Skip to main content

 

Isaac Cloete

‘n Adjunkhoof, koshuisvader en gesinsman wat skoolmeisies oor ‘n tydperk seksueel gemolesteer het, moet uiteindelik vir sy dade boet.

Nou mag hy nie meer met kinders en leerders werk nie en is eindelik permanent uit die onderwysprofessie geskop, volgens Geoffrey van der Merwe, woordvoerder van die onderwysdepartement in die Noord-Kaap.

“Tydens ‘n departementele verhoor is diė adjunkhoof en koshuisvader deur ‘n arbiter skuldig bevind aan seksuele teistering. Sy naam gaan ook van die raad vir onderwysers (SACE) se register verwyder word,” het Van der Merwe gesê.

Hy is Neil van den Heever, 52-jarige gesinsman uit die Wes-Kaap. Van den Heever is oorspronklik van Concordia in Namakwaland. Hy het tereggestaan op klagtes van seksuele teistering van skooldogters by ‘n skool vir leerders met spesiale behoeftes, iewers in Namakwaland. Dit sluit in seksuele aanranding sonder die toestemming van die slagoffers.

Die beweerde voorvalle het oor ‘n tydperk by die skool gebeur toe die leerders 13-14 jaar oud was.

Van den Heever was toe ‘n onderwyser, koshuisvader en adjunkhoof. Gedurende 2019 was die voorvalle aangemeld en kriminele sake is teen hom gemaak.

Die hofsake het in Januarie 2022 gevolg, maar teruggetrek en is op tegniese punte uitgegooi.

Die slagoffers se ouers en hulle opvoeders was baie ongelukkig hieroor en dit het groot oproer veroorsaak. Een van die fasiliteerders van die leerders het selfs by hierdie skool bedank uit frustrasie met die owerhede, “wat die kids toe gefaal het”.

Gelukkig het die departement van onderwys later toe self hulle eie ondersoeke en verhore gehou. Van den Heever is daartydens skuldig bevind.

Een van die betrokkenes wat nou by hierdie saak betrokke was en anoniem wil bly, vertel haar trane het geloop uit dankbaarheid op die aand toe sy die nuus oor sy permanente skorsing gekry het.

“Sulke mense kan gevaarlik wees, daarom is ek so bly alles is nou oor. En dat hy nou vir altyd weg van die skool is. Ons gebede is tog verhoor.”

Sy het verder vertel dat een van die leerders se borste kleiner is as die ander een omdat sy met Van den Heever probeer baklei het tydens die seksuele teistering. “Die meisie het nou ‘n baba wat nie aan hierdie bors kan drink nie weens die skade daaraan.”

Een van die slagoffers se ma’s het vroeër vertel dat haar dogter (nou 19 jaar) ‘n heeltemal ander mens is. Volgens haar het haar dogter nog nie ‘n “rêrige boyfriend nie”, behalwe ‘n kletsmaat op WhatsApp.

“Dit lyk asof my meisiekind vir mans bang is. Ek kon dit nooit verstaan nie, ook nie waarom my meisiekind destyds soms twee bra’s en twee panties skool toe aangetrek het nie. Nou weet ek.”

Volgens Veronica van Dyk, LP, het sy aanvanklik begin om Van den Heever se karakter en wandade openbaar te maak.

“Kinders moet onthou dat hulle ‘nee’ mag sê. En dat hulle sulke voorvalle dadelik by die Polisie moet aanmeld.”

Sy het ook beklemtoon dat ouers meer openlik met hulle kinders oor sulke sensitiewe sake behoort te praat. Verder meen sy dat geweld teen vroue en kinders ‘n euwel is wat uitgeroei moet word.

“Oortreders laat baie keer die slagoffers sleg en skaam voel. Hulle koop dikwels kinders om om stil te bly oor die misdaad. Ek is egter bly dat geregtigheid hier geskied het.”

One Comment

Leave a Reply