Skip to main content

Na tien weke van swoeg, sweet, swets, skel en natuurlik skryf, is die deelnemers aan Die Waarheid Media se 10de dig- en skryfkompetisie omtrent pootuit. Maar daar wag groot bederf in die komende naweek van 18 tot 21 Augustus vir die top-deelnemers.

Gedurende die 10-weeklange kompetisie moes die deelnemers in beide afdelings (Beginners en Begaafdes) behoorlik bontstaan. “Ons kompetisie is nie net ‘n toets van jou skryf- en digvernuf nie, maar is ook, volgens sommiges, ‘n uitmergelende uithourit van die siel, gees en verstand,” verklap een van die beoordelaars.

Die deelnemers, wat tot so ver as in Skotland en Taiwan woon, moes met die intrapslag hulle eie skeppingsverhale  in die skryfafdeling die lig laat sien en digters moes in vryevers meer van hulself verklap, met ‘n persoonlike geheim iewers in ‘n metafoor verdoesel.

Die deelnemers aan Kompetisie 10, soos met elkeen van die voorafgaande kompetisies, het vinnig ‘n baie hegte, ondersteunende mikro-gemeenskap gevorm. “Die ondersteuning en motivering tydens die verloop van die kompetisie was ‘n deurslaggewende dryfveer,” was van die kommentaar van deelnemers.

“Balans en verskeidenheid is ‘n sleutelkomponent van ons kompetisie,” laat blyk Floris van Zyl, een van die beoordelaars. “Die opdragte toets nie net die tegniese vaardighede van ons skrywers en digters nie, maar hul kreatiewe en vindingryke aanslag maak ook ‘n groot deel uit in die beoordeling.”

Die skrywers is onder meer gevra om uit bepaalde kontekste en ruimtes te skryf; is lukrake items gegee wat in ‘”iegstories” verweef moes word; hulle moes genres naatloos vermeng en met nie-argitipiese karakters ‘n jaarlange storie in slegs 1 500 woorde saamsnoer. “Ek vermoed dit was die eerste keer dat van ons skrywers ‘n transgender-karakter in een van hul verhale moes gebruik. Ons gaan tydens die gala-naweek in ons onderhoude met die deelnemers bietjie meer hieroor uitvind,” laat val Van Zyl.

Verder het ons hofdramas gehad, wat in howe op Aarde sowel as interdimensionele planete plaasgevind; rillers waar die jagter die prooi word en om die kompetisie mee af te sluit: ‘n snelstorie van onderskeidelik 100 (Beginners) en 200 (Begaafdes) woorde met die titel Die waarheid van skobbejakke en boomslange. “Met opdragte wat gewissel het tussen 500-900 woorde vir ons Beginner-afdeling en 1000-1500 woorde vir ons Begaafdes, wou ons met die finale opdrag die deelnemers so ietwat uit hul gemaksone neem en die spreekwoordelike “moersleutel in die speke moer …”, skerts Van Zyl.

In die digafdeling word histories groot klem gelê op vaste digvorme met rigiede tegniese asook stilistiese vereistes. “Met hierdie kompetisie is dit noodsaaklik om deeglike navorsing te doen oor die betrokke digvorm, die vereisde stylfigure, asook die klank- en retoriese middele,” was een van die gesoute deelnemers se raad reeds vroeg in die kompetisie.

“Ons het probeer om met die Kompetisie 10 die klem effens te verskuif om sodoende meer gehoor te gee aan digtendense wat ons tans beleef en grotendeels gefokus op meer tematiese opdragte, eerder as uitgedateerde digvorme. Vernuwing in die digkuns is by uitstek een van die hoofdoele van die kompetisie,” verduidelik Van Zyl.

Kompetisie 10 het wel gesorg vir uiters kreatiewe vertolkings van sonnette, (pindariesem asook onreëlmatige) odes, verse op aleksendrynse metrums asook nonette. “Met die nonet-opdrag (die nonet is ‘n digvorm wat uit nege versreëls bestaan en begin met nege lettergrepe. Met elke versreël verminder die lettergrepe stelselmatig en eindig op ‘n enkele lettergreep). Die Begaafdes moes ‘n dubbele omgekeerde nonet skryf in die vorm van ‘n uurglas, wat wys op die tipe innovering wat ons met die kompetisie probeer bewerkstellig.”

Ons digters moes ook die sintuie en simboliek inspan, ‘n protesvers in prosapoësie laat praat en om die kompetsie af te sluit moes hulle ook, nes die skrywers, ‘n vers skryf met die titel Die waarheid van skobbejakke en boomslange … in slegs 30 woorde.

Die Waarheid Media se Grootste Afrikaanse Dig- en Skryfkompetisie gaan oor veel meer as net die prysgeld, wat rondom R250 000 beloop. Dit gaan selfs oor meer as die uitbou, vernuwing en die nalatenskap van Afrikaans, ons mooiste taal. Hierdie kompetisie, tesame met ons groepe Skryf Jou Storie en Diggroep vir Beginners en Begaafdes, gaan oor gemeenskap. Dit gaan oor omgee vir mekaar en die bevordering, met skryf en dig van ons mense. Ons, die Afrikaanssprekendes regoor die wêreld, want ons het mekaar nodig. Ons het hierdie taal wat ons bind aanmekaar, vir mekaar.

Daar is dan ook geen beter manier om hierdie gemeenskap verder, in die persoon, te versterk as met ons spog gala-naweek hierdie komende naweek vanaf 18 tot 21 Augustus by Sun City. Ons wenners wat die geleentheid saam met ons gaan meemaak is in alfabetiese volgorde in die onderskeie afdelings:

Dig (Begaafdes):

Chris Schutte

Danville Willemse

Didi Jonker

Ellen Fritz

Katie du Preez

Paul Kloppers

Retha van Deventer

Rialda Zeelie

Stephan Uys

Werner Wehmeyer

Dig (Beginners):

Anna Ahlschlager

Nicola Hattingh

Peet Wessels

Ronél le Roux

Suzanne Volschenk-Walsh

Skryf (Begaafdes):

Ellen Fritz

Elmyn Roux

Katie du Preez

Rialda Zeelie

Riki Malan

Ronél le Roux

Rosalee Meyer

Suzanne Volschenk-Walsh

Sybie Kleynhans

Will Mostert

Skryf (Beginners):

Adele Snyders Els

Cobus Kruger

Dewald de Coning

Lynne Lewis

Marlene Muller

Leave a Reply