Skip to main content

Dit is nou tyd dat pres, Cyril Ramaphosa van sy kontantbelaaide rusbank af opstaan en in die hofdrama van sy voorganger ingryp.

Ramaphosa is by magte om ‘n kwytskelding aan oudpresident Jacob Zuma toe te staan. En nou is dit die tyd om dit te doen.

Verlede jaar, toe die Grondwetlike Hof oudpres. Zuma vir 15 maande tronk toe gestuur het vir minagting van die hof, het chaos in die land uitgebreek. Meer as 350 mense is dood tydens byna tien dae van wye oproer wat die ekonomie eindelik sowat R50 miljard gekos het.

As die Hoogste Hof van Appèl in Bloemfontein hom Maandag terugstuur gevangenis toe, gaan verlede jaar se geweld na ‘n vulletjie lyk.

Zuma het net meer as twee maande van sy 15 maande gevangenisstraf uitgedien. Hy sou in elk geval na vyf maande vir parool in aanmerking gekom het. Gaan ons werklik dit wat die ANC van ons land oorgehou het, laat verwoes vir minder as drie maande?

Ja, ons moet die wet en ons howe respekteer. Maar dit is ook tyd dat gesonde verstand seëvier.

Beginsels is belangrik, maar om Suid-Afrika te vernietig vir ‘n hol oorwinning oor ‘n bejaarde man is verwronge beginsels. Daar is belangriker goed in die lewe as klein seges oor mense van wie se politiek ons nie hou nie. Iewers moet ons menslik raak … vir ons land se toekoms,

Die Konstitusionele Hof se vonnis was ongewoon swaar, soos die minderheidsuitspraak duidelik gesê het. Mense beland gewoonlik nie summier agter tralies vir siviele minagting nie. Oudpres. Zuma het, en hy het ‘n deel van daardie vonnis uitgedien.

Dit gaan werklik nie die einde van die wêreld wees nie as ons genade aan mede-Suid-Afrikaners toon. Dit sal dalk wel vir baie van ons die einde wees as ons hierdie dilemma in ongenade bly benader.

Komaan, pres. Ramaphosa. Die Waarheid doen vandag ‘n ernstige beroep op jou: Doen die slim ding en wys menslikheid, juis hier.

Laat die president wat sonder sonde is, die eerste klip gooi …

One Comment

  • JC Coetzee says:

    CR het van 1994 sy gif versprei in die ANC… toutjies getrek en in in ore gefluister. Sy eie en familie laat bevoordeel deur BEE / AA en kader ontplooing. Hulle sit met die biljoene en wat het Zuma? Zuma was misbruik deur n slinkse CR.

Leave a Reply