Sjokolade, koffie, piesangs en pizza sterf dalk uit …
Klimaatsverandering is ʼn werklikheid. Vloede, droogtes en ander natuurrampe is aan die toeneem. Selfs die seisoene is skynbaar deesdae op hulle kop gekeer. Regerings is traag om die situasie te verbeter (hier by ons heers ‘n obsessie met steenkool en afkeer in sonenergie). Boonop lyk dit of klimaatsverandering aanstons ʼn meer direkte invloed op ons eetgewoontes kan hê. Gerald Eloff het gaan uitvind wat moontlik in die nabye toekoms nie meer in ons kombuis- en yskaste gaan wees nie.
As gevolg van stygende temperature en droogtes, kan sommige oeste in die nabye toekoms heeltemal uitgewis word, of baie skaars en onbekostigbaar duur word. Dis nie asof ons nog ʼn rede nodig het om dadelik te reageer om diė probleem hok te slaan nie, maar die idee om nie meer van jou gunsteling-kossoorte te kan eet nie, dien dalk as motivering. So watter kossoorte praat ons van?
Piesangs
Jou gunsteling-bestanddeel vir ʼn Smoothie, piesangbrood (en behoede ons, jou pizza) gaan ook moontlik in die slag bly. ’n Onlangse studie deur die Exeter Universiteit, het bevind dat piesangs deur klimaatsverandering in 10 lande teen die jaar 2050 uitgewis sal wees. Alhoewel piesangopbrengste sedert 1960 as gevolg van hoër temperature en verbeterde produksiemetodes gestyg het, sal aardverwarming, vloede en droogtes piesangproduksie bedreig. Dit is nie net Suid-Amerika wat geraak gaan word nie maar ook Asië. Indië, wat die wêreld se grootste verskaffer (en gebruiker) is, asook die Filippyne verwag in die volgende paar dekades groot afname in piesangoeste.
Jou skelm plesiertjie ook …
Gits! Sjokolade is ook ongelukkig een van die bedreigde kossoorte. As gevolg van klimaatsverandering, is die kakaoplant heel moontlik teen 2050 uitgewis. Tans, kom 50% van die wêreld se sjokolade vanaf twee lande: Cote d’Ivoire en Ghana. Dié plant is vir omgewingsveranderinge uitermatig sensitief, wat verduidelik hoekom dit net naby die ewenaar gevind kan word. Dit word al hoe moeiliker om kakaobone te groei, as gevolg van ekstreme weerpatrone wat temperature verhoog en reënval verander. Die bedreiging van klimaatsveranderings vir sjokolade is so ernstig, dat die vervaardigers van die bekende Mars sjokoladestafie met wetenskaplikes aan die Universiteit van Kalifornië saamwerk, waar hulle besig is om tegnologie te ontwerp wat sal help dat kakao oorleef. Kom ons hoop maar die oplossing kom gouer as later, want ʼn wêreld sonder sjokolade sal maar bra bitter wees.
Rys
Jip, dié Asiatiese stapelvoedsel word ook bedreig. Volgens ʼn verslag deur die Voedsel en Landbou-organisasie (FAO), bemoeilik klimaatverandering se stygende temperature, veranderende reënpatrone en stygende seevlakke rysverbouing. Dit sal veral ʼn impak op Asië hê, waar die lewensvatbaarheid van grond om rys op te groei tot 50% in die volgende eeu sal afneem. Om sake nog meer te vererger, het ʼn 2019 studie in die Nature Communications-joernaal bevind dat ʼn atmosferiese konsentrasie van koolstofdioksied die arseenvlakke verhoog wat mikro-organismes vrystel. Elke keer wat ʼn rysland besproei word, hoop die arseen op in die nuwe ryskorrels wat volgende moet geoes word. Dit is kommerwekkend, aangesien ons weet dat rys die wêreld se derde grootste graangewas is.
Net nie koffie nie!
Dink jouself ʼn oggend in sonder ʼn regmakertjie! Dié gewilde stimulant gaan uitsterf teen 2100 omdat 50% van die grond teen daai tyd onbewerkbaar sal wees. Daar word beweer dat dié stimulant kan verdwyn aangesien 50% van die grond waarop koffie in gegroei word, nie meer teen 2100 bewerkbaar sal wees nie. ʼn IPCC-verslag (Inter-regeringspaneel oor klimaatverandering) waarsku dat daar ʼn dringendheid is om grond beter te bestuur, met bogrond-erosie wat vinniger as van tevore gebeur.
Nog ʼn studie wat in Science Advances joernaal gepubliseer is, waarsku dat gewilde koffie-variante in die moeilikheid is, Arabicakoffie ingesluit, wat amper 60% van die wêreld se produksie is. Om dinge vir koffie nog erger te maak, sukkel koffieboere boonop met siektes soos koffie-roes, wat amok maak as gevolg van warm temperature wat deur aardverhitting veroorsaak word.
Ons as verbruikers gaan dit ook aan ons sakke voel, en die verhoogde pryse het reeds begin. Die nuusagentskap Reuters het reeds berig dat die prys van Arabicabone 25% hoër teen die einde vanjaar gaan wees. Selfs die grootkop van Starbucks, Howard Schultz, het in Time tydskrif gesê dat klimaatverandering die kwaliteit van koffie in die nabye toekoms gaan affekteer.
Die slegte nuus hou egter nie op nie – Amerikaanse navorsers het bevind dat die kwaliteit van jou gunsteling koppie koffie vir veranderinge in die omgewing sensitief is. Meer spesifiek – die blootstelling van koffieplante aan intense lig kan die smaak beïnvloed. Koffieplante groei in hoë plato’s en haat ryp. Gelukkig werk Finse wetenskaplikes tans aan ʼn manier om koffie in ʼn laboratorium te groei, deur plantselle van die blare van koffieplante te gebruik.
Pasta (van koring gemaak)
Arm studente gaan niė van diė voorspelling hou nie! Die Franse Pasta Vervaardigersunie het ons reeds begin waarsku. Droogte en te veel reën het durum-koringlande reeds geknou, wat verantwoordelik is vir die verwerking van penne, macaroni en ander pasta variëteite. Gedurende Augustusmaand vanjaar, het die industrie aangedui dat die droogte in Kanada, wat verantwoordelik is vir tweederdes van die wêreld se durum-koringhandel, alreeds ʼn afname van 32% van oeste wys, in vergelyking met die gemiddeld van die laaste vyf jaar.
So, hoe kan ons help?
Ons kan nie veel doen aan wat regerings besluit nie, maar ons kan klein verskille aanbring aan ons leefstyl wat dalk kan verhoed dat ons gunsteling-kossoorte uitsterf. Eerstens, koop minder vleis, melk, kaas en botter en maak seker dis plaaslik en seisoenaal – en probeer om minder weg te gooi. Dit verg bietjie meer beplanning, maar sal veroorsaak dat die kos wat oorbly nie in die asblik beland nie.
Die ander opsie is om ʼn komposhoop in jou erf te maak en die oorblywende kos daarop te gooi. Stap ʼn bietjie meer, of koop ʼn fiets. Indien dit veilig is, los jou motor in die motorhuis so af en toe. Nie almal kan ʼn elektriese motor bekostig nie, so dis die tweede beste opsie.
Vlieg net wanneer dit absoluut nodig is en hou vergaderings via e-pos (gelukkig het Covid-19 ons al gewoond gemaak hieraan). Gebruik daai supermark se materiaalsakkie wat in die kas lê en beperk plastiek tot die minimum. Gebruik LED-gloeilampe. Gebruik die wasgoedlyn in stede van die tuimeldroër (dis dalk die maklikste verandering aangesien dit so baie krag gebruik – dis nou te sê as die krag aan is). Sonpanele is ook ʼn opsie, maar dis tans baie duur. Dit sal egter meer bekostigbaar in die toekoms word.
Die idee om jou gunsteling kerrie te eet sonder rys (of piesangs) is amper ondenkbaar. En die lewe sonder koffie en beskuit laat ʼn bitter smaak in die mond. Maar met klein verskille en opofferings, deur elkeen van ons, kan ons die planeet dalk ʼn beter plek vir ons nageslag maak (en hulle sal dan steeds ʼn koppie koffie kan geniet).