Skip to main content

Charmaine Lourens

Geen beeste mag van vandag (19 Augustus) na of vanaf veilings geskuif word nie. Dit volg nadat ‘n nasionale verbod op die verskuiwing van beeste in Suid- Afrika Dinsdag aangekondig is.

Die verbod sal vir 28 dae geld en is ingestel om bek-en-klouseer te bekamp. Diė hoogsaansteeklike virus het sowat ‘n jaar gelede in Limpopo en KwaZulu-Natal uitgebreek en sowat ses maande gelede ook na Gauteng, Mpumalanga, Noordwes en die Vrystaat versprei.

Mooketsa Ramasodi, direkteur-generaal van landbou, het die verbod aangekondig na ‘n vergadering met belangrike rolspelers in die bedryf.

Ingevolge daarvan mag beeste in Suid-Afrika glad nie tussen eiendomme geskuif word nie, behalwe wanneer die vee na ‘n geregistreerde slagpale vervoer en onmiddellik geslag word.

Beeste mag ook nie tussen plase, gebiede en persele, skoue, vir lobola of vir rituele vervoer word nie. Geen beeste mag vir uit- en invoerdoeleindes geskuif word nie.

Anton Vos, ‘n afslaer van Bosveld Vleissentraal, het aan Die Waarheid gesê die besluit is nie goed deurdink nie. Hy het daarop gewys dat sedert die vorige uitbraak van bek-en-klouseer het lewende hawe agente reeds bio-sekuriteitsreëls in plek gestel. “Daar is byvoorbeeld dipbakke by sekere punte opgerig, die beeste word deeglik geïnspekteer en ons gaan uit ons pad die situasie dop te hou by veilings.”

Hy sê ’n stoetboer wat tans 100 bulle by ‘n veiling het teen R30 000 per bul kan nou nie sy vee verkoop nie en daar is reeds kostes aangegaan om diė beeste voor te berei.

Willie O’Brien, ‘n boer op die Zebediela-pad buite Mokopane wat stoetbeeste teel en skou, vertel hy is nou in Gaborone, Botswana waar hy juis keuring doen oor beeste. Hy het met van die beesboere daar gepraat om te hoor hoe hulle voel oor die Suid-Afrikaanse situasie tans.

“Hulle meen Suid-Afrika moet sy sake in orde kry. Daar word nie goed genoeg beheer uitgeoefen nie. Die grense is nou geblok en daar kan geen diere van Suid-Afrika in Botswana ingaan nie. Dit is Botswana wat die blokwerk doen, want hulle meen Suid-Afrika neem die bek-en-klouseeruitbraak nie ernstig op nie.”

O’Brien meen daar moet daadwerklik opgetree word teenoor oortreders wat beeste rondbeweeg en vervoer, veral uit gebiede waarin die virus baie voorkom.

“Ons moet so gou moontlik die situasie onder beheer kry, want die Suid-Afrikaanse beesbedryf lei ongelooflike skade. Ons naam word deur die modder gesleep en dit word oor die boeg gegooi dat ons dit nie kan beheer nie.”

Volgens O’Brien het hy beplan om na komende skoue te gaan. “Die Gauteng-Noord Skou is egter gekanselleer weens bek-en-klouseer. ‘n Skou word einde van September in Tzaneen gehou, maar ek sal slegs gaan as dit dan al onder beheer is.”

3 Comments

Leave a Reply