Skip to main content

Boerdery is geen grap nie. Die boer veg teen natuurverskynsels, die klimaat en markkragte. Maar nou is daar ‘n nuwe bedreiging: gewetenlose likwidateurs. Die Waarheid het gaan gesels met ‘n boer wat baie van sy medeboere in nood bystaan. Hier gee diė boer van Noordwes sy ervaring van die uitdagings waarmee landbouers tans worstel in sy eie woorde.

“Ons is gewoond daaraan dat droogtes, hael, oormatige reën en vloede ‘n onmiddellike negatiewe invloed op enige boer se kontantvloei het. Met die hoë insetpryse wat die boer betaal en in baie gevalle die lae produkpryse wat die boer kry, klop die somme nie altyd nie.

Wanneer ‘n droogte meer as ‘n jaar aanhou raak dit baie moeilik om al die punte bymekaar te bring. As daardie droogte vir sewe of agt jaar en selfs langer aanhou, is die boer onderdeur.

In Suid-Afrika het daar verskeie prokureurs, advokate, regslui, likwidateurs, afslaers – ook genoem jakkalse, wolwe, hiënas en aasvoëls in die volksmond – georganiseerd begin toeslaan op hierdie fantastiese sakegeleentheid. Boere is vandag ook sakemanne wat ondernemings bedryf. Hulle is gewoonlik nie regskundiges nie, hulle is goedgelowige mense wat meestal hierdie regsgeleerdes gerespekteer het.

Prokureurs, advokate, likwidateurs en afslaers maak baie geld uit likwidasies, so daar word saamgewerk en saamgespan om geld te maak. ‘n Verskaffer van saad, kunsmis, produkte en dienste wil nie ‘n groot skuldboek hê nie en indien ‘n boer sukkel om sy skuld by hulle te dek, word ‘n prokureur aangestel om die skuld vinnig in te vorder. Van hierdie prokureurs stamp die skuldenaar uit gulsigheid om en die persoon wat hom aangestel het is gelukkig met hom/haar want hy het sy geld terug. Maar die prokureurs en hulle advokate, likwidateurs en afslaers werk nou saam om die persoon wat in die skuld beland het se totale bates te vernietig sodat hy nog in die skuld is, want dan is hy te swak om terug te veg.

Dikwels pleeg sulke boere selfmoord, hulle skei en is vir ten minste ‘n paar jaar in die grond ingetrap.

Die regsaksie teen hulle maak seker dat die persoon platgeslaan is. Hulle breek die boer af as oneerlik, skelm, onbetroubaar en alles wat sleg is. Sy bates moet opgepas word, anders steel hy dit. Niemand wil eintlik met die vernietigde mens assosieer nie.

Hierdie skuldinvorderingsbesighede het nou ‘n florerende bedryf geword, want wie kan opstaan teen die spesialiste van verwoesting?

Hierdie prokureurs maak vriende in die landboumaatskappye, sakeondernemings, banke en ander skuldeisers.

Daar word reeds van dag een beplan hoe om ‘n boer te verwoes. Hierdie partye gaan hou saam vakansie, en hulle beplan hierdie boere se ondergang deeglik. So kry hulle en verseker hulle dat hulle rykdom se baas is en letterlik kan doen wat hulle wil. Oorsese vakansies, luukse huise, plase, noem dit, hulle het dit …

Die amptenaar by die landboumaatskappy help tog die nuwe aansoeker te vriendelik en hulpvaardig. Die boer dink soms hy kry hulp, maar dan plaas hy hom/haar in so ‘n posisie dat die boer nie ‘n produksielening kry soos gereël was nie.

Die boer moet net die inbetaling doen om sy wentelkrediet reg te kry. Of dit wat vir hom aan die boer kan hou om uit die moeilikheid uit te kan kom, moet verkoop word. Skape, beeste en melkerye word tot niet gemaak. Daar word summier op oeste op die lande beslag gelê en dan sit die boer sonder ‘n inkomste.

Hy kry selfs nie ‘n verslag wat sy oes ingebring het nie, want dit is nie meer sy oes nie. Hierdie amptenaar weet natuurlik eerste die boer is besig om in die moeilikheid te beland en hy laat weet die vriend in die lanboumaatskappye se regsafdeling.

As die boer nog dink hy kom praat met die vriendelike oom wat so hulpvaardig was, is die proses ongelukkig uit daardie man se hande uit. Die regsafdeling of die invorderingsafdeling trek sy prokureursvriend nader en voor die boer weet waar hy is, kry hy briewe, dreigbriewe en dik pakke hofbevele en likwidasiebevele en uiteindelik word ‘n R100 miljoen boedel vir R25 miljoen se skuld tot niet gemaak.

Die jakkalse, aasvoëls, hiënas en kraaie is baie uitgeslape. Hulle uitgawes word eerste gedek uit die verkope van so ‘n sakeonderneming.

Hulle laat daardie rekening deur elke moontlike proses so groei dat daardie rekening in die meeste gevalle oploop na soveel as R50 miljoen. Die bates word totaal verkoop en gewoonlik word daardie R100 miljoen se bate verkoop vir minder as R50 miljoen sodat die gelikwideerde niks het nie.

Al waarvan hy seker is, is dat hy hierdie skurke nog geld skuld. Hulle kan hom die res van sy lewe teister en in die grond intrap. Daarom pleeg baie van die boere en sakemanne wat onder gewetenlose likwidateurs deurloop, selfmoord, hulle skei, hul gesinne is verwoes en die kinders het traumaberading nodig.

En die ouers het niks. Hulle is stukkend en alleen. Niemand wil hulle help nie want hulle kan nie betaal nie. So hulle kan nie meer veg vir hulle regte nie. Dit vat baie van so ‘n mens om weer op te staan en heel te word.

Intussen het hierdie aasvoëls, jakkalse en hiënas hulle vriende wat die plase en sakeondernemings koop. Ek vermoed in baie gevalle het hulle aandele daarin. Hulle swem in die welvaart.

Wat behoort te gebeur? Die kriminele wat geïdentifiseer kan word as deel van hierdie prosesse moet summier uit die samelewing gehaal word, want hulle skade aan die boere en sakeondernemings in Suid-Afrika oortref die finansiële diefstal wat politici in die land gepleeg het, veelvoudig.

Daar sal ten minste drie Zondo-kommissies aangestel moet word om die krisis te ondersoek. Intussen swem die likwidasie-mafia in die geld.

Word wakker, Suid-Afrika, jou mense word verwoes deur georganiseerde misdaad, witboortjiemisdadigers wat aan die kaak gestel moet word! Landbou-unies, kry ‘n ruggraat en staan jou boere by of gaan onder, want julle mis die punt om julle boere te dien. Die borgskappe van die finansiële instansies en landboumaatskappye koop vir hulle die vrypas van onaantasbaarheid.

One Comment

  • Colin says:

    Die korrupsie is so groot dat dit nie aangevat kan word nie. Dit sal dekades neem om die probleem op te los. Ons is, per slot van rekening, in SA. ‘n Hele nuwe bestel is nodig en die oue moet van die tafel afgevee word. Feitlik al die organisasies is, of kop in een mus, of word deur dieselfde groep beheer. Hier en daar flitkker ‘n flou liggie in die oorweldigende dusternis,,,,net om ons aan di9e hoop te hou. Die drenkeling gryp na elke strooitjie…..

Leave a Reply