Skip to main content

Charmaine Lourens

Bloemfontein het ‘n stewige plek in die Suid-Afrikaanse geskiedenis en wanneer die Rosestad vanoggend ontwaak is dit met die wete dat een van die belangrike besluite in die moderne landspolitiek vandag hier bekend gemaak gaan word.

Dit kan ‘n maak-of-breek-situasie wees met die land se politiek wat geruime tyd op ‘n mespunt is. Te midde hiervan moet die Appèlhof vandag ’n kernbeslissing fel oor die toekoms van oudpresident Jacob Zuma.

Zuma is tans op parool nadat hy slegs twee maande van sy oorspronklike 15 maande tronkstraf uitgedien het. Zuma is in Junie verlede jaar tronkstraf opgelê nadat hy versuim het om voor die Zondo-kommissie te verskyn.

‘n Spanningsvolle stilte het teen gistermiddag oor die Rosestad gehang. Die Waarheid se mediaspan, wat van die toneel sal verslag doen, het teen laatmiddag ‘n draai by die Appélhof, ’n treffende sandsteen-landmerk op die hoek van President Brand – en Elizabethstraat, gemaak. Afgesien van drie bloulig-motors wat ook toe daar gestop en weer gery het, was als op die oppervlak rustig.  

Die Weermag is wel reeds vroeër op gereedheid geplaas vir enige gebeurlikheid. Dit volg nadat onluste en wye oproer verlede jaar uitgebreek het nadat Zuma tronk toe gestuur is. Die land kan nie bekostig om weer in chaos gedompel te word met miljoene rande se skade en verdere ekonomiese verlamming nie.

Talle van Zuma se ondersteuners wat hulle lojaliteit wil wys, word van vroegoggend voor die hof verwag en sal na verwagting met plakkate opdaag wat hul gevoelens sal verwoord.

Zuma het hom tot die Appèlhof gewend nadat regter Elias Matojane in Desember verlede jaar in die Hooggeregshof in Pretoria die Departement van Korrektiewe Dienste se mediese paroolbeslissing oor die voormalige staatshoof tersyde gestel het.

Regter Matojane het toe beveel dat die oudpresident moet teruggaan tronk toe omdat hy versuim het om voor die Zondo-kommissie wat staatskaping ondersoek het, te verskyn.

Zuma kon ingevolge ons regstelsel by die Appèlhof aanklop om regter Matojane se beslissing tersyde te stel. Die reg tot appèl is om menslikheidsredes toegestaan.

Zuma se regsverteenwoordigers het onder meer aangevoer dat die oud-president op 80-jarige ouderdom nie meer ‘n jong man is nie en steeds sy straf uitdien al is hy op parool vrygelaat. Hy mag byvoorbeeld slegs reis met die nodige toestemming en mag ook nie saamtrekke bywoon of toesprake hou buite sy woning en die Zuma-familie se hoofkwartier Nkandla in KwaZulu-Natal nie.

Vanoggend se saak kan in een van vier rigtings gaan, meen Walter Niedinger, Zuma se prokureur. Die volbank bestaande uit vyf regters kan die appèl handhaaf of van die hand wys, eenparig of deur ‘n meerderheidsbeslissing. Daar kan ook moontlik besluit word om Zuma se paroolvoorwaardes aan te pas.

Nog ‘n opsie is om die uitspraak voor te behou en dan word die tyd wat daar gewag word, afgetrek van die vonnis omdat die status quo in hierdie tyd gehandhaaf word. Zuma het slegs drie maande van sy 15 maande vonnis oor.

Indien die regters besluit om die appèl van die hand te wys, sal Zuma hom moontlik volgende tot die Grondwetlike Hof wend.

Die vrees is dat indien Zuma moet teruggaan tronk toe, onluste weer kan uitbreek. Adv. Dali Mpofu sal oudpres. Zuma verteenwoordig. Die saak begin om 10:00.


 

 

2 Comments

  • YC Coetzee says:

    Hoop als sal goed afloop. Dis tyd dat die waarheid ontbloot word oor CR en sy familie se verkryging van hul rykdom ten koste van die land.

  • Judith Favaretto says:

    We pray Father takes control and his will be done, as we stand in honour of his righteousness and faithfulness towards us as his children. We will win!!!

Leave a Reply