Skip to main content

 

Die Waarheid Span

Die strate voor die Appèlhof in Bloemfontein was Maandagoggend ‘n miernes van bedrywigheid met die belangrike Appèlsaak van oudpresident Jacob Zuma wat kort na tienuur begin het en tot in die aand aangehoor is.

Die polisie was voor die indrukwekkende hofgebou en al om die hof op gereedheidsgrondslag indien enige oproer sou uitbreek, maar ‘n groep betogers het vreedsaam hulle plakkate rondgeswaai met slagspreuke soos Free Zuma! en Ramaphosa Must Fall!

Joernaliste van Die Waarheid Media het gesels met ‘n groep betogers en ondersteuners van oudpres. Zuma, onder leiding van die bekende sakeman Louis Liebenberg, op die toneel.

Liebenberg het na president Cyril Ramaphosa verwys as ‘n “handpop wat gemanipuleer word en net in geld belangstel”. Hy het ook gesê Ramaphosa moet ‘n ou man soos Zuma verskoon en van tronkstraf kwytskeld.

Hy het ook gemeen ‘n verkeerde besluit gister sou weer die land in vlamme laat opgaan soos toe Zuma die eerste keer tronk toe gestuur is. Hy het verwys na die grootskaalse onrus wat verlede jaar uitgebreek het in KwaZulu-Natal en dele van Gauteng, wat tot groot lewensverlies en reuse-ekonomiese verliese gelei het.

Joernalis Charmaine Lourens het vir Carl Niehaus, geskorste ANC-lid, voor die trappe na die ingang van die hof vir kommentaar voorgekeer. Hy het gesê die land se regstelsel sal weereens nou sy staal moet wys en dat daar niks daarmee verkeerd was om aan oudpres. Zuma parool toe te staan nie.

‘’Die tronkstraf wat aan Zuma opgelê is in die Grondwetlike Hof was nie regverdig nie en onwettig. In die lig van die parool wat toegestaan was onder die omstandighede, was die hof reg om hom vry te laat op mediese parool.’’

Oudpres. Zuma bevind hom aan die verkeerde kant van die tralies, het John Steenhuisen, leier van die Demokratiese Alliansie, by die hof gesê. Sy party is een van die groepe wat verlede jaar in die Hooggeregshof in Pretoria gesorg het dat Zuma se parool tersyde gestel word. Regter Elias Matojane het toe ook gelas dat Zuma hom egter tot die Appèlhof mag wend.

Steenhuisen het gister by die hof opgedaag saam met dr. Roy Jankielsen, Vrystaatse leier van die DA, dr. Annelie Lotriet, DA lid van die Vrystaatse provinsiale wetgewer, en ander lede van die opposisieparty. Hy het ook gesê dit is belangrik dat daar konsekwent opgetree word en dat die wet dieselfde vir almal toegepas word.

Ace Magashule, geskorste sekretaris-generaal van die ANC en die voormalige Vrystaatse premier, was ook teenwoordig. Hy het gesê die vorige Nasionale Kommissaris van Korrektiewe Dienste, Arthur Fraser, was nie verkeerd om in teenstelling met die mediese paroolraad se aanbevelings, Zuma vry te laat nie.

Magashule het ook daarop gewys hoe wonderlik dit is dat swart en wit voor die hof vreedsaam vir Zuma se vrylating betoog het.

Sonja Brown van Die Waarheid het buite die hof in ‘n snerpend koue Bloemfontein die gebeure deurentyd gevolg. “Daar heers ‘n vreedsame atmosfeer. ‘n Groeiende groep Zuma-ondersteuners is skuins oorkant die hof besig om te sing en dans.

“Voetgangers sluit hulle gereeld by die groep aan om vir ‘n paar minute saam te sing en dans voordat hulle verder stap en verbygaande motoriste toet in solidariteit met die ondersteuners.”

Die opsigtelike polisieteenwoordigheid – daar was ook ‘n waterkanon op die toneel – het haar opgeval. Sy het ook die Zuma-lojalis Dudu Myeni, voorsitter van die Jacob G Zuma Stigting, by die hof opgemerk.

 

 

Leave a Reply