Skip to main content

Dirk Lotriet

Die land kou naels in afwagting op die Hoogste Hof van Appèl in Bloemfontein se uitspraak Maandag in oudpresident Jacob Zuma se appèlsaak.

Zuma het die Hoogste Hof van Appèl genader nadat die regter Elias Motonjane in Desember verlede jaar in die Hooggeregshof in Pretoria die Departement van Korrektiewe Dienste se mediese paroolbeslissing tersyde gestel het en beveel het dat hy teruggaan tronk toe. Motonjane het om menslikheidsredes wel verlof tot appèl toegestaan.

Die Grondwetlike Hof het Zuma in Junie 2021 tot 15 maande gevangenisstraf gevonnis vir minagting van die hof omdat hy versuim het om voor die Zondo-kommissie te verskyn.

Groot dele van Suid-Afrika is in reaksie opdie uitspraak in chaos gedompel en meer as 350 mense is dood tydens byna tien dae van wye en ontstellende oproer. ’n Ondersoek blameer skreiende mislukkings deur die polisie en intelligensie-agentskappe vir hierdie onrus wat die land se ekonomie sowat R50 miljard gekos het.

Massas Zuma-ondersteuners sal na verwagting Maandag in Bloemfontein en in KwaZulu-Natal saamtrek, terwyl die SA Weermag reeds op gereedheid geplaas is om die polisie in afwagting op enige geweld by te staan.

Volgens Walter Niedinger, ‘n lid van die Zuma-regspan, is daar vier moontlike opsies vir die Hoogste Hof van Appèl-volbank wat die kernbeslissing moet fel: Hulle kan die appèl handhaaf, of van die hand wys, hetsy eenparig of deur ‘n meerderheidsbeslissing, hulle kan uitspraak voorbehou of hulle kan die huidige paroolvoorwaardes aanpas.

Indien uitspraak voorbehou word, word die tyd wat op die uitspraak gewag word, van die vonnis afgetrek omdat die status quo in hierdie tyd gehandhaaf word. Slegs sowat drie maande van die Zuma-vonnis is nog oor voordat dit later vanjaar verstryk.

Indien die regters besluit om die appèl van die hand te wys, sal oudpres. Zuma hom na verwagting tot die Grondwetlike Hof wend.

Die bekende adv. Dali Mpofu sal oudpres. Zuma verteenwoordig.

One Comment

  • Herman says:

    Ek is nie n politiekus nie. Die God wat ons dien is in beheer van alles. Hy sal ons heil uitwerk ooreenstemmig met Sy plan van vrede vir ons, sodat ons n hoopvolle toekoms kan he.

Leave a Reply

error: Content is protected !!