Candy Benson – Hy sal jou dra
Na ‘n reis vol hoop, geduld, vertroue en baie trane vier die borrelsangeres Candy B nou haar lewe – haar tweede kans – met die uitreiking van haar debuut gospelenkelsnit Hy sal jou dra.
Dié liedjie spreek van diepe geloof dat God jou deur alles sal dra – al gaan jy ook deur die dal van doodskaduwee …
Dit is ook die besef waartoe Candy gekom het nadat sy verlede jaar met Covid-19 gediagnoseer is. Sy het vir drie maande in die hospitaal deurgebring, dié virus het haar pa se lewe geëis; en sy moes van vooraf weer leer loop.
Die dokters het ook gevrees dat sy nie weer ’n noot sou kon sing nie.
Maar tree vir tree, traan na traan, het sy wéér voor die mikrofoon gestaan en die note het sopraansuiwer uit haar stembande gevloei. Haar enkelsnit 7 Dae in die Somer is kort na haar hertoetrede tot die musiekbedryf uitgereik. En die snit is boonop uitstekend deur plaaslike radiostasies ontvang.
Dit het ook dié boodskap wat sy met Hy sal jou dra aan die luisteraars wil oordra: ’n Mens moenie moedeloos word nie, is haar boodskap daarin. Maak nie saak hoe sleg dit met jou gaan nie. God is altyd daar. Hy sal jou nooit verlaat nie.
Candy vertel dat sy nog altyd ’n gospelliedjie wou uitreik, maar dat sy aangeraai is om eerder in die popgenre te bly. “Na my geveg teen Covid-19, het ek besluit om my hart te volg.”
Gelukkig is Candy ’n veelsydige sangeres wat nie net met gemak tussen verskeie note kan rondbeweeg nie, maar ook in verskillende genres en style kan sing. “Daar is nie werklik ’n groot verskil tussen my sekulêre- en geestelike musiek nie,” verduidelik Candy. “Ek probeer altyd ’n positiewe boodskap aan my luisteraars oordra.”
Hy sal jou dra het reeds lank gelede uit haar pen verskyn, maar sy het nou die lirieke afgestof en die liedjie opgeneem om met haar getroue aanhangers te deel. Candy het haarself nog altyd as ’n kind van God beskou en het juis dié snit geskryf om te getuig hoe God haar dra en dat sy nog altyd die grootste vertroue in Hom gehad het.
Sy glo dat die liedjie nou meer van toepassing op haar eie lewe is. “God het my lewe gered en ek is nou nader aan Hom as ooit van te vore.”
Candy vier ook vanjaar haar 27ste verjaarsdag in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf. Sy was net drie jaar oud toe sy vir die eerste keer haar mondjie oopgemaak en begin sing het. ’n Youtube-video waarop sy, as kleuter, I will always love you, sing het al verskeie unieke trefslae gekry.
Binne ’n paar jaar het sy haarself gevestig as een van die bekendste (en gewildste) stemme in die Suid-Arikaanse musiekbedryf.
Candy het nie die afgelope paar maande stil gesit nie. Sy sing weer voor gehore regoor die land, en sy is ook besig om ’n boek oor haar reis met Covid-19 te skryf.
Hy sal jou dra is ’n moet-luister liedjie vir die afsluit van die winter, want elkeen van ons het God se genade en liefde bitter nodig.
Baie interresant en opbouend. Doen so voort.