Skip to main content

Sonja Brown

Daar is beweringe dat diere gehipnotiseer kan word, maar die stelling is nie heeltemal korrek nie. Wat lyk soos hipnose is eintlik ‘n toestand genaamd katalepsie, oftewel onbeweeglikheid.

Sou jy die dag ‘n hoender roerloos wil laat, is dit hoe jy dit doen: plaas die hoender versigtig op ‘n plat oppervlak, soos ‘n tafel, en sit sy/haar kop plat op die blad. Trek nou ‘n streep van ongeveer twee voet lank met ‘n bordkryt aan die kant waar die hoender se oog die naaste aan die blad is. Begin die lyn trek by die hoender se snawel en beweeg verby die oog.

As jy jou hande versigtig verwyder, sal die verekind roerloos bly lê.

Om hom/haar wakker te maak, klap jou hande hard, en skuif die hoender se kop weg van die lyn af.

Tydens ‘n massa-hipnosesessie, waar ‘n groepie hoenders saam gehipnotiseer was, en hulle toegelaat was om self uit die trans te ontwaak, het al die hoenders gelyk “wakker” geword.

Ander diere wat ook “onbeweeglik” gemaak kan word, is:

  • marmotte (hulle word ‘n paar keer omgerol en dan op die rug neergelê; hulle sal so bly totdat jy hulle op die neus blaas en op sy/haar voete draai),
  • hase (strek die haas op sy rug op ‘n tafel met die ore en agterpote ook plat op die tafel; die dier sal so bly lê nadat jy dit vir omtrent 30 sekondes so vasgehou het, en sal slegs begin beweeg sodra jy op sy neus blaas en dit op sy/haar sy draai),
  • duiwe (as jy dit onderstebo draai, ‘n paar keer in ‘n sirkelvorm beweeg en op sy rug neersit, sal hy so bly lê totdat jy jou hande klap en hom wakker maak),
  • krokodille (as jy nou braaf genoeg is om dit te probeer – druk die krokodil se kake toe, draai dit op sy rug en strek sy nek uit, die krokodil sal so bly lê totdat jy dit op sy pote terugdraai. Waarskuwing: krokodille is baie aggressief wanneer hulle uit “hipnose” wakker word en mag jou dalk net wil eet),
  • akkedisse en paddas se hipnose werk presies dieselfde as vir krokodille,
  • slange (dié wat dink dat veral kobras deur ‘n fluit gehipnotiseer word, sit die pot mis; slange word gehipnotiseer deur die heen en weer beweging van die instrument, en sodra jy ophou om dit te beweeg, moet jy jouself uit die voete maak),
  • kreef (as jy die diertjie op sy kop hou vir ‘n paar sekondes en sy pote gebruik om hom so in plek te hou, sal hy so bly totdat jy hom weer terug sit op sy pote), en
  • spinnekoppe (kan bewegingloos gelaat word as jy dit sou kon regkry om dit op sy/haar maag te vryf; dop dit net weer daarna op sy/haar pote en kyk hoe dit wegskarrel).

Verbeel ek my, of skarrel daar reeds mense rond om ‘n hoender gevang te kry?

One Comment

  • Colin says:

    Ons het as kinders die hoender se kop onder sy vlerk gesit en met hom/haar so drie of 4 draaie in die lug gemaak. Dan slaap daai hoennertjie ‘n hond uit ‘n bos. Toets ditmaar…Dit werk regtig so. Elke keer.

Leave a Reply