Skip to main content

Lumé van Schalkwyk

Die Valke het vier gevonnisde gevangenes in hegtenis geneem omdat hulle ‘n aanlyn-afpersingsbedrogspul uit twee tronke in Gauteng bedryf het.

Die polisiewoordvoerder kaptein Philani Nkwalase sê beamptes van die Valke en Korrektiewe Dienste het Donderdagaand op die Odi en Baviaaspoort Korrektiewe Sentrums in Mabopane en Pretoria toegeslaan.

Volgens hom was die klopjagte deel van ’n langdurige ondersoek na kubermisdaad, afpersing, geldwassery en die voordoen as polisiebeamptes.

Nkwalase sê in die soektog het hulle beslag gelê op 36 selfone, 19 selfoonlaaiers, asook ander bykomstighede.

Voorts het die bedrieërs hulle na bewering as polisiebeamptes voorgedoen en geld afgepers van mense wat van die dienste van ‘n aanlyn-seksdiensteblad gebruik gemaak het.

Die slagoffers sou later deur iemand wat voorgee om ‘n polisiebeampte te wees, ingelig word dat ‘n saak van verkragting en bedrog teen hulle geopen is omdat hulle vals geld gebruik het om sekswerkers te betaal.

Die verdagtes het ook ‘n vals lasbrief vir arrestasie deur WhatsApp aangebied en betalings geëis om te verseker dat die polisie saam met ‘n valse aanklaer die sake laat “verdwyn”.

Die gevangenes het na bewering profiele van polisiebeamptes geskep deur die kombinasie van beide hulle name en foto’s, wat geneem is uit sosiale mediaprofiele van niksvermoedende polisiebeamptes.

Kaptein Nkwalase sê hulle het verder ‘n oproeprekord van ‘n aanlyn volwasse dienste agentskap verkry om die slagoffers wat hulle betaal het uit vrees vir vervolging te kontak.

Hy het bygevoeg tussen Mei en Augustus vanjaar is bedrae van R760 000 en R560 000 in twee aparte rekeninge inbetaal, wat aan die slagoffers verskaf is.

Hy doen ‘n beroep op enigiemand wat moontlik die slagoffer van ‘n soortgelyke bedrogspul geword het, om na vore te kom.

In April vanjaar was ‘n 36-jarige man van Port Elizabeth die slagoffer van ‘n soortgelyke bedrogspul. Die polisiewoordvoerder kolonel Priscilla Naidu het destyds gepraat oor nege soortgelyke sake van regoor die metro-gebied en omgewing wat ondersoek word.

 

Leave a Reply