Skip to main content

Gert Basson

’n Video van twee polisiebeamptes wat ’n man in Vishoek in die Wes-Kaap gewelddadig aanrand, het soos ’n veldbrand op sosiale media versprei.

Volgens Lizzy Suping, woordvoerder van die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod), word ’n klag van aanranding ondersoek.

Die voorval het glo oor die naweek plaasgevind.

In die video kan gesien word hoe die man op die grond lê en die twee polisiebeamptes hom herhaaldelik met ’n knuppel bydam (sien skakel hieronder).

Daar kan gehoor word hoe die persoon, wat die video geneem het, die beamptes smeek om te stop. Die man wat aangrand word gee angwekkende gille van pyn.

“Julle is die polisie wat die f*k maak julle,” skree die vrou wat die video neem.

’n Man wat ook ’n ooggetuie is, dreig om die polisie met pepersproei te spuit. Die een beampte loop dan met sy knuppel na die man toe en daag hom uit om hom met die pepersproei te spuit.

Die beampte loop terug na die beseerde man en die twee laai hom in die vangwa.

Die man het glo die beamptes genader om ’n saak van ’n vermiste persoon vir sy meisie oop te maak. Die een beampte beweer aan die polisie dat die man hom eerste aangerand het.

Volgens brig. Novela Potelwa, polisiewoordvoerder, is ’n saak van aanranding teen die polisiebeamptes by die Vishoek-polisiestasie oopgemaak.

“Die Suid-Afrikaanse polisie het ’n senior polisiebeampte op distriksvlak aangestel om die saak teen die twee polisiebeamptes te ondersoek.”

Sy het bevestig dat die twee ’n saak van ’n vermiste persoon ondersoek het toe die voorval gebeur het.

“Alhoewel die daad van die twee beamptes onder die jurisdiksie van Opod val, fokus die interne ondersoek of die twee beamptes dissiplinêr vervolg moet word.”

Lede van die Vishoek-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het gepoog om op die man se welstand by die polisiestasie op te volg, maar hulle is glo geweier om die man te sien.

“Die polisie het geweier om op gronde van die video as bewyse ons toegang tot die man te gee en ons het ’n klag gelê,” lui ’n verklaring op hulle Facebook-blad.

 

One Comment

  • Clinton says:

    Swak van die polisie om dit te doen, al het die persoon dalk miskien verkeerd op getree, n mens sal nooit weet nie maar dit was nogsteeds nie nodig nie.

Leave a Reply