Skip to main content

Musk wil dalk Man U koop

Die Suid-Afrikaans-gebore miljardêr Elon Musk het terloops op Twitter genoem dat hy die ikoniese Engelse sokkerklub Manchester United wil koop.

Dit is onduidelik of die twiet ‘n grap was en of Musk dit oorweeg om die klub werklik te koop, maar dit is welbekend dat die voormalige United-direkteur en sakeman Michael Knighton in gesprek met verskeie miljardêrs is om die klub oor te neem.

SA steenkooluitvoere skiet die hoogte in

Suid-Afrika se steenkooluitvoere na Europa het in die eerste helfte van die jaar veragtdubbel teenoor verlede jaar se syfer.

Die vraag na steenkool het gestyg voor ‘n verbod op Russiese steenkool op 10 Augustus in werking getree het. Die verbod is deel van sanksies teen Rusland vir sy inval in die Oekraïne.

Nuwe supermarkgroep bekend gestel

Pick ‘n Pay het Maandag sy nuwe supermarkhandelsmerk QualiSave in Eersterivier, Kaapstad, bekend gestel.

Qualisave is ‘n winkelketting wat aansienlik verskil van dié van sy moederhandelsmerk en sal vir opkomende middelklasverbruikers voorsiening maak.

Elke QualiSave-winkel is uniek aan sy streek in terme van sommige van sy produkte, met byvoorbeeld die Eersterivier-tak wat die geel rosyntjiebrood verkoop wat veral gewild in die omliggende gemeenskap is.

SA het groot planne in toets op Lords

Die Proteas sal hul posisie as derde beste toetsland op die IKR se wêreldtoetskampioenskap se ranglys wil verbeter wanneer die eerste van drie toetse teen Engeland vanoggend op Lord’s begin.

Die snelbouler Kagiso Rabada, wat met ‘n besering gesukkel het, is in die wedstrydgroep ingesluit.

Die groep waaruit die elftal kort voor aanvang van spel gekies sal word, is: Dean Elgar (k), Sarel Erwee, Marco Jansen, Simon Harmer, Keshav Maharaj, Aiden Markram, Lungi Ngidi, Anrich Nortjé, Keegan Petersen, Kagiso Rabada, Ryan Rickelton, Lutho Sipamla, Rassie van der Dussen, Kyle Verreynne, Khaya Zondo en Glenton Stuurman.

Leave a Reply