Skip to main content

 

Spoke (en spookstories) dwaal voort …

Almal onthou Langenhoven se spookstories, wat om vure en kerslig vertel is en rillings by ons ruggrate afgestuur het. Elke land en kultuur het sy eie spoke (dink maar aan ons eie spook van Uniondale en van Antjie Somers). Maar hoe relevant is spookstories nog vandag, in ʼn tydperk waar die mistieke en onbekende vervaag in ʼn wêreld waar alles ontbloot word deur ʼn magdom inligting? Gerald Eloff het gaan hoor of bangmaakstories (soos ons dit geken het) nog ʼn plek het en of spoke ook deur die moderne era gekanselleer is.

Almal was nog altyd lief vir ʼn lekker spookstorie. Stories oor spoke, dwaalgeeste en ander gedaantes wat jou nekhare laat rys is so oud so die berge. Grilstories oor geeste, wat opstaan uit die dode om by plekke te spook wat hulle agtergelaat het, is volop. Baie van die stories sluit spoke van koninklikes, politici en skrywers in, wat ʼn gewelddadige en misterieuse dood gesterf het.

Eerstens, wat is ʼn spook?

Die konsep van ʼn spook is op ʼn oeroue-idee gegrond dat ʼn mens se gees apart van sy liggaam staan, en dat dit nadat iemand gesterf het, voortleef.

As gevolg hiervan het baie kulture rituele ingestel om te verseker dat die spoke van die afgestorwenes nie kon terugkom om lewendes te pla nie.

Plekke wat spook (dink byvoorbeeld aan ons eie Riebeeck-Kasteel), het gewoonlik met ʼn emosie of gebeurtenis van ʼn spook se verlede te doen – oftewel ʼn plek of woning waar die spook gesterf het. Behalwe vir spoke wat fisies verskyn, kan dit ook insluit vreemde ligte, geluide, dinge wat rondskuif en musiekinstrumente wat self speel!

Van die eerste spoke

In die heel eerste eeu, het die groot Romeinse skrywer Pliny de Younger oor ʼn spook in sy briewe geskryf … van ʼn ou man met grys hare en kettings wat sy huis in Athene bewandel het.

Eeue later in 856 A.D., is daar van die eerste poltergees (ʼn spook wat goed rondgooi of skuif) in Duitsland by ʼn plaashuis melding gemaak. Dié gees het die familie grys hare gegee, deur klippe te gooi en brand te stig.

Bekende historiese spoke

Die Engelse koninklikes is ryk aan spoke. Een van die spookgevalle waaroor die meeste gerapporteer word, is dik van Anne Boleyn, die tweede vrou van Koning Henry die VIII en ma van koningin Elizabeth I gedurende die 16de eeu. Anne Boleyn is by die Tower of Londen tereggestel, nadat sy o.a. van heksery en hoofverraad beskuldig is.

Boleyn se spook word nog gereeld by die toring en by haar kinderhuis by Hever Kasteel in Kent gesien.

Amerika se eie ryk tradisie aan spoke begin by een van die land se stigters, Benjamin Franklin. Aan die begin van die 19de eeu, is Franklin se spook naby die Amerikaanse Filosofiese Vereniging in Philadelphia gewaar. Sommige mense het glad beweer dat sy beeld voor die gebou lewendig word en in die strate dans!

Alhoewel daar gereeld berig word oor spoke by die Withuis in Amerika, steel die spook van Abraham Lincoln die kollig. Lincoln was die VSA se 16de president en deur ʼn sluipmoordenaar in 1865 vermoor. Lincoln, ʼn voormalige prokureur, se spook is gereeld naby die ou Springfield Stadsgebou en regskantore gewaar. Van ministers tot presidentsvroue het al Abe se spook gesien, veral onder die bewind van Franklin D. Roosevelt.

Plekke wat spook

Sommige plekke is geneig om meer spoke te huisves, moontlik oor die dramatiese gebeure wat daar afgespeel het. Oor die eeue is spoke bv. gereeld by slagvelde gesien, van die Engelse burgeroorlog van die 17de eeu, tot die slagvelde by Gettysburg van die Amerikaanse burgeroorlog, asook die slagvelde van die Eerste Wêreldoorlog by Gallipoli en die Somme.

Die Amerikaanse stad New York is ook deurtrek met spoke. Die spook van Peter Stuyvesant, die stad se laaste Hollandse goewerneur, loop al dekades in die East Village met sy houtbeen rond, sedert sy dood in 1672. Voorts spook die skrywer Mark Twain op sy ou huis se trappe, ook in East Village (dit wil voorkom of dit lekker spook daar!) en die digter Dylan Thomas “sit” weer gereeld op sy ou kroegstoeltjie in die White Horse Taverne, waar hy gesterf het nadat hy 18 sopies whiskey gedrink het.

Plaaslike spoke

Suid-Afrika hoef natuurlik nie vir een oomblik terug te staan vir ons oorsese spookbure nie. Die Kasteel de Goede Hoop, wat 1665 gebou is, se gange word bewandel deur vele spoke. Een van dié spoke, ʼn bejaarde vrou met ʼn hartseer gesig, is al deur vele mense in die kasteel gesien, asook in die goewermenthuis. Daar is al gesê dat diė twee geboue ʼn geheime deurgang tussen hulle het, wat die spook maklik kan laat deurbeweeg. ʼn Geraamte van ʼn vrou is wel daar opgegrawe by ʼn deel van die kasteel wat oor Tafelbaai uitkyk, en sedertdien was die dame nie weer gesien nie.

Die spook van Uniondale is sekerlik een van ons bekendste spookstories. Nie ver van Uniondale af nie, op die nasionale pad, is ʼn afdraai na Barendas. Hier staan ʼn meisie en ryloop. En niemand sal haar optel nie, veral nie oor die Paastydperk nie. Daar word gesê dat die meisie saam met haar verloofde op pad was na Bloemfontein vanaf Riverdale, waar beide naby die Barendas-afdraai gesterf het. Daar is bekende gevalle waar mense haar optel, waar sy dan die motoriste vra om haar na Twee Porter Straat te neem, sonder om ʼn dorp se naam te gee. Dan verdwyn sy in die niet nadat sy ʼn entjie saamgery het.

Grilstorieskrywer verklap …

De Wet Hugo is die skrywer van die immergewilde Grilgrypers-reeks, wat gemik is op jong lesers. De Wet lê egter klem daarop dat sy boeke nie net oor spoke handel nie, behalwe vir Grilgrypers 6 – die geheim van die Spookwerf. “Die temas wissel maar – daar is zombies, mummies en ook ʼn vorm-verwisselaar (shape shifter).”

De Wet meen dit is heel eenvoudig om ʼn spookstorie te skryf. “Jy plaas iets in ʼn toneel wat nie daar hoort nie. Byvoorbeeld: Jy is alleen by die huis. Jy klim uit die stort, alles is toegestoom, en daar sit ʼn teddiebeer in die middel van die vloer en loer vir jou. Jy is nie bang vir ʼn teddiebeer nie, maar wat soek die teddiebeer daar?”

De Wet se blootstelling aan spookstories was ook om kampvure, en deur ouer mense oorvertel. “Ek dink wat kinders deesdae bangmaak, is die onbekende. Jy gee leidrade as ʼn skrywer, dat daar iets onheilspellends op pad is, wat dan aan die einde ontbloot word. Ek gebruik ook moderne elemente soos die internet en sosiale media in my stories, om dit vir die kinders meer identifiseerbaar te maak. Daar moet iets geloofwaardig omtrent die storie wees, al is dit fantasie.”

De Wet glo dat kinders steeds lief vir spookstories is. “Spookstories is steeds die beste verkopers onder kinders tussen die ouderdom 9-12 jaar. Ek dink die kinders jonger as negejaar hou ook van die adrenalien inspuiting, maar ek hou die stories lig en humoristies!”

De Wet kry meeste van sy inspirasie deur ander boeke en flieks. “Ek dink tog die geheim aan ʼn suksesvolle spookstorie is die vermoë om na iets doodgewoons te kyk en dit onheilspellend te maak.

“Kinders het vandag soveel materiaal tot hul beskikking, ten opsigte van spookstories. Baie van dié stories is gratis aflaaibaar, in vorm van boeke en kortfilms. Ek dink nie oupas en oumas vertel meer spookstories aan hul kinders nie.

“Ek het onlangs gelees dat amper ʼn derde van ouers hul kinders weerhou van spookstories. Dit is jammer, want daar is tog waarde in dié stories. Dis seker maar die tyd waarin ons leef.”

Hoekom spookstories goed is vir jou kind

De Wet is reg oor die waarde van spookstories. Hoe vreemd dit ookal mag klink, is dit goed om spookstories vir jou kinders te vertel, of te lees, volgens Yvonne Greyling, ʼn kliniese sielkundige van Kaapstad. “Mense moet onthou, vrees is ʼn kragtige emosie wat baie wetenskaplikes toeskryf aan die feit dat ons nog op Aarde is,” vertel Yvonne.

 “Wanneer ons bang is, stuur ons senuweestelsel impulse na ons kliere toe wat dan adrenalien in die bloedstroom afskei. Dit versnel ons hartklop, verhoog ons bloeddruk en verstyf ons spiere, wat dan lei tot die veg-of-vlug reaksie.”

So hoekom is dit belangrik om spookstories te vertel? “Eerstens, dit is pret vir kinders om ʼn spookstorie te hoor. Wanneer ons ons vrese in ʼn spookstorie konfronteer, skei ons liggame hormone af, wat ons toelaat om ons vrese van ʼn veilige afstand te beleef. Tweedens, dit laat kinders voel dat dit oukei is om bang te wees.

“Spookstories leer kinders om hul verstand te gebruik om probleme op te los, selfs al is hulle bang. Dit wys hulle ook dat almal tog bang vir iets is en dat dit gesond is om ons vrese te konfronteer.”

Yvonne glo dat spookstories die vermoë het om kinders veerkragtigheid te leer. “Grootword is reeds skrikwekkend vir baie kinders. Ons is geneig om ons kinders te beskermend groot te maak. ʼn Spookstorie vol spoke en monsters help kinders om ʼn gevaarlike situasie raak te sien, hoe om daarop te reageer en hoe om ʼn problem op te los.”

So steek aan die kerse, roep die kinders nader en begin vertel. Want spookstories is hier om te bly!

Leave a Reply

error: Content is protected !!