Skip to main content

Nog ‘n geval van apepokke in SA
Die minister van gesondheid, dr. Joe Phaahla, het gister Suid-Afrika se vierde geval van apepokke bevestig.
Die jongste slagoffer is ‘n 28-jarige man van die Wes-Kaap. Hy het onlangs na Spanje gereis. Die nuutste geval kom ‘n maand nadat die derde geval in Suid-Afrika bevestig is.

Dekade na Marikana: Cyril in spervuur
Dit is vandag presies tien jaar sedert 34 Lonmin-mynwerkers by Marikana dood is toe die polisie tydens ‘n loonstaking op hulle losgebrand het.
‘n Groep van 329 mense het onlangs regstappe teen president Cyril Ramaphosa hieroor begin. Ten tyde van die slagting was Ramaphosa ‘n meerderheidsaandeelhouer en direkteur van Lonmin, sowel as adjunk-president van die land.

15 Zama-zamas gevang
Die polisie het gister 15 vermeende onwettige mynwerkers in hegtenis geneem en “gouddraende stof” en gereedskap wat glo vir onwettige mynbou in Roodepoort gebruik word, teruggekry. ‘n Verdere 13 ongedokumenteerde mense is ook in hegtenis geneem wat vermoedelik by onwettige mynbou betrokke is.
Die verdagtes sal na verwagting binnekort in Roodepoort se landdroshof verskyn.

Beseringstameletjie vir Proteas
Suid-Afrika se nasionale krieketspan sit met ‘n beseringsprobleem op die vooraand van die toetsreeks teen Engeland wat môre op Lords in London begin.
Die Protea-snelbouler Duanne Olivier is weens ‘n heupbesering uit die reeks van drie wedstryde teen Engeland gelaat. Olivier het die besering opgedoen tydens die vierdaagse toerwedstryd teen die Engeland Leeus in Canterbury.
Die middelorde-kolwer Temba Bavuma is ook nie vir die eerste toets beskikbaar nie.

Leave a Reply

error: Content is protected !!