Skip to main content

 

Isaac Cloete

Dis nie aldag dat Vader Krismis in die snerpende winter ‘n draai in Afrika gooi nie.

Al was vandeesweek se Woensdag nog nie 25 Desember nie, het dit vir die inwoners van die Buffelsrivier wel gevoel of Kersfees voortydig op hul voorstoepe ontvou. En dit ten spyte van bibberende koue weer.

Kersfees kon vroeg hier gevier word nadat die inwoners vleisgeskenkpakke ter waarde van R103 600 ontvang het. Dit het bestaan uit beesvleis en hoendervleis. ‘n Verdere R23 600 se hoenderpakke sal op ‘n latere stadium aan die inwoners oorhandig word.

Die diamantmynmaatskappy, Mafisa Mining, het die reuse-vleispakke ter waarde van duisende rande self gaan aflewer. Werknemers van die maatskappy en die plaaslike raadslid, Amos Polori, het sommer in ‘n deur-tot-deur operasie die inwoners van diė afgeleë Namakwalandse dorpie met die ruim geskenkpakke verras.

Personeel van die plaaslike gemeenskapsradio-stasie, Die Waarheid-koerant en vrywilligers het ook saamgespan om diė reuse-taak binne ‘n dag af te handel.

Voor die aflewering het Yochanan Liebenberg, hoof van Mafisa se mynbedrywighede, in ‘n boodskap gesê dat mense se hande en harte oop moet wees, dan sal hulle geseënd wees en nog meer ontvang.

“Die groot Gewer is God, want sonder hom is ons niks nie. Die waarheid is dat almal van ons iets het om te gee, al is dit nie altyd materieël van aard nie. Net ‘n oor om te luister is ook goed.

“Ons is ‘n groot familie en daarom moet ons probeer om ‘n nasie van gewers te word.”

Hy het bygevoeg dat die maatskappy verdere winste ook sal deel, veral wanneer groter stene gemyn gaan word.

Polori het gesê toe hy sy foon opgetel en vir hulp gevra het, het Mafisa onmiddellik gereageer. “Hulle is altyd bereid en gee die soort samewerking wat ons soek.

“Mafisa is die eerste myn wat bereid is om 5% van sy opbrengste aan die inwoners te skenk. Ook gee hulle 5% aan die plaaslike werkers op die myn.”

Sowat twee maande gelede het kabeldiewe ‘n plaaslike transformer in Buffelsrivier beskadig nadat hulle die elektriese kabels gesteel het. Dít het veroorsaak dat die inwoners vir meer as twee weke sonder krag en water gesit het. Feitlik al die 400 huishoudings het toe aansienlike skade aan bederfbare produkte gely.

‘n Inwoner, Chandré du Plooy, het vertel dat dit ‘n baie moeilike tyd was toe die krag so lank af was. Hulle moes gereeld hout gaan haal en daarna vuur maak om kos gaar te kry.

“Selfs Sondae moes ons in die vuurrook staan met ons uithangklere. Die verdagtes ken ek persoonlik, daarom is ek so hartseer oor die voorval. Hulle het egter net so gely toe ons almal so lank sonder krag was.”

Beukes “Buks” Potgieter, assistentbestuurder van die maatskappy, het na afloop van alles vertel dat hy die vreugde in die inwoners se oë kon sien. Hy is bly dat die 1.5 ton beesvleis en 0.5 ton hoender ‘n welkome present vir die inwoners is na die onlangse swaarkry.

One Comment

  • Bertus Hanekom says:

    Yochanan baie dankie vir julle groothartigheid, God sien dit en sal julle en FDG net meer en meer seen.

Leave a Reply