Daar is baie video’s op mediaplatforms van miskruiers wat ‘n bolletjie mis aanrol, maar mense besef nie altyd werklik waaroor dit gaan nie.
Miskruiers is koprofagiese insekte. Dit beteken dat hulle ander organismes se ontlasting eet.
Hulle dieët bestaan nie uitsluitlik uit mis nie, maar wanneer dit op die spyskaart is, verkies hulle dié van herbivore. Karnivoormis hou min voedingswaarde vir miskruiers in.
Nie alle miskruiers rol hul kos na hul blyplekke nie. Sommig vestig hulself in die omgewing waar kos geredelik beskikbaar is. Ander leef weer sommer binne-in die mis, wyl ‘n vierde soort in tonnels onder miskoeke bly.
Miskruierwyfies lê hul eiers in ‘n mis-wors sodat, wanneer die eiers in die miskruiernes uitbroei, die larwes sommer ‘n maaltyd byderhand het. Die ma’s sorg goed vir hul kroos, en daardie rollende bal mis wat soms deur mense waargeneem word, is waarskynlik op pad na miskruierbabas se nes toe.
Nes mense vars kos verkies, verkies miskruiers ook vars mis omdat dit, wanneer dit uitgedroog is, smaak verloor.
Voordat ‘n miskruier sy vonds – wat tot 50 keer meer as die insek kan weeg – aanrol nes toe, klim dit bo-op die bolletjie om sy/haar weg te bepaal. As jy dus een sien wat lyk of hy op die hopie mis dans, kan jy vir seker weet dat hy sy padkaart nes toe beplan.
Miskruiers klim ook op misballe om hul pootjies teen vuurwarm sand te beskerm.