Skip to main content

 

Isaac Cloete

Waarom is dit nodig dat vroue juis net voor Vrouedagvieringe vandeesweek weer hul stemme teen verkragting moes dik maak?

Só voel die weerlose vroue van Komaggas in die Noord-Kaap nadat hulle hul vuiste moes bal en rondswaai tydens ‘n emosiebelaaide optog op die dorp.

Dit nadat ‘n 14-jarige dogtertjie vermoedelik deur ‘n buitelander verkrag is in een van die winkels hier, volgens polisie-woordvoerder, kapt. Olebogeng Tawana.

Die voorval het Sondagaand halfagt gebeur, het die woedende vroue en ander gemeenskapslede vertel. Een het genoem dat die dogtertjie by die winkel opgedaag het om blykbaar iets te koop. Die eienaar van die winkel het haar toe gevra om na ‘n aparte kamer in die winkel te gaan.

“Hier het ‘n ander buitelander (sy kuiergas) haar ingewag en gegryp. Hy het die deur agter haar toegetrek en haar verkrag.”

Volgens inwoners is ‘n plaaslike dame van Komaggas, wat deel is van die sekuriteit by die betrokke winkel, ook betrokke by die voorval.

Net soos die winkeleienaar het sy alles gesien wat gebeur het, maar niks daaraan gedoen nie. Hulle voel dus dat sy en die huurder van die winkel medepligtig is en ook vervolg moet word.

“Die verdagte het waarskynlik vir die naweek by die winkelhuurder, wat ook ‘n buitelandse burger is, kom kuier,” volgens een van die ontevredenes.

Vrouens het Maandag na die betrokke winkel opgeruk en dit met geweld gaan toemaak. Die polisie op Springbok moes inderhaas na Komaggas gaan om die situasie te ontlont en te moniteer.

Selfs die waarnemende gebiedsbevelvoerder, kol. Schalk Andrews, moes opruk om gemoedere te help kalmeer. Hy het ook ‘n griefskrif van die gemeenskap ontvang.

Andrews het versoek dat die plaaslike raadslid, Amos Palori, tussenbeide moet tree sodat besigheidsure en reëls vir die winkels van die buitelanders vasgestel kan word.

Hy het verder versoek dat die gemeenskap saam met die polisie moet werk sodat euwels, soos dwelmverkope, van veral buitelanders, beveg kan word.

Tydens die vergadering met Andrews het inwoners gekla dat die polisie nie hulle pligte na behore uitvoer nie. Volgens hulle is die Komaggas-polisie deels verantwoordelik dat die wet en orde op die dorpie handuit geruk het.

Cyril Warne, ook ‘n raadslid, het vertel dat dit die derde of vierde keer was dat dames by die winkel deur buitelanders verkrag is.

“Plaaslike eienaars moet nie hul eiendomme aan die buitelanders uitverhuur nie. Hulle moet dus dadelik die huurooreenkomste beëindig.”

Palori het ten slotte beaam dat die gemeenskap gatvol is vir die buitelanders en dat genoeg nou genoeg is. Die inwoners gaan borgtog teenstaan, het die betogers boos geskree.

Die verdagte sal verwagting in die week in die Springbokhof verskyn, volgens Tawana.

Leave a Reply

error: Content is protected !!