Skip to main content

 

Hoe om jou (en jou foon) ’n ruskans te gee

Sosiale media is onlosmaaklik deel van ons lewens. Dis amper soortgelyk aan ʼn verhouding. Dit kan egter ʼn probleem raak as dit jou lewe begin oorheers en die oorhand begin kry. Baie mense kan daarsonder – maar ander is afhanklik daarvan vir werk en om in kontak met vriende en familie te bly. Daar is egter maniere hoe jy kan afskaal, en jou lewe kan terugkry. Gerald Eloff het gaan kyk hoe.

Vir langer as ʼn dekade al het ons ʼn liefdesverhouding met sosiale media. Net die gedagte daaraan om al jou profiele toe te maak, kan pynlik wees. Maar soos met enige verhouding, as sosiale media jou nie meer gelukkig maak nie, en as die kuratorskap van jou aanlyn-persoonlikheid meer uitputtend as pret is, is dit dalk tyd om dit vaarwel te roep.

Verlede jaar het Meta (voorheen bekend as Facebook), baie kritiek ontvang nadat dokumente uitgelek het wat wys dat hulle ten volle daarvan bewus is van die negatiewe impak wat van hul produkte op gebruikers het – Instagram, spesifiek, en die invloed op gebruikers se geestesgesondheid.

Meta het toe probeer om dinge reg te stel, maar niemand was regtig oor die nuus verbaas nie, nie eers tienermeisies nie, wat Meta geïdentifiseer het as die verbruikers wat die grootste risiko loop. Was dit omdat hulle iets bevestig het wat ons reeds vermoed het? Dat sosiale media meer skade as goed doen?

Waar het ons verhouding met sosiale media so skeef geloop? Dalk meer belangrik: Is dit die moeite werd om diė verhouding te probeer red?

Sien gevaarligte flikker

Huweliksberaders sal vir paartjies vra wat hulle aanvanklik gelukkig gemaak het in ʼn verhouding, en alhoewel dit soms voel of die verhouding op die rotse geloop het, het sosiale media tog ʼn paar goeie eienskappe. Gedurende die Covid-19 pandemie, was sosiale media in baie gevalle die enigste manier hoe mense met vriende en familie kontak behou het. Sosiale media bring ook verbruikers en mense wat dieselfde belange en waardes het bymekaar, veral as hierdie mense in die “regte” wêreld nie daai belange en waardes deel nie.

Die probleem is egter, as jy nie ʼn dag kan gaan sonder om deur jou platforms te gaan om iets te “like” of om “ge-like” te word nie, is jou verhouding in die moeilikheid. Hoeveel keer het jy al jouself betrap dat jy net deur jou sosiale media blaai sonder om regtig iets te lees? Of nog erger, inhoud te sien wat jy reeds gesien het? As jy jou oë uitvee, is ʼn uur verby sonder dat jy kan onthou wat jy gesien of gelees het.

Kom ons wees eerlik

Daar is ʼn paar vrae wat jy aan jouself moet stel, en eerlik beantwoord, om te sien of daar ʼn probleem is, volgens die boek Irresistible, deur Adam Alter, ʼn professor in bemarking by die New York Stern Kollege.

Vrae jouself af: “Kan ek my foon optel, sonder om my voete te beweeg?” Indien die antwoord “ja” is, 24 uur per dag, het jy dalk ʼn probleem. Alter beveel aan om meer tyd weg van jou toestel af te spandeer. Kyk hoe dit voel, sonder ʼn skerm wat konstant op jou lewe inbreuk maak. Voel jy ligter of geïrriteerd? Wat hy ook voorstel, is dat jy jou foon of rekenaar 90 minute voor slaaptyd bêre of afskakel. Die lig wat die skerm vrystel, beïnvloed ook jou sirkadiese-ritme, wat kan lei tot slapeloosheid.

Spandeer jy tyd saam met vriende in ʼn omgewing wat tegnologie-vry is? Of is jou foon konstant by jou? As laasgenoemde waar is, kan jy gaan stap in ʼn park, of ʼn galery of ʼn museum besoek. Daar is tonne studies gedoen oor die voordele wat die natuur vir jou gesondheid inhou. Aangesig tot aangesig interaksies help ons om meer positiewe indrukke van mekaar te vorm. Dit is nie nodig om jou bord kos af te neem en dit op sosiale media te plaas nie. Jy hoef nie in te check dat almal sien waar jy is nie.

Beïnvloed sosiale media jou geestesgesondheid? Indien jy jou werk afskeep, aanlynvriendskappe bo gewone vriendskappe verkies en dit jou verhoudings met vriende en familie beïnvloed, is dit dalk tyd vir daai afskeidsbriefie.

Breek die kys

So. hoe evalueer jy jou verhouding? Hoe gemaak as jy dalk wil uitloop? Daar is ʼn paar opsies beskikbaar. Wat die belangrikste is, is om jouself die volgende, laaste vraag te vra: “Hoe laat sosiale media jou voel?” Dink hoe jy voel, voor, tydens en na die gebruik van sosiale media. As jy voel jy mors groot dele van dag, week (of selfs jou lewe), op sosiale media – is dit ʼn leidraad. Indien jy negatiewe emosies soos hartseer, angs, skuldgevoelens of vrees ervaar, het jy reeds jou antwoord.

Maar indien ʼn egskeiding na ʼn té traumatiese vooruitsig lyk, wat bly daar oor om te doen? Dalk kan jy ʼn tydelike breuk van die verhouding vat, om net eers die water te toets. Laat weet jou vriende, familie en kollegas dat jy vir ʼn rukkie afgaan, en verwyder die toepassings van jou foon en rekenaar (en moet hulle nie net deaktiveer nie, vee hulle uit! Anders bly die versoeking konstant daar). Stel vir jouself ʼn doelwit – dat jy, in die volgende week of twee, glad nie gaan inteken nie. As jou wêreld nog nie tot ʼn einde gekom het na diė twee weke nie, gaan voort! As sosiale media sy trekkrag verloor het, is jy reg om jou profiele uit te vee.

Indien jy Facebook, Instagram, Twitter, TikTok, YouTube, Snapchat, WhatsApp, Tumblr, Pinterest en Reddit reeds op jou foon het, is jy al verby die versadigingspunt. Kies twee toepassings wat jy gereeld gebruik en wat ʼn doel dien, en vee die res uit. Die jonger geslag het reeds Facebook onder sy alie geskop – en as hulle dit kan doen – kan jy ook.

Indien bogenoemde advies alreeds bietjie moeilik lyk, probeer die tyd wat jy op sosiale media spandeer, verminder. Eerstens sit al jou kennisgewings (notifications) af. En ek bedoel almal. As jy reeds gekondisioneer is om op elke “piep” te reageer, gaan dit amper ontmoontlik wees om te stop. Kies ʼn billike tyd elke dag om al jou platforms te besoek. Stel jou alarm, en as dit afgaan, bêre die foon tot more, wanneer jy dit weer kan doen.

Die oefening, gaan alles behalwe maklik wees, en om die deur toe te trek en weg te stap mag dalk in die begin bietjie seermaak. Maar indien jou verhouding ongemaklik raak, is dit dalk tyd om jou voet neer te sit. En wie weet watse geluk jy dalk sal vind, buite die vier mure van jou selfoonskerm?

Leave a Reply