Skip to main content

Charmaine Lourens en Doreen Vermaak

Uitspraak word voorbehou in die Appèlhof in Bloemfontein waar Oudpresident Jacob Zuma gister verskyn het om te hoor of hy moet teruggaan tronk toe, al dan nie.

Dit was opmerklik dat die oudstaatshoof nie gister se belangrike hofverrigtinge self kon bywoon nie. Na vertroulik verneem word, is hy siek.

Die appèl volg ná die uitspraak in Desember verlede jaar in die Hooggeregshof in Pretoria, wat beslis het dat oudpres. Zuma se vrylating op mediese parool “onregmatig, onwettig en irrasioneel” was.

Gister se hofsaak en uitspraak wat landwyd gevolg en afgewag is, het gekom na aanhoor van regsargumente deur nie minder as ses partye nie (daar was 13 advokate in die hof teenwoordig), wat tot in die aand geduur het. Die besluit is toe voorbehou omdat die hof nog nie gereed was vir ’n beslissing nie.

Oudpres. Zuma is 15 maande tronkstraf opgelê in Junie verlede jaar weens minagting van ‘n hofbevel van die Grondwetlike Hof rakende sy verskyning voor die Zondo-kommissie. Hy het egter net twee maande agter tralies uitgedien voordat hy op mediese parool vrygelaat is in September 2021.

Hy het derhalwe nog drie maande tronkstraf oor van sy oorspronklike vonnis tot sy mediese parool in Oktober eindig.

Die Departement van Korrektiewe Dienste het die besluit tot parool verdedig en aangevoer dat hulle twee verskillende mediese verslae ontvang het. Dit het aangedui dat oudpres. Zuma sieklik is en daar nie die geriewe is om na behore na hom om te sien nie.

Adv. Dali Mpofu, SC, het gister namens oudpres. Zuma aangevoer dat daar geen ander mediese verslae voor die hof is wat die teendeel bewys nie en ook dat die volle rekord waarop parool toegestaan is, nie voor die hof is nie en dat die hof dus nie in ‘n posisie is om die kwessie van parool te hersien nie.

Adv. Mpofo het voorts aangevoer dat die aansoek om parool deur ‘n mediese praktisyn en nie deur oudpres. Zuma gebring was nie. Die Demokratiese Alliansie (DA), die Helen Suzman Stigting en Afriforum het die appèl teengestaan en voer aan dat die voomalige staatshoof op 80-jarige ouderdom in die tronk hoort.

Dis onseker hoe lank dit vir die hof gaan neem om uitspraak te gee, maar intussen bly oupres. Zuma op parool. Sy parool is aan sekere, streng voorwaardes gekoppel. Dit sluit reisbeperkings in.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

One Comment

Leave a Reply

error: Content is protected !!