Skip to main content

Wie sou kon raai dat Bloemfontein so skoon sou wees? Dit was die eerste ding wat lede van Die Waarheid Media opgemerk het toe Bloemfontein hulle verwelkom het.

Die taak wat voorgelê het, het opgewondenheid in ons gewek, maar die feit dat die Rosestad so skoon was, was soos ‘n kersie op die Gautengers se kuierkoek.

Die ellelange dag, waar sommige van ons kortdaat en vreedsaam met plakkate geparadeer het, en ander vir ure op die harde hofbanke moes sit, het geëindig met ‘n heerlike ete by die restaurant New York, waar die dag se gebeure met mekaar gedeel is.

Met vertrektyd is ons gemaan om nie deur die middestad te ry nie aangesien dit deesdae gevaarlik in die hoofstrate was na sononder. Met hierdie vermaning in ons agterkoppe is ons drie vroue op die punte van ons kar se sitplekke daar weg.

Mevrou Google Maps was kordaat aan diens en ons het haar bevele slaafs gevolg.

Met ‘n ‘in 300 metres, turn right’ het ons regs gedraai. ‘n Aankomende voertuig het vir ons ligte geflits, en ons het gewonder of die persoon ons aandag wou kry. Weens die gevaar-waarskuwing, was ons senuwees dadelik aan flarde.

Ons het oral rondgekyk terwyl ons straatop beweeg het in die rigting van ons hotel.

Die volgende oomblik het ‘n polisievoertuig met blou ligte reguit op ons afgepyl. Die drie van ons het grootoog tot stilstand gekom toe die voertuig met sy neus teen ons kar s’n stilgehou het.

Eers tóé sien ons dit is nogal ‘n vangwa!

Twee polisiebeamptes het uitgespring, reg vir aksie.

Dit was sersant Mpho Seatlholo en vrouekonstabel Portia Sekolanyane van die Bloemfonteinse blitspatrollie wat skof ‘A’ gewerk het.

Die bestuurder se ‘ooooops’ het die vrouekonstabel dadelik laat uitbars van die lag.

Hulle kon sien dat een van ons met ‘n foon waarop Google Maps oop was, op haar skoot gesit het, en die drie vroue se eerste verweer nadat konstabel Portia ons ingelig het dat hulle in die verkeerde rigting in ‘n eenrigting opgery het, was ‘Google Maps said TURN RIGHT’.

Sersant Seatlholo het saamgelag, maar ons dadelik gerusgestel. Hulle het gesorg dat ons veilig kon omdraai, waarna hulle ons tot by die hotel vergesel het.

Nie net was die stad skoon nie, maar die feit dat hul polisielede so mooi na Gautengse besoekers se veiligheid omgesien het met só ‘n goeie gesindheid, herstel weer die vertroue in die SAPD.

Ons wil hierdie twee goedhartige polisielede namens Die Waarheid Media bedank.

Leave a Reply

error: Content is protected !!