Skip to main content

 

Beast

Aksie-avontuurriller

Met Idris Elba, Sharlto Copley, Iyana Halley en Leah Jeffries

Hollywood verdwaal in leeuwêreld …

Sonnette Lombaard

Trek jou reg aan want in hierdie movie moet jy koes. Dis ongetemde Afrika weergegee deur Hollywood se massiewe masjien. Op groot skaal en waar die ware perd of koning leeu nie in lewende lyf skrikwekkend genoeg vir die makers was nie, skep ‘n ruim begroting rekenaar-gegenereerde animasie van die oerwoudkoning wat in jou gesig ontplof.

Diė avontuur gaan so: Idris Elba speel ‘n New Yorkse dokter en wewenaarpa, wat saam met sy twee tienerdogters na Afrika opruk. Die besoek is tweërlei van aard: as huldiging aan sy wyle Suid-Afrikaanse vrou van wie hy vervreemd was ten tye van haar dood – se geboortegrond. Terselfdertyd kan hy sy ou wildbewaarder-vriend wat hulle aan mekaar voorgestel het, weer sien.

Maar dis “wilde Afrika” waar monsters in elke tweede bos skuil. In die donker en daglig. Een onder hulle saai amok en laat broeke bewe. Dié wilde leeu is vreetlustig op die jag uit en almal moet koes. Ook mensekind, uit wraak vir menslike vergrype in Moeder Natuur, ook teen die diereryk, verklap die storie.

Die besoekende Yankdok Nate Daniels (Elba) en sy dogters, Meredith (Iyana Halley) en Norah (Leah Jeffries), maak blitsig kennis met die ware Jakob.

Die goeie nuus van die fliek wat in die geheel in ons land in Limpopo geskiet is, is dat die meerderheid van die span agter die kamera Suid-Afrikaners is. Ons plaaslike rolprenttegnici is wyd in aanvraag en hierdie blockbuster op tuisturf het meer slypkans gebied. En daar is natuurlik ons eie A-lys ster in Hollywood, Sharlto Copley, in die rol van wildbewaarder Martin Battles.

Copley bou stewig aan sy statuur sedert die bekroonde sci-fi fliek District 9 (2009) sy deur na roem oopgestoot het. Hy volg dit op met die fliekweergawe van die gewilde TV-reeks The A-Team (2010), in 2013 verskyn hy saam met Matt Damon en Jodie Foster in Elysium. Hy was ook te sien in Spike Lee se aksieriller Oldboy (2013) en daarna Disney se animasietreffer Maleficent (2014) teenoor Angelina Jolie. In 2018 volg die rillerkomedie Gringo en toe speel hy die bomplanter Ted Kaczynski in die biofliek Ted K (2021) waarvan hy ook vervaardiger is. Hy werk tans aan twee plaaslike projekte, een oor Lolly Jackson en ‘n sci-fi fliek Safari Sapiens wat hy self skryf en sal regisseer.

Dié gebore Pretorianer, wat laas week Beast se plaaslike premiere in Kaapstad trots bygewoon het, doen sy ding om in sy tuisland die wa deur hierdie groot doek se wilde draaie te trek. Engelse akteur Elba (Thor-reeks) het ook Afrika-wortels met beide sy ouers wat op die vasteland gebore is. Hy het in ‘n kort tyd naam gemaak as ‘n stewige akteur wat selfs as die nuwe 007 oorweeg word. Sy hoofrol moes hierdie fliek vooruit verkoop.

Wat hier haper, is die draaiboek se flou storielyn, al word dit as bangmaakstorie groot gekaats. Boonop het die vervaardigers gewaag met die regisseur Baltasar Kormákur. Dié Yslander het beïndruk as vernuwende regisseur met flieks soos Everest, 2 Guns en Contraband.

Om in Afrika te baljaar, benodig jy egter spesifieke kennis en vaardighede. Al wis Suid-Afrikaners al te goed van die “donker Afrika”-beeld waarin ons strate met leeus deel, vanuit oorsese onkunde. Dit is immers soms tydige humor-afleiding op die regte gewigtiger sake wat oorlewing op ons vasteland vereis.

Nie dat Kormákur nie kon afloer nie by sy buitelandse voorgangers wat in die laaste paar dekades gewaag en geslaag het om Afrika meer real weer te gee. Soos in die bekroonde Hotel Rwanda en The Last King of Scotland wat Afrika se minder blink kant belig. Ditto die lokettreffers Blood Diamond en natuurlik Clint Eastwood se Invictus.

Beast is tog ‘n verdienstelike poging, veral omdat dit wei in die gewilde kraal van oorlewingsflieks wat by die moderne mens groot aftrek kry. En waar beter as ons wilde agterplaas om Hollywood en kykers vreesbevange saam te laat skrik, gril, gil en hol.

Leave a Reply