australië se nommer een vrouespeler was) by die Hilton Head Eiland toernooi in Suid-Carolina in die VSA te wen. Ek het ook die prys vir “vinnigste en kleinste” speler op toer gewen! Dan ook, die onderhoud wat Bud Collins met my gevoer het. Hy was ʼn groot gees in tennis, ʼn briljante joernalis en sportkommentator. Hy is in 2016 oorlede.

Terugskouend, is daar iets wat jy anders gedurende jou tennisloopbaan sou gedoen het, of iets waaroor jy spyt is?

Om die waarheid te sê, nee, niks nie. Ek het my bes probeer, ek het alles gegee wat ek het. ’n Volle 100%. ‘n Mens moet egter die heeltyd wen om aan te hou om oorsee te kan speel.

Wat verg dit van ʼn atleet om ʼn professionele, wêreldklas-tennisspeler te word?

Dis ʼn moeilike vraag! Eerstens, ʼn “bietjie” talent. Dan moet jy baie lief wees vir die spel en ʼn sterk dryfkrag om te kompeteer, en jy moet oor ʼn “wen of niks”-houding beskik. Goeie voetwerk val my ook altyd as ʼn afrigter op. ʼn Goeie wedstrydtemperament is baie noodsaaklik. Jy as ʼn speler, asook jou familie, moet weet dat julle baie opofferings sal moet maak en al julle energie en tyd aan tennis moet afstaan. Tennis moet jou eerste prioriteit wees, anders kan jy maar vergeet om daarin bo uit te kom.

Wat sal jy sê, is die struikelblokke wat ʼn Suid-Afrikaanse tennisspeler moet oorkom om suksesvol mee te ding op die ATP-Reeks?

Dis nie maklik nie. Daar is ongelooflik baie struikelblokke. Eerstens moet jy “wedstrydfiks” raak, en soos ons weet, is daar hopeloos te min toernooie op plaaslike bodem. Geld is ook ʼn faktor, veral met ons swak valuta. Omdat Suid-Afrika in die middel van nêrens is nie, moet die spelers vir maande aaneen oorsee woon om te speel, mits hulle ʼn beurs kry by een van die oorsese universiteite. Dit is steeds swaar vir jongmense, so op hulle eie. Ek moet tog noem dat Suid-Afrikaners tawwe koekies is! Hulle veerkragtigheid ken geen perke nie.

Wie volgens jou die beste vroulike tennisspeler, destyds en vandag?

Ek glo Billie Jean stap met die louere weg. Ek is ook ʼn groot aanhanger van Steffi Graf en Chris Evert.

Wie is die vroulike teen wie jy nog altyd die meeste wou meegeding het?

Beslis Chris Evert. Ek moet net noem dat ek ook teen Renée Richards gespeel het, die eerste tennisspeler wat ʼn geslagsverandering ondergaan het, wat ook in die 1979 Amerikaanse Ope gespeel het. Dit was spesiaal.

Hoe dink jy lyk die toekoms, of die vooruitsigte van Suid-Afrikaanse tennis?

Ek dink Tennis Suid-Afrika (TSA) doen goeie werk en maak op voetsoolvlak goeie vordering. So dalk het ons nog ʼn kampioen in die volgende tien jaar? Daar moet wel meer toernooie aangebied word en ʼn goeie finansiële inspuiting sal nie skade doen nie.

  • Interessant, is Sue nie ál Suid-Afrikaanse vrou en Joziling wat Billie Jean King getroef het nie. King, een van die eerste tennisvroue wat uit die klas geklim het, het ook geswig voor ons eertydse dubbelspelkampioen Ilana Kloss. Hulle is in 2018 getroud. Kloss was saam met die Oos-Kaapse buksie Linky Boshoff ‘n top vrouedubbelspelpaar op die internasionale kringloop in die 1970s.

Leave a Reply