Skip to main content

‘Hy is net ‘n kind wat foute maak’

‘n Navorser meen Trompie is ‘n slegte voorbeeld vir ons kinders. Hy is glo gewelddadig, seksisties en dink hopeloos te veel van homself. Dirk Lotriet het bietjie rondgevra om uit te vind hoe Die Waarheid se lesers oor haar bevindinge dink.

As laerskoolseun het ek alles gelees wat ek in die hande kon kry – maar die fratse van die nimlike karakter Trompie was maar my groot gunsteling.

Trompie, die leier van die Boksombende. Die kranige rugbyspeler wat appels kon swaai en gedurig in die pekel beland het en moes buk vir ‘n paar houe met ‘n rottang. Maar, soos die dominee in Topsy Smith se gewilde boeke ‘n paar keer opgemerk het, hy was onnutsig, maar darem nooit lelik stout nie.

My ouers het gedink dit is ‘n goeie ding dat ek my so in die wedervaringe van Trompie Toerien van Kwaggaberg kon verlustig. Hy is immers ‘n heilsame karakter wat ‘n goeie invloed op my het, het hulle gereken.

Aikona! Reken Corene de Wet, navorsingsgenoot aan die Universiteit van die Vrystaat. Sy het ‘n navorsingsverslag oor Gendertemas in Topsy Smith se Trompie-boeke op Litnet gepubliseer, en volgens haar is Trompie-boeke glad nie so onskadelik nie.

Sy het fyn gaan kyk na 24 van die oorspronklike Trompie-boeke (1950–6) wat gedurende die jare 2013 tot 2020 in agt omnibusse versamel en heruitgegee is, en sy is baie krities oor wat sy gesien het.

Behalwe as kinders dit lees met die doel om nie soos Trompie te wees nie. “Deur die kritiese lees van die Trompie-boeke kan kinders tot die besef gebring word dat die werkplek van die 1950’s anders as dié van die 2020’s lyk. Alle leerders – ongeag ras of geslag – kan groot hoogtes in uitdagende beroepe bereik. Die Trompie-boeke wat in die 1950’s verskyn het, kan dus jongmense van die 2020’s motiveer om standpunt teen genderstereotipering – ongelykheid en -geweld in te neem,” skryf sy.

Volgens haar is Trompie ‘n boelie met ‘n oordrewe selfagting wat glo dat geweld alles kan regmaak. Trompie gebruik geweld en intimidasie om sy magsposisie oor sy medelede van die Boksombende en ander seuns te vestig en in stand te hou, skryf sy.

Voorts is Trompie ‘n seksis wat neerkyk op vroue. Hy is neerhalend teenoor meer verfynde seuns, sien iets manliks in iets so brutaal soos lyfstraf en is versot op gewelddadige sportsoorte soos rugby en boks, terwyl hy tennis verag.

“Mans word as Afrikaner-elite voorgehou. Vrouekarakters in die patriargale Afrikanergemeenskap word óf uitgebeeld as versorgers en huisvroue of individue vasgevang in kenmerkende vroueberoepe, soos ontvangsdames en onderwysers, óf bespot. Die meisies wat paaie met Trompie kruis, word as oppervlakkige, geldgierige en ydel randfigure gestereotipeer,” skryf De Wet.

Kan dit wees dat ek ‘n regte lieplapper as held voorgehou het? Is ek net lid van ‘n slegte generasie vrot van die toksiese manlikheid?

Ek het dadelik my seun, Rikus, gebel om navraag te doen.

“Dit was die norm van die tyd en beteken nie dat Trompie seksisties was nie. Ek het baie van Trompie gehou – sover ek kan onthou. Juis oor hy nie perfek was nie. Soos enige tienerseun het hy sy foute gehad en op sy manier teen gesag baklei (byvoorbeeld sy hemp wat altyd uitgehang het.).

“Maar dis ook wat dit ‘n goeie storie gemaak het, want hy wou ‘n goeie mens wees ondanks sy soeke na homself en sy eie kinderlike selfsug.”

“Die een ding wat ek wel nie maklik kan oorsien nie, is toe Trompie die tuinier se swerwersvriend se hond afgerokkel het.

“Dit was vir my pynlik toe die man heeltyd sê dat Boesman sy enigste vriend op die pad was.

“Die hond was seker beter versorg by Trompie-hulle en ek raai dit is hoekom die swerwer die hond laat gaan het. Maar die manipulasie waarmee Trompie daai dag vorendag gekom het, was bitter selfsugtig.”

Hmmm … Dit is dus nie net my eie generasie nie. ‘n Jonger geslag kan ook deur Trompie se foute kyk …

Die aktrise en joernalis Elma Potgieter, beter bekend as Tannie Elma in die dae wat baie van ons lesers met ‘n Trompie-boek opgekrul gelê het, vertel haar dierbare nie-chauvinistiese pa het van kleinsaf vir haar en haar suster boeke aangedra – van Saartjie tot Orwell “wat ek in standerd vier (graad 6) gelees het”.

“Ek het die hele Saartjie-reeks, die Maasdorp-reeks; die Uile en ‘n paar Trompies gelees. Terugskouend kan ek aan niks dink wat my gepla het nie.”Ek haal graag vir Elisabeth Eybers aan met betrekking tot die irriterende beheptheid met ‘seksisme’, ‘rassisme’, en ‘outokratisme’ en al die ander ‘-ismes’. As ‘n mens seker is van jou eie waarde hoef jy nie diskriminasie agter elke bos te soek nie.

“Soos ek gisteraand op FB aan ‘n paar van my manlike kollegas laat weet het: ‘Ek hou nou maar eenmaal van mans’ …”

Die Waarheid se lesers stem saam dat Trompie dalk nie so boos is as wat die navorser meen nie.

“Dinge het baie verander vandat ons kinders was. Ek weet nie of enige van ons klasmaats ‘n krimineel uitgedraai het omdat ons met Trompie- en Ruiter in Swart-boeke grootgeword het nie,” sê Kleintjie Marx van Zeerust.

“Selfs die liedjie Siembamba kan as violent gesien word … êrens in die liedjie is ‘trap op sy kop dan is hy dood’…. as my geheue my nou nie liederlik in die steek laat nie.”

Marlize Nel van Keetmanshoop sê die Trompie wat sy onthou, was beslis nie ‘n boelie nie.

“Hy mag deur vandag se jongmanne as ‘n boelie uitgekryt word, want hy was nog die tipiese seun wat nie sy middae voor ‘n TV deurgebring het met ‘n selfoon in die hand en ‘n bak chips in die ander nie.

“’n Oorbel en ‘facials’ was beslis ook nie sy lyn toe hy ouer geword het nie. Trompie het leiereienskappe gehad soos wat jy by min jong seuns vandag nog kry, want vandag se kinders wil deel van die verkeerde ‘bende’ wees. Groepsdruk om dwelms en wie weet wat als nog te doen, is vandag oorweldigend.

“Ek is sommer net bolwange oor Trompie. Ek lees nou die boek Thula Thula en my hart breek elke dag in duisend stukkies. Kinders moet sorgloos grootword soos ou Trompie.

“Lyfstraf is ‘n verhaal op sy eie, jammer, maar ek is ‘n groot voorstander daarvan, want kinders se ore sit in hul g@tte. Hier is jong skoolseuns wat die lyf van ‘n voorry het, maar nog nooit sy hande aan ‘n rugbybal gesit het nie, hy speel eerder klavier. Nee, ek is jammer, maar ons jongmanne het sag geword, wens daar was meer Trompies in vandag se lewe. Hul sê alle jongmeisies soek ‘n aantreklike man, maar die aantreklike manne het reeds manne.”

Die fotograaf Dawid Roux het Trompie verslind. “Ek het Trompie en sy dinge vreeslik geniet. Ek het ook een van my susters se Saartjie-boeke gelees (selfde skrywer). Die Uile van Cor Dirks was egter my gunsteling.”

Ben de Wet, ‘n prokureur van die Wes-Kaap, meen hy sal maar versigtig wees as sy seuns Trompie nou moes lees. “Ek dink baie goed het gepas in ons perspektief, maar nou kan van dit baie gevaarlik wees. Ons het vrugte en groente gesteel onder die vaandel van kattekwaad, maar nou moet ek aan ouers, landdroste en klaers probeer verduidelik dat dit eintlik nie so erg is as hul kinders dit nou doen nie.

“My oom Kola is al lankal dood, maar hy het in die 1980’s gesê dat hy sy kinders dood sal slaan as hulle doen wat hy gedoen het toe hy kind was.”

Deon Barnard van Kemptonpark sê daar’s niks met Trompie-boeke verkeerd nie.

“Dis hoe sommige … selfs die meerderheid … seuns was in daai tyd toe die Trompie-boeke geskryf is. Trompie se avonture, sy mening oor meisies en sport is tipies van daai era en hoe seuns van daai ouderdom gedink en opgetree het.

“Vandag se jongspan kan dalk anders wees, want hulle weet nie van karretjies en kleilatgooi en swem in die rivier nie. Dis net selfone en TV games.

“Die navorser klink nou amper vir my soos my dogter se graad 9 biologie-onderwyseres … Toe dit by die voortplanting van die mens kom, moes hulle die illustrasies van die voortplantingsorgane met stickers toeplak.”

Ure nadat ek die oggend met my seun gepraat het, toe laat hy weer van homself hoor. Die ding van Trompie het hom duidelik die hele dag gepla. “Ou Trompie is nie soos James Bond geskryf om ‘n likeable seksis te wees nie. Hy is net ‘n kind wat foute maak, maar altyd probeer doen wat hy dink is reg.

Wat is volgende? Gaan hulle die Swart Kat beskuldig van cultural appropriation oor hy ooreenkomste het met Black Panther?”

2 Comments

  • JC Coetzee says:

    Daar is niks fout met Trompie of enige van ons Afrikaanse kinder reekse nie, die wat so wil dink is verkramp. Dis hartseer dat deesdae se kinders nie ons kinderdae ooit sal kan belef nie. Hulle mis uit op baie.

  • Johan Els says:

    Enkele woorde maak n groot verskil as ons die verlede se “helde” wil ontleed. Ek merk in die geskiedenisboeke word nou verwys na die dood van Piet Retief.
    Ons het geleer van die moord op Piet Retief. Trompie se avonture is nou blykbaar skrikwekkende aaklige dade deur n seksistiese boelie. Ai, so ons geslag is verlore, gestrem deur die belewing van alles wat agterlik en verkeerd is🥲 Wat nog????

Leave a Reply to JC Coetzee Cancel Reply