Skip to main content

Vegetariër vs vegan

My dogter is ‘n vegan, my seun oorweeg dit ook. Hoe maak ‘n tuiskok met ‘n beperkte begroting en soveel bestellings? Schalk Schoombie het gewonder en toe ‘n blink plan bekook.

Terwyl my kinders jonk was, wou hulle nie pampoen, groenbone en broccoli eet nie. Die universele stryd van ouers wat gesonde kossies vir hul spruite probeer voer met: “Eet jou groente!”

Ons moes seker iets reg gedoen het, want noudat hulle volwassenes is, is dit die kinders wat hul ouers oor die vingers tik oor dieet.

Die jonger generasies is meer ingelig en passievol oor verantwoordelik eet. My dogter Isa werk vir die Marriott Hotel Frankfurt in Duitsland, waar sy met Duitse presisie in die gasvryheidsbedryf opgelei is. Deesdae is sy ‘n streng vegan. Dis ‘n gedoente wanneer sy kom kuier in Alberton, want sy eet byna niks wat ons as gesin eet nie, beslis nie spek en eiers en boerewors nie, en daar moet hope duur bestanddele gekoop word sodat sy kan kosmaak. (Een ding wat sy mis, is biltong!)

My seun, ‘n akteur, is baie gesondheidsbewus, ‘n joga-entoesias, en hy wil geleidelik vleis en vis uit sy dieet sny.

Dit het begrotingsimplikasies. Ek is maar outyds en eet alles, binne perke en met matigheid voor oë. Ek beskou myself as ‘n fleksitariër, met relatief min vleis en vis op die spyskaart.

My huurder, ‘n oud-rugbyspeler, het op 59 besluit om finaal af te sien van sy braaivleis-en-bier-en-slaptjips dieet en die radikale oorgang te maak na veganisme. Hy drink nou meestal groen smoothies wat hy self brou, en hy het sy magie oornag verloor. Hy klink en lyk baie gesonder, slanker en meer energiek.

Selfs geharde vleiseters met gesondheidsprobleme (diabetes, hoë cholesterol en hoë bloeddruk) oorweeg dit deesdae al hoe meer om groente en vrugte op die bord te skep.

Groothandelaars soos Checkers, Pick & Pay en Woolworths bied vele opsies wat die oorgang makliker maak: vegan-worsies, “hoenderrepies”, “maalvleis”, “biefburgers” en dies meer. Mugg & Bean het ‘n vegan braaibord op die spyskaart wat nogal lyk soos ‘n outydse mixed grill. Hierdie opsies is nie altyd so smaakvol nie – ek proe aan alles – en die pryse kan onverteerbaar wees.

‘n Vegetariër, seg Dokter Google, eet nie die vlees van diere, pluimvee, vis of skulpdiere nie. ‘n Vegan is ‘n streng vegetariër wat wegbly van suiwel, eiers en enige ander bestanddele wat van diere en lewende wesens verkry word.

Die vegetariese dieet kan teruggevoer word na 700 jaar voor Christus en kom in verskeie variasies voor, dikwels om gesondheids-, etiese, omgewings- en godsdienstige beweegredes. Vegetariese diëte bestaan hoofsaaklik uit groente, vrugte, graankorrels, neute, peulgewasse en sade. Sommige sluit suiwelprodukte soos melk, jogurt en kaas in, asook heuning en eiers.

Vegetariërs onderskei hulself so:  Lakto-ovo-vegetariërs wat alle diervleis vermy, maar suiwel en eierprodukte eet. Lakto-vegetariërs eet nie suiwelprodukte nie. Ovo-vegetariërs eet wel eiers. Vegans sny alle diereprodukte uit. Hoewel hulle soms as vegetariërs beskou word, eet pescatariërs en fleksitariërs wel diervleis, wat hulle van die definisie uitsluit. Miskien is hulle bloot wannabes wat hard repeteer om eendag vegetariërs of vegans te wees, en dalk nooit daarby sal uitkom nie.

Volgens die Vegan Vereniging is veganisme die strengste vorm omdat dit teen alle wreedheid teen en misbruik van diere is. Buiten vleis en vis sluit die vegan-dieet produkte soos gelatien, heuning, karmyn, pepsien, skulp, albumien, wei, kaseïen en sommige vorme van vitamien D3 uit.

Eties gesproke is vegetariërs teen die doodmaak van diere vir kos, maar dink dis aanvaarbaar om diereprodukte soos melk en eiers te eet indien die diere in voldoende toestande gehou word.

Vegans glo weer dat diere die reg het om vry te wees van menslike gebruik, hetsy vir voedsel, wetenskap of vermaak. My dogter het as tiener al geweier om dieretuin of sirkus toe te gaan.

My lewe lank het ek onbenullige en bevooroordeelde grappies gemaak oor vegetariërs en vegans, die onderwerp oppervlakkig betrag en meestal vermy. Maar my dogter se veganisme het my genoop om die onderwerp ernstiger te benader en deeglik te bestudeer.

Navorsing toon dat vegetariese en vegan-diëte laag in versadigde vette en cholesterol is, en hoog in plantverbindings. Ander voordele van hierdie diëte is welbekend. ‘n Oorsig van 100 studies in Critical Reviews in Food Science and Nutrition (2017) bevind dat vegetariërs en vegans laer vlakke van liggaamsmassa-indeks, cholesterol en glukose het vergeleke mense wat vleis eet.

‘n Swak beplande vegetariese of vegan dieet kan lei tot ‘n lae inname van voedingstowwe, veral yster, kalsium en vitamien D. Beide diëte bevat beperkte hoeveelhede vitamien B12 en langketting-omega-3 vetsure, gewoonlik laer vir vegans as vir vegetariërs.

Aan die negatiewe kant het een studie in The BJM (2019) bevind dat die risiko van beroerte 20% hoër is by vegetariërs vergeleke met nie-vegetariërs – hoofsaaklik omdat daar ‘n groter voorkoms van hemorragiese beroerte is, ‘n toestand wat gebeur wanneer bloedvate verswak en bars en in die brein bloei.

Die goue middeweg, die fleksitêre dieet, word beskryf as ‘n semi-vegetariese eetstyl wat jou aanmoedig om minder vleis en meer plantgebaseerde voedsel te eet. Dit laat my gemaklik voel dat daar nie spesifieke reëls en voorskrifte aan gekoppel word nie, maar dit tog riglyne bied aan diegene wat hulle inname van vleis wil verminder. Daar is sommige van die gesondheidsvoordele en minder politiekery van die vegetariese leeftsyl betrokke, en ek kan myself troos dat die fleksitêre dieet goed is vir die planeet omdat ‘n oorwegend plantgebaseerde dieet minder fossielbrandstowwe, land en water gebruik.

Veganisme, soos ek by my dogter geleer het, is diep gewortel (verskoon die woord) in diereregte. Baie vegans weier om enigiets te koop wat wol, leer, sy of suede bevat. Dit beteken in sommige gevalle dat hulle meer afhanklik is van sintetiese en plastiekstowwe, wat nie noodwendig goed is vir die planeet nie – ‘n turksvy. Maar ek respekteer die voorneme om goed te doen. Ek is self ‘n diereliefhebber met drie woelige Jack Russels. My dogter het twee katte en ‘n seldsame slaapmuis (dormouse) wat sy van verkluiming uit die veld gered het.

Wat my beursie en vindingrykheid altyd tot die uiterste strek as tuiskok, is die duur bestanddele en veral plantgebaseerde fopkosse wat lyk soos hamburgers, hoenderrepies, vis, kaas en diverse vleisgeregte. Verder kan ek getuig daar is baie skil- en kapwerk daaraan verbonde.

Ek het begin met ‘n paar van my eie streng vegetariese geregte wat verbasend goed afgaan by my gesin. Gebakte groentes, slaaie, en veral my rooi lensiesop, waarvoor Esau dalk sy geboortereg sou verkoop het (sien resep onder).

So leer (eet) ‘n mens immers ook lewenslank.

Vegan rooi lensiesop

2 eetlepels olyfolie

1 ui, gekap

2 wortels, gekap

2 selderystingels, gekap

1 medium aartappel, geskil en gesny

1 medium patat, geskil en gesny

2 murgmapoentjies, in kwarte gesny

1 eetlepel gemengde groen kruie

1 bossie spinasie, opgekerf

2 knoffelhuisies, fyngedruk

1 eetlepel gerasperde vars gemmer

I blik fyn tamatie

‘n koppie rooi lensies

1 liter groente-ekstrak

2 teelepels kerriepoeier

Sout en swart peper na smaak

Metode:

In ‘n swaarbodempot braai die uie, seldery, knoffel en gemmer in die olyfolie tot deursigtig.

Voeg die kerrie en groen kruie by en braai nog ‘n minuut.

Voeg die lensies en al die groente behalwe die spinasie en murgpampeontjies by en roerbraai een minuut in kerriemengsel.

Roer die tamatie uit die blik by en voeg die groente-ekstrak by.

Sit deksel op en kook driekwartuur oor medium hitte of tot groente sag is. Roer nou en dan. Voeg nog water by indien die sop te dik raak.

Voeg die murgpampoentjies en spinasie by vir die laaste kwartuur.

Geur met sout en swartpeper.

Nota: Hierdie sop kan aangepas word met groente van jou keuse.

BRONNE:

https://www.healthline.com/nutrition/vegan-vs-vegetarian
https://www.insider.com/guides/health/diet-nutrition/vegan-vs-vegetarian
https://www.healthline.com/nutrition/flexitarian-diet-guide

Leave a Reply