Mosie kom dalk teen Cyril
Politieke partye in die Parlement wil ‘n mosie van wantroue teen president Cyril Ramaphosa instel.
Die politieke partye het etlike weke lank vergaderings gehou oor hoe om Ramaphosa die beste aanspreeklik te hou vir die Phala Phala-plaasdebakel.
Die politieke partye sluit die EFF, UDM, ATM en Cope in.
Die DA het hom egter van die versoek om ‘n mosie van wantroue verwyder.
Nuwe rolprent oor Diana
The Princess, ‘n nuwe dokumentêr op HBO oor wyle prinses Diana, word binnekort uitgereik.
Die film bevat geen verteller, geen onderhoude, geen “koninklike kenners” wat dinge in perspektief stel nie. In plaas daarvan bestaan die storie uit nuussnitte en argiefmateriaal van die Britte se geliefste bloubloedlid nog.
Uber-, Bolt-bestuurders staak
Bestuurders van die e-taxidienste Uber en Bolt het gister met ‘n staking in die Wes-Kaap begin. Hulle eis laer kommissiekoste en hoër tariewe vir die bestuurders.
In Gauteng is ‘n soortgelyke staking afgeweer nadat Uber en Bolt ooreengekom het om vandeesweek met die bestuurders te vergader.
Boulers laat Engelse steier
Suid-Afrika het Engeland gister op Lords op 116-6 laat steier voordat swaar reën ‘n vroeë einde aan die openingsdag van die eerste kriekettoets gebring het.
Die Protea-boulers Kagiso Rabada en Anrich Nortje het die groot skade met die bal aangerig.
Spel hervat om 12:00 SA tyd.